Thursday, 29 September 2016

Die nuwe SA-mensbeskouing en die toekoms

Grondliggend aan heersende en algemene gebeuretendense in SA lê ons mensbeskouing (mb) oor hoe, wie en wat ons as SA'ners is, en waarheen ons onderweg is. Volgens ons mb voed ons op en kweek ook landsburgers daarvolgens.

'n Radikale mb-breuk en  -verskuiwing vind steeds plaas vanaf die ou SA   -   met sy Christelik georiënteerde grondwetaanhef en Christelike onderwyswet, na 'n sekulêre en humanisties georiënteerde grond-  en onderwyswet   -   na die nuwe SA. 'n Nuwe getransformeerde mb is onderskeibaar van die ou SA-mb.

Die vier mees waarskynlike hoofstroom mb's in SA is dié van die sosialisme-kommunisme, liberalisme, animisme en Christendom. Die toename in misdaad, moord, wreedheid, verkragting, korrupsie, stakings, oproer, vandalisering, natuurstroping en  -besoedeling, is alles kenmerkend van die nuwe mb. Vra jouself af: watter soort mens is tot hierdie dinge in staat waarvan oorvol tronke getuig? Is dit die wyse waarop die Homo anargisticus die vraag beantwoord oor wie en wat ons as SA'ners behoort te wees onderweg na 'n nuwe toekomsbedeling?

Geen persoon in 'n beroep óf professie, veral met 'n sterk sosiaal-maatskaplike inslag   -   soos onderwysers, predikante, dokters en verpleegsters   -   kan hul taak sonder 'n mb verrig nie. Tesame met die media is die klaskamer, kansel en politieke verhoë besondere mb-agente, en word almal hedendaags sterk beïnvloed, en ook voorgeskryf, deur die ANC se nasionale demokratiese rewolusie (NDR) waarvolgens landsburgers, deur 'n getransformeerde mb, gekweek moet word.

In die lig hiervan is die kritieke vraag: is dié getransformeerde SA-mb wel van 'n progressiewe of 'n regressiewe aard, en wat hou dit in vir die toekoms?











Tuesday, 20 September 2016

Ons taalgebruik weerspieël ons innerlike

Ek verwys na Corrie Kühn (DB,20.09) se brief. Wat my betref, skryf ek soos wat ek praat. Mense wat my ken, kan dit bevestig. Dit is wie ek is, en ek druk myself konsekwent sodanig uit in beide vorme van taaluiting. Ek dink nie ek hoef enigeen om verskoning te vra, of myself te verdedig, oor my taal-  en skryfstyl nie.

Word ons nie deur ons taal, soos spoelklippe op 'n rivierbedding, verskillend geslyp nie? Waarom dan daarop aandring dat slegs die eie persoonlike voorkeur en taalbehoefte as norm sal geld? My taal-  en skryfstyl blyk vir sommige 'n bedreiging eerder as 'n uitdaging te wees. Is middelmatigheid die maatstaf, en afwykendes dan taalketters wat uitgeban moet word? Word die waarheid van taalomgang op verskillende  -vlakke tot leuen gemaak?

Job 34:3 sê: "Die oor (en ook die oog) toets woorde soos die verhemelte kos proe." Waarom nie ook my reg van keuse tot taaluitdrukking erken sodat dit ook smaaklike "kos" vir my eie "taalverhemelte" kan wees (en dalk ook vir ander) nie? Ignoreer gerus my skrywes as u nie daarvan hou nie, of raadpleeg 'n woordeboek en brei u woordeskat uit. So bou ons, en breek nie af nie; hef ons op, en trek nie mekaar af nie.

Praat Saam (PS) was nog altyd vir my 'n almal akkommoderend, leef-en-laat-leef, vrylik toeganklike meningsuitruilende omgewing. In die lig van die besware teen my skrywes laat dit my wonder of daar diegene is wat graag wil toesien dat hul eie selfsugtige behoeftes as norm en maatstaf vir PS sal dien.

En, nee, Marietjie (DB,16.09), ek het nog niks in Kühn se skrywes gelees wat "aanstoot" gee nie. Doem (DB,17.09) se: "Julle gebruik toiletpapier nes ons gewone mense", vind ek wel in swak smaak en aanstootlik. Ons innerlike self word juis weerspieël in ons taalgebruik.




Wednesday, 14 September 2016

Moenie dié beskawingsnorm prysgee nie

Die dekadente tydsgees word ook deur die "# Must fall"-beweging weerspieël. Corrie Kühn se brief (DB,08.09) suggereer 'n "# Titles must fall" én 'n "# Formality must fall". Op eersgenoemde het ek reeds gereageer (DB,14.09) en wil, sonder enige herhaling, op laasgenoemde reageer.

Kühn merk met genoegdoening "hoe die styfheid en formeelheid...aan die wegsmelt is." Formaliteit is vir hom: "Ag, eina tog!" ; informaliteit: "Lekker!", en "Mevrou Dominee" begin swig voor noemname. So is "Dominee en Dokter ook aan die wankel...Soos dit hoort."

Ek gee Kühn gelyk dat Mevrou Professor Doktor en Mevrou Dominee van vroeër pynlik was vir die Afrikaneroor, maar om nou van die een uiterste na die volgende te beweeg... Indiwiduele norme moet steeds aansluiting vind by bestaande beskawingsnorme; ook vir aanspreekvorme.

Elke persoon se begrensde persoonlike ruimte verdien om gerespekteer te word. Die grense van formele en informele interpersoonlike verhoudings verskil. Moenie formele grense sonder uitnodiging platvloers aggressief oorskry nie. Dié vorm van geweld is onwelkom.

Derrick Fellows (DB,14.09) verwys na regter Goldstone wat reageer het met : "Pardon, but have we met?" op 'n TV-programaanbieder toe dié hom as Richard aangespreek het, 'n goeie voorbeeld van: "Familiarity breeds contempt". Wat 'n verleentheid vir dié aanbieder.

Wees ingelig, gevoelig en respekteer die ongeskrewe spelreëls van aanspreekvorme in, veral, formele kontekste. Hoe ons ander aanspreek, sê iets van ons self. Om 'n dwaas te wees   -   "Fools rush in where angels fear to tread"   -   is 'n keuse; nie 'n opdrag nie. Daarom: moenie eerbiedige aanspreekvorme as beskawingsnorm prysgee nie.           (ngn)






Saturday, 10 September 2016

Heroorweeg beswaar in lig van dié beginsel

In sy brief, "Niemand is bó 'n ander nie, Doktor" (DB,08.09), bevraagteken Corrie Kühn die bedoelinge van skrywers wie se name deur 'n titel vergesel word. Hy sê: "Enkele briefskrywers skryf soms Ds. of Dr. of Prof. voor hul name...vir ons voel dit asof hulle op 'n trappie bokant ons (wil) staan, so asof daar 'n stempel van gesag op hul skrywes is." 

Hieruitvolgend enkele vrae: wie is die "ons" na wie Kühn verwys? Praat hy dalk vir groter trefkrag van homself as "ons"? Vervolgens die vraag na die aard van Kühn se mening: is dit objektief of subjektief? Met "voel" in sy "ons voel", gee hy blyke dat emosie 'n rol speel. 'n Rasioneel-georiënteerde mening, toegelig met relevant stawende voorbeelde, sou ter oortuiging meer gewig dra.

'n Verdere vraag: bedoel Kühn, konteksnegerend, dat alle mense mekaar se gelykes is omdat hy beweer dat "niemand bó 'n ander is nie"? Indien die bedoeling, verskil ek skerp van hom.

In sy betoog verwys Kühn na gesag, 'n kernbegrip. Gesag moet in konteks gesien word. Is daar 'n verskil in gesag tussen 'n generaal en 'n korporaal in 'n militêre konteks? Indien wel, dan is die een mos (gesagsgewys) "bó" die ander, wat meebring dat hulle nié gelykes binne dié konteks is nie. Weerlê dit nie Kühn se: "niemand is bó 'n ander nie"? Soos in die militêre konteks, geld presies dieselfde in 'n legio van kontekste met soortgelyke uitkomstes van vertikale ongelykheid.

Kühn is die eerste persoon wat, in my 14 jaar van deelname met 'n titel aan Praat Saam, daarteen beswaar maak. Ek kan nie namens ander praat nie, maar wat my betref, is dié besware sonder inhoud en ongegrond.

Miskien kan Kühn daarby baat deur, volgens die beginsel van ongelykheid-in-gelykwaardigheid, perspektiefverruimend na sy besware teen die gebruik van titels te kyk.




Thursday, 8 September 2016

US werk met getransformeerde uitnemendheid

In sy, "Diversiteit verhoog uitnemendheid" (DB,07.09), werk prof. Nico Koopman met 'n, vir my, onkonvensioneel ongemaklike inhoudgewing aan die begrip uitnemendheid. Hy omskryf dié begrip as "nie die uitnemendheid van 'n elitegroep nie, maar die uitnemendheid van gewone, gemiddelde mense...uitnemendheid (is) om jou beste te lewer..." Van standaardhandhawing meld hy niks.

Vir hierdie tipe uitnemendheid, anders as waaraan ons gewoond is, is 'n toename in diversiteit noodsaaklik. Vir prof.Chris Brink, voormalige US-rektor, gaan 'n toename in diversiteit gepaard met 'n toename in uitmuntendheid wat hy as 'n "wiskundige werklikheid" beskryf.

Onder leiding van wyle prof.Russel Botman sou die US na uitnemendheid soek in 'n diversiteit van etniese, sosiaal-ekonomiese, kulturele en gender-agtergronde. Onder die huidige US-rektor, prof.Wim de Villiers, wil die US "'n nuwe Afrika-universiteit van uitnemendheid deur diversiteit" wees   -    vreemde oorwegings vir outonome universiteitwees tot nou toe.

Vir my manifesteer uitnemendheid kontekstueel-spesifiek, onafhanklik van diversiteit, en beoordeel volgens kontekstueel-spesifieke kriteria. Koopman en die US werk duidelik met 'n getransformeerde weergawe van uitnemendheid waarbinne die "elitegroep"   -   wat as intellektueel, akademies en skolasties sterk vertolk sou kon word   -   nie plek het nie. Die US bedien homself dus van veranderde boustene vir uitnemendheid.

Dat hierdie getransformeerde uitnemendheid nie primêr akademies gerig skyn te wees nie, blyk uit wat Koopman sê: "noodsaaklike regstellende maatreëls in ons land ly skipbreuk omdat die band tussen diversiteit en uitnemendheid (volgens US-beskouing) verbreek word"   -   volgens my 'n sosialisties-ideologiese benadering tot die universiteitswese eerder as suiwer akademies.

Sou 'n mens dan nie van Koopman en sy akademiese kollegas kon verwag om ook te rapporteer oor die bevindinge van 'n vooraf wetenskaplike ondersoek waarin die praktykwording van dié uitnemendheidsaanname aan toetsing onderwerp is nie? Of is so 'n ondersoek nooit uitgevoer nie?    (ngn)




Friday, 2 September 2016

Dit tref dat Gaum dít miskyk

In " 'Nkosi' bly aangrypend" (DB,01.09), spreek dr.Frits Gaum hom uit ten gunste van die behoud van "die frases in Afrikaans en Engels uit 'Die Stem' (en sê) Dit sal dom wees om daaraan te peuter." Dié Afrikaanse frase wat hy bepleit, handel bloot oor die blou lug, oseane en bergkranse van SA.

Dit verbaas my dat Gaum, as teoloog, nie die verband sien tussen "Nkosi Sikelel' iAfrika"    -   allerweë erken as 'n gebed   -   en soortgelyke gebedsgedeeltes in "Die Stem" nie, soos: "Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou: Skenk ook ons die krag, o Here, om te handhaaf en te hou -" Is hierdie dan nie 'n veel beter gebedsgerigte frase, in aansluiting by "Nkosi Sikele' iAfrika", as dié oor die blou lug, oseane en bergkranse nie? Dit tref dat Gaum dit miskyk.

Sou daar in die toekoms wel enigsins besluit word op die behoud van 'n frase in Afrikaans, soos wat Gaum hom daarvoor beywer, dan behoort dit dié gebedsgedeelte van "Die Stem" te wees. Dit sou nie iets wees waarvoor bakhand gestaan moet word nie, maar 'n regmatige aanspraak daarop op grond van die "Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en -vryhede".

Waarom mag Afrikaanssprekendes, wat in die sing van "Die Stem" hulself beskou het as "Knegte van die Allerhoogste", dan nie ook in hul eie taal in die nuwe nasionale lied tot die Allerhoogste bid nie?  (ngn)