Die politieke landskap het as 'n bron van humor vir spotdrywing, gekskeer, grappe en spotprenttekeninge oor politici gedien, en leen sigself nog steeds daartoe.
Genl. J.B.M.Hertzog, 'n Boeregeneraal tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO,1899-1902), en 'n histories bekende politieke figuur, was 'n lid van genl. Louis Botha se eerste Unie-kabinet van 1910. Botha - met sy onrealistiese beleid dat Afrikaners hulle slegs agt jaar ná die ABO met Britse imperialisme moes versoen - en Hertzog - met sy beleid van "Suid-Afrika eerste" en Afrikanernasionalisme - het sodanig gebots dat dié twee leiers se paaie geskei en Hertzog in 1914 die Nasionale Party in Bloemfontein gestig het. Dit was die begin van die Afrikaner se politieke verdeeldheid tussen "Nat" en "Sap" wat oor dekades sou strek.
Natuurlik het die Nat-Sapverdeling sigself geleen tot vele oor-en-weer beskuldigings, maar ook vir humoristiese gespot. Sestig plus jaar gelede vertel my ouma van twee jong seuns - die een 'n Smuts- en die ander 'n Hertzog-ondersteuner - wat handgemeen geraak het oor hul verskille. Uiteindelik beland die Smutsman bo-op die Hertzogman waarop hy die Hertzogman toesnou: "Hertzog onder!", waarop laasgenoemde reageer met: "En varksog bo!".
Wat vandag in SA gebeur, herinner my aan dié stukkie eenvoudige humor soos deur my ouma verhaal. Daar is die kamp gekenmerk deur korrupsie, bedrog, misdaad, moord, verkragting, stakings, armoede en toenemende verval en agteruitgang. Daarteenoor is daar die kamp wat vir presies die teenoorgestelde staan en eersgemelde kamp hand en tand beveg.
Hierdie gepolariseerde SA-scenario laat my dink aan D.J.Opperman se gedig, "Kersliedjie", wat eindig met: "Oor die hele affêre het uit 'n hoek 'n broeis bantam agterdogtig gekloek." Dit verg nie veel humoristiese verbeelding om Nammawaan te sien as die "agterdogtige broeis bantam" met Luthuli Huis en/of die parlement as die "hoek" waaruit hy "kloek" nie. (ngn)