Ek dink Max du Preez begaan 'n denkfout met sy stelling: "'n Volkslied is vir almal" (DB,30.08). 'n Volkslied - 'n volk-se-lied - is nié vir almal bedoel nie, maar slegs vir die lede van 'n volk wat, histories en andersins gebonde, spontaan daarmee kan identifiseer en toeëien.
"Die Stem" was in wese vroeër, eksklusief, die Afrikanervolk se volkslied waarbinne Engelssprekendes, om staatkundige redes, ook geakkommodeer is; gesing in die amptelike tale van dié tyd: Afrikaans en Engels.
'n Volkslied kan nie in vreemde andermanstaal gesing word nie. Dit is juis een van die probleme van "Nkosi Sikelel' iAfrika" wat slegs vyf van die elf amptelike tale - isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Afrikaans en Engels - bevat en die oorblywende ses buite rekening laat.
'n Verdere probleem met die huidige volkslied: Christengelowige landsburgers vind die nkosi-godheid, met sy oorsprong in die swart Afrikakultuur, wie se seën afgebid word op 'n sekulêre staatsbestel met sy sekulêre grondwet, uiters vreemd en derhalwe baie moeilik, indien nie onmoontlik nie, om daarmee te identifiseer. Soos wat die volkslied nie al elf tale verteenwoordig nie, so is dit ook nie verteenwoordigend van alle gelowe nie.
Die uitdagende oplossing lê daarin om die bestaande volkslied met 'n nasionale lied te vervang wat die belange van die totale SA-burgery, inklusief, akkommodeer, waarmee almal kan identifiseer, en vertaal in al elf amptelike tale. Laat taalgroepe toe om dit, in byvoorbeeld 'n skolekonteks, in die moedertaal te sing en nie in andermanstaal nie. Die elf tale geniet immers gelyke grondwetlike status, en is nie ondergeskik aan mekaar nie. Die sing van die volkslied is nie primêr 'n geleentheid vir taalaanlering nie. Tydens nasionale byeenkomste kan, nadat daaromtrent ooreengekom is, dit in Engels gesing of van taalrotering by sulke geleenthede gebruik gemaak word.
No comments:
Post a Comment