Saturday, 28 April 2012

Om te lees óf nie te lees nie

Morty (DB,28.04), dit is jou demokratiese reg om te verskil van die menings van ander, én hulle van jou. Jy vind dit nodig om 'n beroep op "Die Burger" te doen met jou versoek van "wees meer selektief" teenoor my skrywes. Waarom? Wil jy daarmee ander se meningsvryheid inperk en beperk tot jou eie meningsraamwerk? Dit is tog seker nié demokraties-korrek om ander se menings manipulerend om te buig  en/of stil te maak ten einde in te pas in die eie meningsraamwerk nie? Kan jy daarom, met reg, van "Die Burger" verwag om jou in jou meningsonverdraagsaamheid te ondersteun? Indien jy 'n kontra-mening het, waarom stel jy dit nie hier in openlike debatvoering nie? By gebrek daaraan laat jy lesers net wonder óf jy wel oor 'n eie mening beskik.

Dawie (DB,26.04) se welkome kommentaar op my skrywes herinner my aan Eugéne Marais se "Skoppensboer"-gedig waarin hy sê: " 'n Druppel gal is in die soetste wyn...in elke roos 'n dowwe blaar." Hy het dit teen my skryfstyl (hoogdrawend), die resultaat van 'n veertigjaarlange beïnvloeding in 'n sekondêre en tersiêre onderwysomgewing. Vir my skryfstyl   -   en ek gun jou joune   -   vra ek nie voor om verskoning nie. Dat jy dit dalk nie maklik vind nie   -   soos vele gemaksugtiges wat alles maar altyd "maklik" wil hê   -   daaroor is ek jammer. Nietemin, die onus op leesstofkeuse berus egter by jouself. Om te lees óf nie te lees nie, blyk dus die vraag te wees.



Friday, 27 April 2012

'n Predikantebeeld wat loshande mag wen

Stefan Olivier (DB,26.04) sê dat, volgens my, "moet die dominees gemeet word aan hul preke (primêre doel)." Ja, aan preke ook, maar beslis nié nét dááraan nie. Hoeveel van die 168 weeksure neem preekmaak en -lewering in beslag, en die oorblywende ure? Nee, Olivier, die verskraling van die "primêre doel" tot slegs preke, is jou foutiewe afleiding; nie myne nie. Ek het duidelik gesê die Bybel   -  in sy geheel   -  is my maatstaf.

Olivier sê: "...hulle (predikante se) primêre doel (preke) is fantasties." Toegegee, maar die vraag is óf hulle hierdie "fantastiese doel" wel so doel-"tref"-end tref, want, sien, ek mag 'n "fantastiese doel" hê, maar dié doel nooit "tref" nie; wat lei tot niks.

Soos elke ander persoon, het ook die predikant 'n openbare beeld, en nou moet ons nie gerieflikheidshalwe vergeet dat hy gekiés het om 'n besondere openbare "beelddraer" te wees nie. In dié verband skryf Olivier oor twee gemeentepredikante; ek oor predikante in die algemeen.

Olivier vra of hy 'n "sekondêre" (in die openbaar) biertjie saam met predikante mag drink. Dis nié die vraag nie; ruil die rolspelers om in jou vraag   -   dis die vraag! My antwoord: Ek kan, mag, wil, durf géén dominee hierin voorskryf nie; dit doen die Bybel wel. In die lig van: "Ek wil nie my broer se val veroorsaak nie" (1 Kor.8:13), dink ek nie hy behoort in die openbaar te assosieer met drank nie, die simbool van sóveel ellende, verwoeste lewens en gebroke huisgesinne. Onderskat dus nooit die mag van die voorbeeld nie.

Ek vermoed dat in 'n lidmaatpeiling oor dié kwessie, Olivier se predikantebeeld waarskynlik loshande sal wen.




Monday, 23 April 2012

Meet jou dominee aan kernmaatstaf

Daar blyk 'n behoefte te wees aan 'n gesprek oor moderne predikantwees. Lidmate met verkeerde (on-Bybelse) verwagtinge van dominees vorm 'n belangrike deel daarvan. Dis duidelik sommige begryp nié sy (Bybelse) kernfunksies nie, daarom word randfunksies vir laasgenoemde aangesien. Ook sommige predikante sélf mag hierin fouteer. Sommige lidmate het 'n wanperseptueel grenslose vertroue in hom as foutloos in alles; derhalwe is hy verhewe bo kritiek.

Twee kriteria dusver deur skrywers aangelê vir hul dominee, is sigbaarheid en betrokkenheid. Korrek so, maar wáár sigbaar, wáár betrokke? Botha (DB,19.04) sien dit in die skool, gholfbaan, langs die sportveld en hy hoef nie te "small talk" nie. Stef Olivier (DB,21.04) sien dit in sportdagbywoning, geselsies in 'n sosiale Spar-omgewing, teetuinbesoeke, as straatverwer en wedder (?) teen die gemeente (die motief?)

G.Holm (DB,20.04) sê: "Predikante het hopelik gehoor gegee aan 'n hoër stem...", maar toets gemeentelede werklik hul leraar hieromtrent? Holm plaas die vinger op die wond met sy verwysing na " 'n hoër stem", maar met sy "hopelik" plaas hy egter twyfel en 'n groot vraagteken daaragter. Die vraag is: Is dit die primêre rolle/kernfunksies wat Jesus aan herders en leraars van Sy kudde toeken soos deur Botha en Olivier, slegs in sosiale konteks (sekondêr), uitgespel? Wat dan van die geestelike kernkonteks waarbinne hy Christus se laaste opdrag, om verloregaandes bekerend tot Hom te lei, gehoorsamend moet uitvoer? Waarom nie jou dominee eerder aan dié kernmaatstaf meet nie?

Friday, 20 April 2012

Los emosie uit gesprek oor predikante

Ek vind Elize Botha (DB,19.04) en J.le Roux (DB,17.04) se botsende beskouinge van dieselfde predikante geensins vreemd nie. Ek neem Botha se pleidooi, "predikante is ook maar net mense"   -   in haar kritiek teen Le Roux   -   tot vertrekpunt. Dié uitspraak moet, met vollediger implikasies, na die beroepslewe deurgevoer word.


Soos 'n geneesheer en onderwyser, van wie ons standaard dienslewerings-verwagtinge koester, word dieselfde ook van predikante verwag. Weer, soos die dokter/onderwyser,kan ook die dominee nié ontsnap aan die beroepspesifieke kriteria waaraan hy beoordeel moet word nie. Noem dit "redelike verwagtingskriteria" geldend vir die dominee, of, moet hy anders behandel word? Indien wel, waarom?

Die beroepswêreld word, onteenseglik, gekenmerk ook deur disfunksionele beroepsbeoefenaars   -   disharmonie tussen persoon en beroep   -   waaronder ook predikante. Dit is hoegenaamd geen geheim nie. Beroepsdisharmonie bevat risikofaktore soos die fout- en skadefaktor. Die disfunksionele snydokter se skade is onmiddellik sigbaar ná 'n mislukte operasie; dié van die disfunksionele onderwyser sigbaar in 'n swak jaar-eindrapport. En dié van die disfunksionele predikant? Hoe lyk sy skade-omvang?

Sal Botha van die disfunksionele dokter/onderwyser maar net sê: "Ook maar mens", wanneer dit haar persoonlik ernstig nadelig sou raak? Indien nie, hoe kan sy Le Roux kritiseer vir sy persoonlike predikante-ervarings? Stadig dus met kritiek op grond van u eie subjektiewe ervarings. Waak daarom teen emosie, en pas objektiewe beroepspesifieke kriteria toe in u oordeel.

Wednesday, 18 April 2012

Moderator sê NG Kerk betree nuwe bedeling

Wanneer jy lees van die kommerwekkende tendens van Christelike kerke wêreldwyd se medewerking na 'n geïdealiseerde eenwêreldkerk   -   internasionaal sowel as plaaslik   -   veral teen die agtergrond van die Bybel se eindtydprofesieë, dan besef jy toenemend dat die versnelde transformasietempo binne die NG Kerk óók daarmee verband hou.

In sy artikel, "Nuwe bedeling en nuwe lewe" (Beeld,15.04), is prof. Nelus Niemandt, NGK-moderator, heel opgewonde oor dié transformasie na 'n nuwe kerklike bedeling. Hy beklemtoon veral die begrippe "nuwe bedeling", "vorm", "voortekens" en "plekke". Niemandt sê: "Ons staan op die drumpel van 'n nuwe bedeling...'n transformasieproses waar die Christelike geloof 'n nuwe vorm aanneem (waarvan) Christene die voortekens...op verskillende plekke (kan) sien deurbreek."

As voorbeelde van plekke waar voortekens van die getransformeerde geloofsvorm reeds sigbaar deurbreek, sê Niemandt: "Ek is oortuig dat die kerk...die taal van die (evolusionistiese) wetenskap sal omhels", en nié meer, primêr, die toenemend gediskrediteerde Bybel nie. "Ons sien al hoe meer vrugbare kritiek oor die lewe en skepping"   -    in teenstelling met Bybelse waarhede.

Hy sien dat "...'n baie groter sensitiwiteit aan die ontwikkel is vir gesonde verhoudings (as) die belangrikste vorm van sosiale kapitaal (want) waarheid is te vinde in verhoudings"   -   terwyl Jesus sê Hy is die waarheid. Hiermee word ook die twee gebooie waarna Mat.22:37-40 verwys, omgeruil. Verder beweer Niemandt: "Christene se beheptheid met die kerk gaan op die agtergrond skuif." Hy verwys na die voorafgaande as "...die geboortepyne van hierdie nuwe bedeling" wat op 'n merkwaardige wyse juis Jesus se profetiese woorde in Mat.24:8 vervul.                  (ngn)




Sunday, 15 April 2012

Hollandse windmeul 'n kultuurinspirasie

Paasnaweek bied geleentheid om, DVD-gewys, ons 2011-Europese toer te herleef. Ek staan weer op die boonste platform van 'n Zaandamse windmeul na die omgewing en kyk. Danie Niehaus se liedjie, "dis wolke, wind, dis water", word werklik.


Dis verstommend wat die Nederlanders met beperkte hulpbronne en grondgebied vermag in hul ewigdurende stryd teen die see. Die komplekse houtratwerk van die windmeul; dyke-, kanale- en sluisestelsel; klompe-, kaas- en Delftsebedryf; skeepsbedryf van 'n vroeër roemryk seevarende volk, en vele meer prestasies getuig van die hoë lewenstandaard van 'n vooruitstrewende volkskultuur   -   algemeen kenmerkend van Wes-Europa.

Hoewel van Afrika, is ek histories gebonde aan die Europese kultuur. 'n Europese besoek voel soos 'n tuiskoms. Afrikaans, my moedertaal, bestaan uit hoofsaaklik Nederlandse boustene. Die werklikheid van my persoonlike kultureel-tweewêreldse bestaan tref my net daar. Die besef van kultuurwêreldlike verskille laat my wonder hoe S.A. sónder Europeërs sou lyk (géénsins rassisties bedoel). Die TV2-program, "Voetspore", bied één antwoord.

Soos swartes, én gekleurdes, kan ook wittes hul kulturele herkoms nié verloënend ontken nie. Valse aannames oor kultuurblindheid en -neutraliteit degradeer mense as kultuurwesens. Sommige wittes vind dit derhalwe, vanuit 'n kultuuroogpunt, soms moeilik om hulself in die omgewing van twee wêreldkulture   -   met verskillende kultuurstandaarde   -   te bevind. Net daar word die Hollandse windmeul 'n inspirerende simbool om tuis my kultuureie méér te waardeer.

Thursday, 12 April 2012

Wil nie beriggewer kritiseer of ontstel nie

Ek vind die sterfberig, "Ons vriend en Br. Skielik bevorder na die Groot Losie daarbo" (DB,11.04), buitengewoon. Die begrip "losie" pas, onder meer, ook in die Vrymesselary-konteks waarvan Albert Pike   -   drie en dertigste-graad lid, gewese VSA-vrymesselaarshoof en medebeplanner van drie wêreldoorloë   -   in sy "Instructions"   aan die "Supreme Councils of the World" (14-07-1889) duidelik laat blyk dat die boonste vier grade van die Vrymesselary openlik vir Lucifer aanbid en God Drieënig uitsluit. Ek wil die berigplaser nóg kritiseer nóg ontstel, dog die voorgemelde plaas die begrip "Groot Losie" beslis in anti-Christelike konteks.

Monday, 9 April 2012

Kan P.F. homself hiermee vereenselwig?

P.F. se jongste twee skrywes (DB,02.04/09.04) het betrekking. Daarvolgens blyk hy 'n opportunistiese leunstoel-idealis; ANC-beeldpoetser en iemand vir wie jy moet sê: "Welkom in Jerusalem ("nuwe S.A."), vreemdeling (P.F.) !", te wees. Hy pleit, implisiet, vir "meld aan en buk vir nog méér".

In sy eerste skrywe (DB,02.04) pleit P.F. vir "skouer-aan-die-wiel-sit". Het P.F. hom al vergewis òf daar wel nog "skouers" en "wiele" oorgebly het? In sy tweede skrywe (DB,09.04) vra hy   -   baie verdienstelik, dog uiters onrealisties   -   dat ons, saam met hom, "weer begin lewe in die nuwe S.A." sonder om te sê hóé "die dooies opgewek" moet word. Het hy hoegenaamd 'n idee van die gesteldheid van verarmde, werklose en hooplose wit Afrikaners, en hoe armblankes op sy pleidooie sal reageer?

P.F. klink soos die spreekwoordelike "beste stuurman aan wal". Hy self word sekerlik nié geraak deur die skrapnel van die "nuwe S.A." wat ook duisende werklose wittes in plakkerskampe laat versamel; verwaarloosde kinder-, bejaarde- en siekesorgbehoewendes; ons buitelands-uitgeweke jeug; ens. sonder einde tref nie.

P.F. is geregtig op sy mening; so ook ek. Ek kan sy analise van die Afrikanerverlede nie ten volle ondersteun nie. Van baie groter belang is egter die toekoms ook van wit Afrikaners. Daarvoor blyk sy pleidooie alleen onrealisties te wees. As voorwaarde vir sy welmenende pleitbesorg geld egter die onvoorwaardelike terugkeer na geloof in die Drieënige God; nié in 'n gewaande ANC-utopie nie. Kan P.F. homself hiermee vereenselwig?           (ngn)




Saturday, 7 April 2012

Skryf dàn maar ikabod oor dié kerknaam

Anoniem (DB,05.04) wys op die "onheilige kontrak" in die NG Kerk waarvolgens predikante met die Groot Vyf   -   status, sekuriteit, lewenstandaard, gesin en loopbaan   -   vergoed word in ruil vir dienslewering waaromtrent "...niemand weet waarmee die predikante hulle besig hou nie."

Selfs die Engelse pers vind die NG Kerk nuuswaardig. "Mail & Guardian" (05.04) berig onder die opskrif: "The slow and steady death of the Dutch Reformed Church" , oor agteruitgang in dié kerk waarvoor apartheid   -   volgens Jean Oosthuizen van "Die Kerkbode"   -   te blameer is. Dit is onwaar, en word as skynrede voorgehou vir wat werklik binne die NG Kerk self aan't gebeur is waarvolgens daar agter die tot-vriend-gemaakte wêreld ingeval word.

Kerklike denominasies weerspieël bepaalde Christelike tradisies. Die NG Kerktradisie het 'n duidelike paradigmaskuif ondergaan en sy suiwere geloofsbasis begin prysgee vir onbybelse "wetenskaplik"-onderlegde modernistiese en post-modernistiese "geloofsraamwerke". Dié kerk is besig om sy lank gevestigde lewens-, wêreld-, mens-, Skrif- en Godsbeskouing te transformeer tot 'n "nuwe" geloofs- en kerkbeskouing.

Die Bybel word gediskrediteer (waarhede tot "mites" gemaak) én gekorrupteer (deur nuwe vertalings) met onvermydelike implikasies vir kerkwees. Die sogenaamde "nuwe verstaan" van die Bybel stuur dié kerk op 'n geloofsbesoedelende liberale en evolusionistiese dwaalweg waar geloof moet plekmaak vir wetenskap. Tensy dit spoedig tot die onveranderlike Bybelse geloofswaarhede terugkeer, kan ikabod maar oor dié kerktradisie se naam geskryf word.




Tuesday, 3 April 2012

P.F. is 'n slagoffer van ANC-propaganda

Te oordeel aan sy skrywe (DB,02.04), blyk P.F. 'n slagoffer van die ANC se skuldgevoelwekkende propagandaveldtog teen wittes te wees deur   -   veral Afrikaners   -   te blameer vir alles wat verkeerd loop. Só regverdig die ANC sy mislukkings.

P.F. beweer: "Ons kruip weg agter die hervertolking van die geskiedenis...", 'n geskiedenis wat hy, doeldienlik, slegs terugvoer tot die voorafgaande referendum tot die "nuwe S.A.". Die kompleksiteit van die voorafgaande historiese ontwikkelinge ignoreer hy volkome. Dit maak sy bewerings derhalwe aanvegbaar.

As misleide slagoffer van ANC-propaganda is die "nuwe S.A." vir P.F. "...onberekenbaar beter as die 'ou' S.A.   -   ekonomies, staatkundig, polities, globaal en op alle lewensterreine." Hierdie is 'n voorbeeld van 'n aanvegbare stelling.

P.F. werf steun vir "...'n ware demokratiese Suid-Afrika..."   -   baie lofwaardig. Deur egter die huidige ANC te ondersteun, sal hy nié dié steun verkry nie; daarvoor word ANC-"demokrasie" gekenmerk deur nepotisme, kleptomanie, mediokriteit, erge korrupsie en dergelike meer demokraties-vyandige eienskappe.

P.F. se gebrek aan realisme en gebalanseerde oordeel spreek uit die totale afwesigheid van enige kritiek teen ANC-geldverkwisting, korrupsie en selfverryking ten koste van die verontregte verder verarmende armes. Vir dié ANC-"demokrasie" vra P.F. ons om "skouer aan die wiel te sit". Hiervoor moet 'n totale ANC-ommekeer na die aanvaarding van ware demokrasie eers plaasvind. P.F. is duidelik 'n slagoffer van ANC-propaganda.              (ngn)