Nie almal deel in die entoesiasme van Vryheidsdagvieringe nie. Bedoel as nasionaal inklusiewe viering, wys die praktyk eerder op 'n eksklusiewe vieringswyse as 'n hoofsaaklik ANC-viering met -toesprake. Ek het begrip daarvoor indien toegegee word dat voor 1994 Republiekdag en Geloftedag in hoofsaak Afrikaner-gedenkdae met -toesprake was waaromtrent ook nie almal gelukkig was nie.
My gebrek aan deelname aan dié dag sentreer nie primêr rondom die ANC se kaping - om verstaanbare redes - van dié dag nie, maar weens die ANC se vernietiging van die vryhede wat die grondwet ook aan minderheidsgroepe toeken.
Die grondwet maak beginselgewys die samelewingspeelveld gelyk vir almal wat regte en vryhede betref. Sedert 1994 stel die ANC egter progressief vryheidsbeperkende maatreëls in op die grondwetlik toegekende vryhede van minderheidsgroepe. So vind ANC-diefstal en -plundering van minderhede se taal-, onderwys-, sport- en ekonomiese vryheid, asook van besit- en eiendomsvryheid, plaas. Is dit iets om op Vryheidsdag met entoesiasme te vier?
Afrikaners se historiese goed-en-bloed opofferende bydraes tot SA se bevrydingstryd teen Britse kolonialisme en imperialisme geniet géén erkenning van ANC-kant nie. Waarom sal ek dus veinsend valslik voorgee dat ek in ANC-vryheidsvieringe deel terwyl ek sienderoë van my grondwetlik toegestane regte en vryhede ontneem word?
Ons talentvolle jongmense, wit én bruin, verlaat SA in hul duisendtalle weens dié vryheidsverlies waaraan hulle onderwerp word. Die ongrondwetlike berowing van ons vryhede lei tot die vraag: hoe vier ons vryheid by gebrek daaraan?