In ons rasoorstelpte land het almal 'n sosiaal kritieke verpligting om gesonde menseverhoudings te bevorder. Hoe lyk my bydrae daartoe waar ek in mikrokontekste met ander skouerskuur? Die swart kelner irriteer my met sy Engelse "Hey, guys, everything okay?". Ook ek irriteer ander, dus - uitgekanselleer. Nee, ek is nié die motorwag se pa wat my met 'n "Dankie, Pa!" vir 'n fooitjie bedank nie - bloot sy dankbaarheid. "Oubie, djy moenie hie loepie" - goedbedoelde raad. Vooraf "aangemeld" in die lang banktou, loop sy en gaan "shop", keer terug en eis haar "plek" op, reg voor my, en, ja, ander bevestig haar "plek". Eish, wêna, jy druk in - toemaar geen skade nie.
Vir ons ouer geslag wat die bodem van die Bybelse uurglas (Ps.90:10) bereik het, geld veral die vraag: Hoe lyk my persoonlike sosiale wins- en verliesrekening by die leegloop daarvan? Kan ons aan die einde sê dat ons lewens werklik 'n verskil gemaak het en menseverhoudings bevorder het, iets blywends en konstruktief nalaat waarop ons kinders op dié voorbeeld kan voortbou, of het hebsug, selfsug en -sentreerdheid ons daarvan weerhou en slegs wrewel by ander gewek?
Al ken die grondwet ook watter regte aan ons toe, moet ons steeds hard daarvoor werk in ons omgang met mekaar. Slegs waarvoor gewerk word, is kosbaar en word waardeer. Begrip van, en respek vir, mekaar kan - deur welwillend verdraagsame skouerskuur - uitmond in vreedsame naasbestaan. Die bevordering van gesonde menseverhoudings is 'n burgerlike plig. Dit geld ook die owerheid op alle vlakke. Laat ons almal dié plig nakom.
No comments:
Post a Comment