Monday, 25 February 2013

Jansen sluit sy oë vir moordwerklikheid

In sy artikel, "Koerante moet nie haat kweek" (DB,19.02), beskuldig prof. Jonathan Jansen 'n Bloemfonteinse Afrikaanse dagblad daarvan dat dit "bykans elke dag...op die voorblad berig oor 'n aaklige moord...(en) dat die mense wat sterf, hoofsaaklik wit Afrikaanse name het." Hy beskuldig dié koerant dat "hierdie sterfte-beriggewing koerantverkope verhoog", en verwys daarna as "die etnifisering van beriggewing"   -   wat 'n ernstige aanklag! (Kan Jansen dit substansieer?)

Prof. Gregory Stanton van die VSA, president van die internasionale waghond-organisasie, "Genocide Watch", het in 'n voordrag   -   "The Eight Stages of Genocide"   -   gelewer in Augustus 2011, daarop gewys dat die waarskuwingsvlak met betrekking tot moorde op wittes in S.A., vanaf vlak vyf na vlak ses verhoog is op grond van die toename in moorde op wittes. Bydraende faktore tot dié moorde is die vuurwapenwet waardeur talle persone effektief ontwapen is, sowel as die afskaffing van die kommandostelsel vir burgerlike beskerming op die platteland. Die ANC weier om plaasmoorde tot 'n prioriteitsmisdaad te verklaar. Naasbestaandes van dié moordslagoffers wend hulle tot die internasionale gemeenskap met die hoop dat vanuit dié oord druk op die ANC-regering geplaas kan word. Van hierdie inisiatief sê Jansen: "Meer as een idioot het dié redenasie na regses in Europa...geneem."   -   wat 'n verguisende opmerking!

Jansen verwerp "Genocide Watch" se bevinding wanneer hy sê dat "die wit Afrikaanse jeug tot die gevaarlike gevolgtrekking kan kom dat daar...(n) gekoördineerde aanval op wit Afrikaanses is."   -   wat 'n werklikheidsontkennende bewering! Jansen sal egter vind dat 'n kategoriale ontleding van akkurate moordstatistiek 'n eie verhaal vertel, dog niemand is so doof en blind as hy wat nie wil hoor óf sien nie. Dit geld ook Jansen wat sy oë sluit vir die werklikheid.                        (ngn)




Wednesday, 20 February 2013

Kan die ANC ideologies transformeer?

Ek vind aansluiting by Lucinda (DB,11.02) wat sê: "Hierdie land se regering sal homself moet regruk, want die stelsel stel ons teleur." Die vraag is: Kan die regering homself "regruk" deur ideologies te transformeer soos wat ons demokratiese grondwet van hom vereis? Realisties beskou, lyk dit baie onwaarskynlik.

Ons beoordeel, met reg, die regering in terme van ons demokratiese grondwet. Wat ons egter vergeet, is dat Afrika   -   waarvan ons deel is   -   in sy wesenskern sosialisties is met sterk aanklank by die kommunistiese stelsel. Dit plaas die ANC-regering voor die uitdagende verpligting om 'n ideologiese transformasie te ondergaan vanaf sosialisme-kommunisme na westers-georiënteerde demokrasie   -    'n afleer-aanleerproses. Dit is geen geringe saak wat oornag sal geskied nie, indien dit ooit wel sal gebeur. Selfs ons huidige grondwet is géén waarborg vir suksesvolle transformasie nie. Ons fouteer indien ons dit nie besef en erken nie.

Oor die suksesvolle verloop van hierdie transformasie is daar by minderheidsgroepe enersyds begrip, dog andersyds groot onsekerheid. Dat daar in ANC-geledere groot spanning en verdeeldheid bestaan oor dié grondwetlik vereiste ideologiese skuif van sosialisme-kommunisme na demokrasie, is vir almal duidelik. Met simptome soos die nie-ingryping in plaasmoorde, grensvervaging tussen staat en politieke party, langvingers in die staatskas, voortgesette rewolusie en die dreigende swaard van nasionalisering van myne en landbougrond, lyk dit asof die pendulum sterker swaai in die guns van sosialisme-kommunisme as die demokrasie.

Is ons nie onrealisties om die onmoontlike van die ANC te verwag om   -   met die beste wil ter wêreld en in die kortste moontlike tyd   -   tot 'n ware demokrasie te transformeer nie? Vir my lyk dit of Lucinda se "regruk" van die "regering" verwys na hierdie grondwetlik-gedwonge ideologiese transformasie-eise aan die ANC wat veel meer gekompliseerd is as wat dit op die oog af mag voorkom.




Monday, 18 February 2013

SA karakterbeeld ernstig bevraagteken

In haar "Baie woorde, bloedmin dade" (DB,12.02) sê Rhoda Kadalie: "...in die lig van die voortdurende afwaartse spiraal van ons morele karakter is ek nie meer geskok oor waartoe ons in staat is nie." Jan Rabie (DB,13.02) sê: "Ek is skaam vir Suid-Afrika. Hierdie land is in murg en been, in wese, in  moraal en in die siel verrot...geen hoop vir die toekoms met dié regering nie." Jannie Kemp (DB,14.02) sê: "Daar word spot gedryf met die president... hy (is in my oë) 'n skande, en ek skaam my om te sê hy is my staatshoof." Watter ernstige aanklagte word hiermee nie ingebring teen ons nasionale karakterbeeld   -   waarvan Zuma en die ANC primêre boustene is   -   nie.

Ons US-studentejare onder die leuse Pectora roborant cultus recti   -   'n goeie opvoeding versterk die inbors/karakter   -   het die waarheid van karaktervorming deur opvoeding en onderwys skerper omlyn. Die implikasies vir karaktervorming deur ons mislukkende onderwysstelsel is daarom voor die hand liggend. Die karakterbegrip het verdwyn.

As indiwidue, kultuurgemeenskappe en volke is ons van ons vroeëre karakterideale gestroop en ingesuig binne die rewolusionêre karakterbeeld van die homo corrupticus. Soos die simboliese feniks verrys ons nuwe nasionale karakterbeeld   -   soos uitgewys deur Kadalie, Rabie en Kemp   -   uit die as van die vorige.

Pres. Zuma en die ANC plaas ons nasionale karakterbeeld onder ernstige verdenking. Kan Zuma homself, as simbool van ons nasionale karakter, daarvan distansieer? Dit verg sy, en die ANC se, ernstige besinning oor SA se huidige posisie in die internasionale galery van nasionale karakterbeelde, en die vraag mag selfs ook gevra word óf ons internasionale beeld verbeter of verswak het sedert 1994.






Wednesday, 13 February 2013

Vars briesies van SA-omgewing is skaars

Dankie, Laetitia, vir jou vriendelike opmerking: "Dr Breitenbach se nuwe lighartiger skryfstyl is 'n vars briesie" (DB,13.02). Onseker van die trefwydte van jou bedoeling, vertolk ek dit as van toepassing op beide myself én Brieweblad. Jou verwysing na "lighartiger" is in die kol; want so was dit juis die bedoeling. Die ironie   -   indien nie tragiek   -   is egter dat die "materiaal" van dié "lighartiger" skrywes vanuit reiservaringe in die buiteland kom; nié SA nie.

Ek dink graag in terme van beeldende vergelykings. Soos jy, ervaar ook ek vele van die skrywes as van 'n swaarmoedige aard, maar, gegewe gebeure rondom ons, kan dit dan ook ánders? Soos wat desperate vroue en moeders hul haglike omstandighede in Britse konsentrasiekampe (1899-1902) by die kampkommandant bekla het, so kla skrywers oor die absolute onaanvaarbaarheid van sommige gebeure in ons samelewing op Brieweblad se "skouer"   -   in beide situasies met weinig, indien enige, resultate, dog dit bied 'n uitlaatklep ter verligting van opgeboude frustrasies.

Suid-Afrikaners, en veral Afrikaners, is versot op vleisbraai. So sien ek in my verbeelding talle persone besig om te braai, maar almal dra maskers. Waarom, want wie hou dan nie van die geur van braaivleis nie? Nee, sien, my braaikole is bloot simbolies vir die "kole van kritiek" waarop die "dik biefstukke" van kritiseerbare gebeure in ons samelewing "gebraai" word met 'n gepaardgaande onaangename reuk   -   vandaar die maskers. Die gemiddelde persoon verdra nie kritiek en kritici nie, maar laasgenoemde is net so noodsaaklik soos bye (met hul angels) vir bestuiwing.

Adv. Johan Kruger, direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, sê: "dit is nie  'verraad'  om die regering te kritiseer nie. Inteendeel, dit is jou grondwetlike plig" (DB,09.02). Dìt klink weer vir my soos 'n "vars briesie".                (ngn)





Monday, 11 February 2013

Vaatjie rum met lyk daarin leeg gedrink

Ons 2012-besoek aan ons jongste in Engeland word vooraf gegaan met 'n opdrag: Bring baaiklere saam! Waarvoor? Dis 'n geheim. Ek weier, selfs toe ons al daar is. Dit verg stem-dikmaak om my reg tot keusevryheid erken te kry. Ma en skoondogter gaan London toe vir baaiklere, 'n besoek aan Madame Tussaud's, en 'n "high tea" iewers. Ek en my jongste besoek die Chartwell-landgoed van wyle sir Winston Churchill.

Hierna is die "geheim" uit. Hulle vlieg ons vir sewe dae na Antigua, 'n vroeëre Britse kolonie, in die Karibbiese eilande   -   vandaar die baaiklere. Idillies is die raakste beskrywing   -   louwarm turkooiskleurige seewater, wit sandstrande met kokosneutpalmbome   -   'n eiland met 365 strandjies; een vir elke dag van die jaar.

Verskillende opsies om die eiland te verken. Ons kies Marvellous Marvin en sy huurmotor, 'n gemoedelike, stiptelike en deurlopend kommentaarlewerende Antiguaan. Die Rooi Chinese steun, in die vorm van die bou van die sir Vivian Richards krieketstadion en lughawemodernisering   -   in ruil vir eilandsteun in VVO-vergadersale   -   is voorbeelde van stille kommunistiese ekspansionisme.

'n Sondagmiddagse besoek aan Shirley Heights se sonsondergang en die Halcyon Steel Orchestra-uitvoering, met English Harbour en Nelson's Dockyard aan die voet daarvan, is 'n besoekers móét. Al gehoor hoe admiraal Horatius Nelson se lyk ná die Slag van Trafalgar na Engeland vervoer is?, vra ons taxi-man. Nee, nog nie, en hy vertel. Om sy liggaam te preserveer, is Nelson in 'n vaatjie vol rum geplaas   -   met matrose, onbewus van die lyk daarin, wat die voggies  huiswaarts skelm opdrink. Dit klink na 'n lekker toeristestorie. Tuis gekom, kontroleer ek vir Marvellous Marvin, en, nee, sy verhaal is nié 'n "urban legend" nie   -   dis histories waar.






Wednesday, 6 February 2013

Gesonde menseverhoudings 'n burgerplig

In ons rasoorstelpte land het almal 'n sosiaal kritieke verpligting om gesonde menseverhoudings te bevorder. Hoe lyk my bydrae daartoe waar ek in mikrokontekste met ander skouerskuur? Die swart kelner irriteer my met sy Engelse "Hey, guys, everything okay?". Ook ek irriteer ander, dus   -   uitgekanselleer. Nee, ek is nié die motorwag se pa wat my met 'n "Dankie, Pa!" vir 'n fooitjie bedank nie   -   bloot sy dankbaarheid. "Oubie, djy moenie hie loepie"   -   goedbedoelde raad. Vooraf "aangemeld" in die lang banktou, loop sy en gaan "shop", keer terug en eis haar "plek" op, reg voor my, en, ja, ander bevestig haar "plek". Eish, wêna, jy druk in   -   toemaar geen skade nie.

Vir ons ouer geslag wat die bodem van die Bybelse uurglas (Ps.90:10) bereik het, geld veral die vraag: Hoe lyk my persoonlike sosiale wins- en verliesrekening by die leegloop daarvan? Kan ons aan die einde sê dat ons lewens werklik 'n verskil gemaak het en menseverhoudings bevorder het, iets blywends en konstruktief nalaat waarop ons kinders op dié voorbeeld kan voortbou, of het hebsug, selfsug en -sentreerdheid ons daarvan weerhou en slegs wrewel by ander gewek?

Al ken die grondwet ook watter regte aan ons toe, moet ons steeds hard daarvoor werk in ons omgang met mekaar. Slegs waarvoor gewerk word, is kosbaar en word waardeer. Begrip van, en respek vir, mekaar kan    -   deur welwillend verdraagsame skouerskuur   -   uitmond in vreedsame naasbestaan. Die bevordering van gesonde menseverhoudings is 'n burgerlike plig. Dit geld ook die owerheid op alle vlakke. Laat ons almal dié plig nakom.






Friday, 1 February 2013

Vir wie dans die ANC-Raka?

Die lamppaal pronk beloftevol met sy ANC-kennisgewing: "How to get a social grant". Op my eie verbeeldingsplakkaat skryf ek: "How to get a job". Hierdie denkbeeldige antipolige appél   -   deur die ANC en myself   -    tot die openbare gemeenskap, herinner my aan N.P.van Wyk Louw se karakters, Raka en Koki, die ontsagwekkend ongetemde bosbewoner teenoor die beskermend  besorgde statsbewoner.

Die ANC het SA tot Rakaland gemaak, een van vrytierende wellus, moordlus en sinsgenot, ingestel op 'n kortsigtige hier-en-nou bestaan. Die ANC-Raka brand die nasionale beursiekers aan beide kante. Weinig werk word geskep waardeur self, op selfstandige en menswaardige wyse, in basiese behoeftes voorsien kan word en geld, deur belastingheffing, na die staatskas kan vloei. Nee, spelende en dansende ANC-Raka draai die geldkrane oop en laat vloei dit in die onproduktiewe en bodemlose put van "grants".

Die goedbedoelde kritiek van die besorgde en welmenende Koki-burgery wat, ongeag ras   -   deur werkbereidheid vooruit wil gaan   -   word met vyandige agterdog afgemaak as kolonialisties en rassisties. Die Koki-burgery pleit om SA te stabiliseer, beleggingsvertroue te wek, buitelandse beleggings te lok, korrupsie te beveg en 'n werksetos van hardwerkendheid en eerlike selfverdiening te vestig. Maar, nee, ANC-Raka plunder selfverrykend kwistig en stel sy stemvee tevrede met "grants", die tafelkrummels ná die ANC-ete.

"Oorkant die water het hy (Raka) uitgestap...Die vroue het sku...oor die stil stroom gestaar...(en) nou het hy...'n vreemde dans gevoer uit sy land: geil van begeerte, van wilde vlug en vang en paring en uitskree onder die dwang van drifte wat geen naam of doel meer ken...wié sal belet dat hy inkom en heers...(na)dat die edelste wagter (Koki) koud lê langs sy vuur...".(N.P.van Wyk Louw).              (ngn)