De Lange se brief, "Maak harte oop vir bruin Afrikaners" (DB,01.06), verwys.
Ten spyte van ons meningsverskille dusver, lei ek uit De Lange se aanvangsin af dat hy oor 'n goeie humorsin beskik. Vir my het 'n gesonde humorsin - nie ligsinnigheid nie - nog altyd geblyk 'n ontlonter van potensiële spanning te wees.
Wanneer De Lange sê : "...ek wil hom (Breitenbach) om verskoning vra indien ek hom te na gekom het", is my reaksie daarop : Dit is slegs deur te vergewe dat óns vergewe word.
Dit is moontlik om te verskil sónder om mekaar se persone aan te val óf menswaardigheid aan te tas. Fokus op die debatsonderwerp, en lug ongehinderd menings binne 'n ruimte waar meningsverskille gerespekteer word.
De Lange kan my reghelp, maar ek vertolk sy briewe - veral die jongste een - as 'n pleidooi vir die identiteitsprysgawe van die Afrikanervolk. Daarteenoor bepleit ek juis identiteitsbehoud sonder die benadeling van enigeen, ook nie bruin mense nie. Indien De Lange meen Afrikaner-identiteitsbehoud benadeel bruin mense, moet hy verduidelik hóé.
Om sy standpunt te versterk, maak De Lange dié stelling : "Die meeste wit Afrikaners...het ook maar gekleurde bloed in hul are." Ek verwerp hierdie stelling as histories geheel en al onwaar, misleidend én gevaarlik. Ek verwerp nie De Lange nie; net sy stelling. (Sien H.F.Heese se boek : Groep sonder grense. Let wel : gróép, nié vólk nie!)
Ek is nie bereid om enige toegewings te maak ten opsigte van my standpunt nie; so veronderstel ek voel De Lange ook oor sy standpunt. Nie ek óf De Lange is voorwaardes vir dié debat nie. Ons sal lank nie meer daar wees nie, dan sal dié gesprek steeds voortgaan.
De Lange, kom ons kom ooreen om vrylik van mekaar te mag verskil sonder om mekaar se persoonwees te skaad.
No comments:
Post a Comment