In sy "SA behoort aan almal" (DB,31.07), wys Corné Mulder op Nkosazana Dlamini-Zuma se stelling "dat minderhede by die meerderheid moet aansluit en ophou dink hulle verdien 'aparte en spesiale' behandeling." Mulder is reg wanneer hy sê dit "getuig van arrogansie en tipiese meerderheidsdenke", terwyl geen minderheidsgroep hoegenaamd meer vra as wat grondwetlik toelaatbaar is nie.
Met Dlamini-Zuma se uitspraak word die politieke onverdraagsaamheid en demokratiese onvolwassenheid van die ANC weer eens beklemtoon. Sy politieke dominansie ten spyt, manifesteer die ANC sigself as voortgesette bevrydingsbeweging wie se magshonger aan onversadigbaarheid grens.
Mulder is korrek met sy bewering dat die ANC hopeloos met nasiebou misluk het. 'n Regering wat nasionale belang voorop stel laat nie toe dat handboektekorte, en so laat in die skooljaar, nasionale afmetings aanneem nie, en hou ook nie vol met die herhaalde aanstelling van beroepsvreemdes as mislukking gedoemde polisiehoofde nie - beide voorbeelde van eiebelang bo nasionale belang.
Vir die ANC gaan dit primêr om ANC-solidariteit soos uitgedruk in party-politieke eenheid en nié om nasionale eenheid nie, kortsigtige kenmerk van 'n bevrydingsbeweging. Eiebelang staan voorop met minderheidsbelange sekondêr; vandaar Dlamini-Zuma se stelling.
Die ANC sal hom dit beslis laat welgeval sou hy as leier van 'n eenpartystaat kon regeer. Om ons teen die diktatuur van die magsugtige en wraaklustige Malemas te vrywaar, is waarskynlik een van die mees kritieke rolle wat minderheidsgroepe - in terme van wat die grondwet hulle toelaat - te speel het. Hierdie voorkomende rol durf minderheidsgroepe nooit prysgee nie.
Die goue gans-minderheid , wat die grootste deel van die belasting betaal, se geld is goed genoeg om links en regs uit te deel en dikwels op baie onverantwoordelike wyse te spandeer. Mens wonder wat sou gebeur as belastingbetalers aandring op 'n pro rata deel van hul ingesamelde belasting?
ReplyDelete