Ek vind Elize Botha (DB,19.04) en J.le Roux (DB,17.04) se botsende beskouinge van dieselfde predikante geensins vreemd nie. Ek neem Botha se pleidooi, "predikante is ook maar net mense" - in haar kritiek teen Le Roux - tot vertrekpunt. Dié uitspraak moet, met vollediger implikasies, na die beroepslewe deurgevoer word.
Soos 'n geneesheer en onderwyser, van wie ons standaard dienslewerings-verwagtinge koester, word dieselfde ook van predikante verwag. Weer, soos die dokter/onderwyser,kan ook die dominee nié ontsnap aan die beroepspesifieke kriteria waaraan hy beoordeel moet word nie. Noem dit "redelike verwagtingskriteria" geldend vir die dominee, of, moet hy anders behandel word? Indien wel, waarom?
Die beroepswêreld word, onteenseglik, gekenmerk ook deur disfunksionele beroepsbeoefenaars - disharmonie tussen persoon en beroep - waaronder ook predikante. Dit is hoegenaamd geen geheim nie. Beroepsdisharmonie bevat risikofaktore soos die fout- en skadefaktor. Die disfunksionele snydokter se skade is onmiddellik sigbaar ná 'n mislukte operasie; dié van die disfunksionele onderwyser sigbaar in 'n swak jaar-eindrapport. En dié van die disfunksionele predikant? Hoe lyk sy skade-omvang?
Sal Botha van die disfunksionele dokter/onderwyser maar net sê: "Ook maar mens", wanneer dit haar persoonlik ernstig nadelig sou raak? Indien nie, hoe kan sy Le Roux kritiseer vir sy persoonlike predikante-ervarings? Stadig dus met kritiek op grond van u eie subjektiewe ervarings. Waak daarom teen emosie, en pas objektiewe beroepspesifieke kriteria toe in u oordeel.
No comments:
Post a Comment