Monday 17 June 2013

Moet ANC ekonomiese denke nog evolueer?

Beide ek en Malema is ekonomiese leke   -   "Begryp Malema SA ekonomie?" (DB,17.06)   -   die verskil: hy maak dit tot politiek; ek nie. Spaar ons tog net Malema se Mugabestyl ekonomiese bestel! Dit is ongetwyfeld so dat die SA ekonomie verbonde is aan, en geraak word deur, die wêreldekonomie, maar is dit net 'n simplistiese oorsaak-gevolg aangeleentheid? Is die eie nasionaal ekonomiese huishouding in orde?

Is die vraag waarom na-oorlogse Duitsland en Japan hulself ná 20 jaar kon herstel en SA, onder ANC-regering in 'n ooreenstemmende tydperk, ernstige tekortkominge vertoon, 'n legitieme vraag? In beide kontekste is versteuring ervaar. Duitsland en Japan kon dié versteuring sigbaar herstel; SA nog nie.

Is dit nie so dat Duitsland en Japan oor 'n ekonomiese kaart en kompas beskik het waarvolgens hulle kon herstel nie, terwyl die ANC oor geen sodanige instrumente beskik nie? Dié vermoede word deur die ekonoom, Iraj Abedian, in die "Financial Mail" bevestig wanneer hy sê: "Die SA ekonomie was sedert 1994 nog nie só rigtingloos nie" (DB,07.06).

Die ideologiese versteuring van 1994 blyk rampspoedige ekonomiese gevolge vir SA in te hou. Die ANC se ekonomiese beleid is duidelik nie in staat om die armoedespiraal te verlig nie. Vince Musewe, ekonomiese analis van Harare, sê die ANC mag dalk 'n politieke bevryder wees, maar beslis geen ekonomiese bevryder nie (Politicsweb,12.04).

Dit laat my met die, waarskynlik baie aanvegbare, gevolgtrekking dat die Afrika ekonomiese denke   -   waarvan die ANC-denke deel uitmaak   -   nog nie op dieselfde denkpeil is as dié van die meeste suksesvolle wêreldekonomieë nie, maar nog in 'n embrionale fase van ekonomiese evoluering verkeer. Bevind die ANC hom nog op die pad van evoluerende ekonomiese denke?




No comments:

Post a Comment