Friday 21 June 2013

Wat is die prys vir kerkeenheid?

Dr. Braam Hanekom se Godsdiens Aktueel-artikel, "Kerk-eenheid: Om die groot stap te doen" (DB,19.06), beklemtoon die heersende sterk aandrang om kerkeenheid in NGK-geledere. Aan kerkeenheid is daar egter 'n prys verbonde, maar presies hóé hoog is dié prys? Lukas 14:28 sê: "Wie van julle wat 'n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken...nie?" Ek dra geen kennis van enige sodanige kosteberekening vir kerkeenheid deur NGK-leiers nie.

Neem dié prys dalk die vorm van prysgawe aan? Afrikaans as kerktaal lyk na so 'n opvallende prysgawe. Waarom? Die drie "dogterskerke" se sinodale dokumentetaal is reeds slegs in Engels. Die kerklike meerderheidstaal blyk daarom Engels te wees. Voorgestelde kanselruilings kan verdere druk plaas op die voortbestaan van Afrikaans as kanseltaal.

Aanvaarding van die Belharbelydenis open die deur vir verdere belydenisskrifte wat die bestaande drie Formuliere van Eenheid in gedrang mag bring. Daar gaan ook reeds stemme op vir die toenemende verafrikanisering van die kerklike konteks waaronder ook predikante-opleiding. Getallegewys sal die "moeder" deur die drie "dogterskerke" oorheers word waaromtrent prof. Nelus Niemand reeds verklaar het dat hy "met graagte onder die leierskap van die VGK...(sal) dien" (DB,02.10.12).

Lidmaatverliese impliseer verminderde inkomstes met implikasies vir gemeentelike én algemeen kerklike begrotings, en selfs bestaande leraarsposte mag dalk geraak word. Só sou nog verdere prysgawes geïdentifiseer kon word. Van sir Winston Churchill word vertel dat hy 'n Britse stywelip-dame gevra het óf sy vir 'n miljoen pond by hom sou slaap. Sy het, blosend, bevestigend geantwoord. En sal sy vir 'n enkele pond ook by hom slaap? Verontwaardig wou sy weet wát Churchill dan van haar dink, waarop hy toe antwoord: "Ma'am, we've already established that. We're just haggling the price." Ook dieselfde prys-kibbelingsvraag moet in kerklike kring beantwoord word: Wat is die prys vir kerkeenheid?




No comments:

Post a Comment