Christian Martin se brief, "Indoktrinasie so oud soos volkere" (DB,11.06), verwys.
Dankie, Martin, dat u in u kritiek, waarop u geregtig is - en ongeag dat ons skerp mag verskil betreffende die ANC - die integriteit openbaar om tussen debat (saak) en debatteerder (persoon) te onderskei. Dit is meer as wat van my felste kritici gesê kan word wat baie duidelik nié oor dié onderskeidingsvermoë beskik nie. Volle krediet hiervoor aan u wat nie die menswaardigheid van diegene, van wie u verskil, aantas nie.
Onlangs lees ek 'n brief van u aangaande 'n kind wat iewers met sy plakkaat sit en bedel het. U het met dié kind gesels, die bewoording op sy plakkaat verander, en só 'n positiewe ingesteldheid by dié kind bewerkstellig. Dit beklemtoon juis u persoon-in-debat.
In u brief erken u die positiewe deur te sê : "...julle indoktrinasie het so goed gewerk dat...selfs van my eie volksgenote, apartheid...as goed en beter beskou." Treffend hiervan is nié, primêr, sommige bruin mense se mening oor apartheid nie, maar die feit dat u na hulle as "my eie volksgenote" verwys. Ek aanvaar dus dat u begrip het oor hoe ek oor my volksgenote voel.
U sluit u brief af met : "Jy (Breitenbach) is nie altyd verkeerd in sekere van jou sieninge nie." Hierdie toegewing verg beslis baie om dit van jou teenstander te sê.
Geeneen van ons kan die verlede ongedaan maak nie, maar kan daaruit leer. Nog minder begeer enigeen 'n terugkeer na 'n ongewysigde verlede. Hóé dié wysiging egter teweeggebring word, is van deurslaggewende belang vir die toekoms van vreedsame naasbestaan in 'n multikulturele samelewing.
Is daar dan níks goeds in die verlede, vir die ANC, waarop die toekoms voortgeset gebou kan word nie?
No comments:
Post a Comment