Friday 25 October 2013

Lidmate moet krities let op kerkbesluite

Die omstrede 2011-NG Kerkbesluit oor Satan, waarvolgens predikante en lidmate nou sélf mag besluit oor sy bestaan as persoon al dan nie, is reeds welbekend. Hiermee maak dié kerk Bybelse waarhede tot keuse-aangeleentheid, 'n dwaalleer-simptoom van 'n valse kerk wat tot verdeeldheid lei.

Volgens dr. Paul M.Elliott van "Teaching the World Ministries", glo 52% "American Evangelicals" en 66% Baptiste nie aan Satan as 'n persoon nie. Dit is 'n duidelike verwerping van wat die Bybel ons van Satan leer. Dit blyk dat die NG Kerk dié neiging navolg in ook sy bewustelik moedswillige ontkenning (2 Pet.3:5) van dié Bybelse waarheid.

Maar watter getuienis lewer die Bybel sélf oor Satan? Deur God geskape, beklee Satan aanvanklik 'n uitsonderlike hemelse posisie. Vanweë sy hoogmoed en opstand teen God, word hy uit die hemel gewerp en word hy vyand nommer een van God, Sy Woord en Sy kinders.

Bybelname vir Satan verskaf vyf kategorieë van inligting oor hom: 1. sy ontstaan, 2. sy wesensnatuur, 3. as vernietiger, 4. vriend van, en heerser oor die wêreld, en 5. die aartsvyand van Christengelowiges. Jesaja (14:12-17) en Esegiël (28:11-19) verskaf simbolies-indirekte verwysings na Satan se ontstaan, hemelse status, hoogmoed, rebellie, val en verdoeming soos wat dit ook aansluiting vind by Openbaring (12:7-12) en Jesus self (Luk.10:18).

Die Bybel verwys 55 keer na Satan as 'n God-opponerende wese; die Nuwe Testament 34 keer na hom as duiwel en leuenaar. Hy word ook genoem: die Bose, slang, moordenaar, draak, Abaddon/Apollion, dief, god en owerste van die wêreld/lug, Beëlsebul (duiwelaanvoerder) en misleier/verleier.

Ongeag al hierdie Bybelse waarheidsgetuienis tot hul beskikking, verantwoord kerkleiers en sinodes nie meer hul besluite daaraan nie. Aan geloofswaarhede word 'n opsionele keuse-karakter verleen. Meelewende lidmate moet wakker skrik en krities daarop let óf kerklike besluitneming wel nog Bybelfundeerd is.






1 comment:

  1. 1 Petrus 3: 15-16: "Maar heilig die Here God in julle harte en WEES ALTYD BEREID OM VERANTWOORDING TE DOEN AAN ELKEEN WAT VAN JULLE REKENSKAP EIS OMTRENT DIE HOOP WAT IN JULLE IS, met sagmoedigheid en vrees; met behoud van ’n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster."

    Ons kan dit wat hierdie teks vra, slegs doen as ons ons Bybels goed ken!

    ReplyDelete