In sy brief, "Biddae vir reën is geloofsdwaling" (DB,21.07), maak Pitout hom skuldig aan ongeoorloofde kontekstuele grensoorskryding, bedoelende daarmee dat hy die Bybelse kontekstuele geloofspelreëls ignoreer en dit onderwerp aan kriteria vanuit die wetenskapskonteks. Dit is ontoelaatbaar. Dit is soos 'n skeidsregter wat, volgens sokkerspelreëls, 'n rugbywedstryd probeer hanteer - absurd en chaoties.
Met sy wetenskaplik kritiese ingesteldheid oor gebede vir reën, sê Pitout dit is "'n geloofsdwaling...
teen die Liefdesgebod in die Bybel...'n kerklike dwaling...(en) onbybels" om te bid vir reën. Om dit te kan beweer, kan ons verwag dat Pitout seker 'n diepgaande kennis van die Bybel sal hê.
Wat sê God egter: "My gedagtes is nie julle gedagtes nie...(maar) bo julle gedagtes" (Jes.55:8-9). Verder sê Hy: Hy ken al ons behoeftes (Mat.6:31-33); as ons bid sal ons ontvang (sonder uitsondering dus ook reën) (Mat.7:7), en Hy gee aan regverdige sowel as onregverdige (Mat.5:45). Jakobus 5:17-18 beskryf 'n tweeërlei gebedsverhoring om reën: die stuur van reën, en die weerhouding daarvan.
Pitout vind 'n geesgenoot in ds. Albert Cruywagen van die NG Gemeente Riebeeckpark in Kempton Park wat, volgens Neels Jackson in Beeld (28.02.11), sê: "Dit het nie vir hom sin om vir reën te bid nie. Hy glo nie dat God in weerstelsels ingryp nie. Daar is groot natuurkragte wat dit beheer." Beide Pitout en Cruywagen skei die Skepper deïsties van Sy skepping en impliseer sodoende 'n God wat Hom aan Sy skepping onttrek het.
Die vraag wat beantwoord moet word, is of Pitout, as aanklaer, nie self aan geloofsdwaling skuldig staan nie. (ngn)