Monday 3 June 2013

Gaan NG-eenheidskerk ANC-in-gebed word?

Eeuelank was die NGK die gekerstende Afrikanervolk se volkskerk. Bewys van dié historiese volkskerk/kerkvolk-verhouding, is die volkskerk se ingryping in tye van volksnood. Vyande van dié volkskerk/kerkvolk-verhouding, vernietig dit tans binne die ANC ideologies-getransformeerde SA. Afrikanervyandige denke, het sy volkskerk tot "apartheidskerk" verklaar.

Die "apartheids"-begrip ontstaan in 'n polities-staatkundige omgewing, en word die speerpunt in dié vernietigingsaanslag. "Apartheid" se 1948-ontstaanskonteks word geriefshalwe verswyg. Die NG-volkskerk se ontstaanskonteks, daarteenoor, dateer terug oor etlike eeue. Lank vóór 1948 wás die NGK alreeds 'n volkskerk. Deur die NGK sedert 1948 toenemend by die polities-staatkundige bedeling van die dag te betrek, help Afrikanervyandiges dié kerk verpolitiseer. Sommige NGK-leiers neem vandag met oorgawe en entoesiasme hieraan deel; dit terwyl die Kerkhoof se opdrag 'n duidelike kersteningsopdrag is   -   nié polities-staatkundig nie!

Ter aansluiting: In 'n Volksbladbrief (31.05) sê ds.Willem Botha: "Tydens drie streekbyeenkomste van die NG Kerk Vrystaat is 'n groot appél gemaak dat die aanvaarding van Belhar die toetssteen is of iemand inderdaad apartheid (lees:volkskerk) afgesweer het...(en) ons VGK-kollegas (het) in soveel woorde aangedring daarop dat wit mense...geneties meerderwaardig en rassisties (is) en dat dit dié sonde is wat in die pad staan van kerkhereniging."

In sy brief, "Hereniging gaan oor politiek" (DB,18.09.2007), haal wyle dr.Mauritz Vorster vir prof.Piet Naudé soos volg aan: "Die laaste bastion van wit Afrikaneroorheersing kan val (lees:volkskerk)   -   dit sal uiteindelik die einde van apartheid wees."

Vanuit dié voorbeelde is dit duidelik hoedat "apartheid", as primêr polities-staatkundige begrip, die kerk as buitekerklike maatstaf opgedwing word; ook hoedat Belhar die Bybel as kerklike maatstaf vervang.

Afrikanervyandiges het na die NGK as die "NP-in-gebed" verwys. Mag ons dan ook na die toekomstige NG-eenheidskerk as die "ANC-in-gebed" verwys?




No comments:

Post a Comment