Thursday 27 June 2013

'n Billike uitdaging aan Van der Linde

Hendrik van der Linde (DB,27.06) beskuldig my, aan die hand van die digterlike pen van Oscar Wilde, dat ek (vry vertaal): 'n sinikus is wat die prys van elke ding ken, maar die waarde van niks begryp nie.

Ek is heeltemal bereid om Van der Linde se etiket van sinikus te aanvaar op voorwaarde dat hy hier in die briewekolom onomwonde bo enige twyfel, en sonder enige teenspraak, die teendeel van my mening, soos gestel in my skrywe, "Presies hoe hoog is prys vir kerkeenheid?" (DB,25.06), kan bewys. Daarin het ek gewys op die potensiële gevare wat kerkeenwording kan inhou vir die Afrikaanse taal as voortgesette kerk- en kanseltaal, die drie Formuliere van Eenheid se eeue-oue sentrale plek in die NG Kerk, stemme wat opgaan vir plekinruiming vir die verafrikanisering van die kerklike omgewing, die moontlikheid en implikasies van getalsoorheersing deur die drie Engelsgeoriënteerde "dogterskerke", en die uitwerking wat huidige, en toekomstige, lidmaatverliese vir beide gemeentelike en algemeen-kerklike begrotings mag hê.

Indien Van der Linde aan dié voorwaarde en uitdaging kan voldoen   -   en só kan waarborg dat geeneen van dié dinge wat ek meld ooit waar sal word nie   -    sal "siniese" lidmate, dalk selfs ook NGK-leiers, hom veel dank verskuldig wees vir sy beswering van die gemelde potensiële vrese. Sou hy egter in gebreke bly om dié uitdaging en voorwaarde te aanvaar, laat hy lesers géén ander keuse as om te glo dat hy 'n oningeligte en onnadenkende persoon is aan wie se mening weinig waarde geheg kan word. En terloops: ek verseker Van der Linde van die baie hoë "premie" wat ek wel op Bybelse waarhede plaas   -   juis vandaar my besondere besorgdheid oor die toekoms van die kerk.                  (ngn)




No comments:

Post a Comment