P.F. se jongste twee skrywes (DB,02.04/09.04) het betrekking. Daarvolgens blyk hy 'n opportunistiese leunstoel-idealis; ANC-beeldpoetser en iemand vir wie jy moet sê: "Welkom in Jerusalem ("nuwe S.A."), vreemdeling (P.F.) !", te wees. Hy pleit, implisiet, vir "meld aan en buk vir nog méér".
In sy eerste skrywe (DB,02.04) pleit P.F. vir "skouer-aan-die-wiel-sit". Het P.F. hom al vergewis òf daar wel nog "skouers" en "wiele" oorgebly het? In sy tweede skrywe (DB,09.04) vra hy - baie verdienstelik, dog uiters onrealisties - dat ons, saam met hom, "weer begin lewe in die nuwe S.A." sonder om te sê hóé "die dooies opgewek" moet word. Het hy hoegenaamd 'n idee van die gesteldheid van verarmde, werklose en hooplose wit Afrikaners, en hoe armblankes op sy pleidooie sal reageer?
P.F. klink soos die spreekwoordelike "beste stuurman aan wal". Hy self word sekerlik nié geraak deur die skrapnel van die "nuwe S.A." wat ook duisende werklose wittes in plakkerskampe laat versamel; verwaarloosde kinder-, bejaarde- en siekesorgbehoewendes; ons buitelands-uitgeweke jeug; ens. sonder einde tref nie.
P.F. is geregtig op sy mening; so ook ek. Ek kan sy analise van die Afrikanerverlede nie ten volle ondersteun nie. Van baie groter belang is egter die toekoms ook van wit Afrikaners. Daarvoor blyk sy pleidooie alleen onrealisties te wees. As voorwaarde vir sy welmenende pleitbesorg geld egter die onvoorwaardelike terugkeer na geloof in die Drieënige God; nié in 'n gewaande ANC-utopie nie. Kan P.F. homself hiermee vereenselwig? (ngn)
No comments:
Post a Comment