Freddie se brief, "Engelse, 'joiners' gaan nog boet" (DB,19.06), moes almal wat dit gelees het waarskynlik tot diepe nadenke gestem het. Hy sê: "...ek (het) nie van die Engelse gehou nie, en so sal dit wees tot my dood...(oor) wat hulle aan ons gedoen het..." Die versoeking is groot om ongekwalifiseerd saam te stem.
Onvergewensgesindheid is iets waarmee ons almal die een of ander tyd worstel. En tog, Christengelowiges staan onder die baie duidelike Bybelse opdrag om mekaar te vergewe. Om voor dié opdrag te buig, is seker een van die moeilikste dinge; veral sewentig maal sewe keer.
In die "Onse Vader"-gebed vra ons juis om van ons skulde vergewe te word na die mate wat ons ons skuldenaars vergewe. Aan die kruis vra Christus Sy Vader om Sy moordenaars te vergewe tot voorbeeld vir ons.
Nader aan ons eie tyd gee die Godsman, Bybelvertaler, Psalmberymer en digter - Totius - uitdrukking aan die belangrikheid van vergiffenis in sy "Vergewe en vergeet", 'n tydlose gedig wat juis na die ABO verwys en, derhalwe, die Engelse impliseer.
Ek behoort tot 'n geslag opgevoed deur gelowige Christenouers wat, paslik, troosvolle wyshede aan 'n kindergemoed kon oordra - dikwels in gesinsverband - soos: Die wiel sal draai. God slaap nie. God's meule maal langsaam, maar gewis. God sê aan Hom kom die wraak toe.
Mag ons vergewensloos bly teenoor hulle wat lank gelede dalk reeds deur God vergewe is? Kan ons die dood tegemoet gaan en mense onvergeef agterlaat?
Christus is die Man vir Vergiffenis; Satan nié. Om nie te vergewe nie, is deel van die geestelike oorlogvoering van ons dag. Kom ons vergewe hulle wat ons verontreg het, en put besieling uit ons voorgeslagte wat wél húl vyande kon vergewe.
No comments:
Post a Comment