Friday 5 August 2016

Diensleweringsbestuurstyl moet radikaal verander

Met die verkiesingseuforie verby, word verkose raadslede nou gekonfronteer met die daadwerklike realisering van kiesersbeloftes. Deur allerlei realistiese én onrealistiese beloftes, waaronder die uitwissing van ANC-onbekwaamheidspore, is hoë kiesersverwagtinge geskep.

Daar moet spoedeisend 'n ooglopend sigbare, deursigtige en radikale verandering in diensleweringsbestuurstyl intree ter wille van die geloofwaardigheid van verkiesingsbeloftes, die behoud en versterking van kiesersvertroue en  -lojaliteit met die oog op vooruitgang en stabiliteit in ons metropool. Daar moet op álle fasette van ANC-dienslewering verbeter word, soos gehalte, die tydsraamwerk asook 'n groter erkennende ingesteldheid teenoor mense se grondwetlike taalregte.

ANC-rompslomp, navraefrustrasies, nepotistiese aanstelling van onbekwames, eentaligheid en dergelike euwels moet sonder versuim uitgeroei word. Groter sigbaarheid, én beskikbaarheid van raadslede, is ononderhandelbaar; so ook volgehoue kontak met wyksbewoners met wie oorlegplegend vergader moet word   -    met die doel van inligtingskommunikasie en die verkryging van eerstehandse inwonersinsette oor wyksbehoeftes   -   is onontbeerlik vir demokratiese plaaslike regering.

Wyksraadslede en  -bewoners verkeer in 'n wedersyds afhanklike verhouding tot mekaar, 'n waarheid wat die outokratiese ANC geminag het. Kiesers fouteer indien hulle dink dat hulle nou passief kan sit en wag op dienslewering. Hul aanspreeklikheid eindig nie by die trek van 'n kruisie nie. Hulle is deel van 'n vennootskap waarbinne elke vennoot 'n eiesoortige verantwoordelikheid het om demokratiserende dienslewering te laat slaag.

Kiesers het ongetwyfeld inspraak in die bestuur van die metropool deur die verantwoordelikhouding van raadslede. Dié demokratiese kiesersinspraak moet erken, geïmplementeer, uitgebou en versterk word ter wille van 'n gelukkige en harmonieuse samelewingsgemeenskap.

Gelukwense aan al die verkose raadslede. Sterkte toegewens met jul onbenydenswaardige taak vir billike dienslewering aan alle inwoners. Mag die koerswysiging na doeltreffende dienslewering spoedig vir almal sigbaar word.





No comments:

Post a Comment