Ons 2012-besoek aan ons jongste in Engeland word vooraf gegaan met 'n opdrag: Bring baaiklere saam! Waarvoor? Dis 'n geheim. Ek weier, selfs toe ons al daar is. Dit verg stem-dikmaak om my reg tot keusevryheid erken te kry. Ma en skoondogter gaan London toe vir baaiklere, 'n besoek aan Madame Tussaud's, en 'n "high tea" iewers. Ek en my jongste besoek die Chartwell-landgoed van wyle sir Winston Churchill.
Hierna is die "geheim" uit. Hulle vlieg ons vir sewe dae na Antigua, 'n vroeëre Britse kolonie, in die Karibbiese eilande - vandaar die baaiklere. Idillies is die raakste beskrywing - louwarm turkooiskleurige seewater, wit sandstrande met kokosneutpalmbome - 'n eiland met 365 strandjies; een vir elke dag van die jaar.
Verskillende opsies om die eiland te verken. Ons kies Marvellous Marvin en sy huurmotor, 'n gemoedelike, stiptelike en deurlopend kommentaarlewerende Antiguaan. Die Rooi Chinese steun, in die vorm van die bou van die sir Vivian Richards krieketstadion en lughawemodernisering - in ruil vir eilandsteun in VVO-vergadersale - is voorbeelde van stille kommunistiese ekspansionisme.
'n Sondagmiddagse besoek aan Shirley Heights se sonsondergang en die Halcyon Steel Orchestra-uitvoering, met English Harbour en Nelson's Dockyard aan die voet daarvan, is 'n besoekers móét. Al gehoor hoe admiraal Horatius Nelson se lyk ná die Slag van Trafalgar na Engeland vervoer is?, vra ons taxi-man. Nee, nog nie, en hy vertel. Om sy liggaam te preserveer, is Nelson in 'n vaatjie vol rum geplaas - met matrose, onbewus van die lyk daarin, wat die voggies huiswaarts skelm opdrink. Dit klink na 'n lekker toeristestorie. Tuis gekom, kontroleer ek vir Marvellous Marvin, en, nee, sy verhaal is nié 'n "urban legend" nie - dis histories waar.
No comments:
Post a Comment