Monday, 26 May 2014

Hoe lyk demokrasie na nóg twintig jaar?

In opvolging van Zuma se voorverkiesings "goeie storie" , word ons tans herhaaldelik herinner aan "twintig jaar van demokrasie". Demokrasie manifesteer binne bepaalde kontekste van, byvoorbeeld, 'n liberale, sosialistiese, kommunistiese of Christelike aard. Binne watter van hierdie kontekste pas die huidige SA demokrasie?

In SA is die "papier"-demokrasie (grondwet) en die "praktyk"-demokrasie nie altyd versoenbaar nie. Daar vind tans 'n toenemende verskuiwing plaas van laasgenoemde weg vanaf eersgenoemde. Ons "praktyk"-demokrasie staan sterk in die teken van voortgesette rewolusie, gekenmerk deur 'n dinamiese beweging na 'n bepaalde ideologies geïdealiseerde bestemming. EFF-plekneming in die parlement mag juis dié momentum versnel. Nie almal is bewus van dié verskuiwing na 'n andersoortige konteks   -   steeds bekend as sogenaamd demokraties   -   nie. 

Indien ek reg begryp, vind daar juis tans ook 'n verskuiwing van die DA-liberale dryfveer vanaf die klassiek-liberale na 'n sosialisties-liberale vorm daarvan, plaas. Laasgenoemde, meer Afrika-georiënteerd, beskik oor groter potensiaal om méér swart stemme te trek as eersgenoemde, en regverdig dus dié potensieel aangepaste DA-skuif. Verskuiwings is dus 'n werklikheid.

Teenswoordige tendense dui daarop dat ons staatkundige bedeling oor nog twintig jaar dalk steeds demokraties genoem mag word, maar dat dit kontekstueel-ideologies verskuif het na 'n radikaal ander ideologiese omgewing. Varende steeds onder dieselfde demokratiese vlag, kan die SA-skip se ideologiese vraginhoud verander. Na-oorlogse Oos-Duitsland was bekend as die Duitse Demokratiese Republiek (DDR), maar dit was 'n volslae kommunistiese "demokrasie". Hoe gaan SA se demokrasie dus na nóg twintig jaar daar uitsien?












Wednesday, 14 May 2014

Kwelvrae oor ANC-diversiteitshantering

Diegene wat toekoms-georiënteerd realisties saamdink oor vooruitsigte vir die nageslag, word deur kwelvrae gekonfronteer. Die ouer geslag moet nie verkwalik word as hulle vrae van 'n oorlewingsaard vra, soos: wat hou die toekoms vir ons kinders in teen 'n agtergrond van toenemende verarming, materieel én geestelik?

SA politici verwys graag na ons veelgeroemde diversiteit. Ons diverse minerale rykdom en plante-  of dierelewe is nié hul primêre fokus nie, maar wel ons divers-saamgestelde samelewing wat as besondere bate aangeprys word. Van enige poging tot 'n nasionale analise van dié bate-aanspraak, het ek nog nêrens enigiets toeligtend gelees nie. Dié uitspraak het die voorkoms van 'n voorlopig ongesubstansieerde aanname wat op verifiëring wag.

Een van vele kwelvrae is: hoe "bestuur" die ANC ons bate van mensediversiteit in terme van die grondwet tot die bevrediging en billike teregkoming van alle landsburgers? Tereg mág ons vra of hierdie konstitusioneel-erkende diversiteit tans tot volle reg kom.

Multikulturele SA suggereer 'n diversiteit van onderskeibare kultuurgroeperinge wat, op grond van groepsgetalsterkte, ingrypend van mekaar verskil. Die getalleverhouding tussen hierdie diverse groeperinge vind uitdrukking in die vorm van minderheids-  én meerderheidsgroepe, 'n kernkenmerk van ons SA samelewing. Hierin lê die potensiaal vir groepsdominansie opgesluit.

Van die legio kwelvrae oor die voortbestaan van minderheidsgroepe in 'n diverse SA konteks, is óf die ANC   -   wat ons almal binne sy Afrika-ideologiese bestel wil borsrok   -   gewillig is om, ter wille van 'n vreedsame, stabiele en voorspoedige samelewing, 'n balans tussen minderheids-  en meerderheidsbelange na te streef. Selfs al waarborg die grondwet minderheidsregte, bly die toekomstige hantering daarvan 'n kwelvraag.




Monday, 12 May 2014

Spekulatief, ja, maar totaal onmoontlik?

Die EFF, "kraamsel" van die ANC, het 'n sosialisties-kommunisties getransformeerde SA, volgens die Mugabe-styl, ten doel. Die ekonomiese fase van die ANC-rewolusie   -   nasionalisering van grond, myne en finansiële instellings   -   word ondermyn deur die huidige selfverrykend korrupte ANC-leierskap, terwyl die ontnugterde massas ongeduldig wag op die beloofde land. 'n Plan moes bedink word om dié rewolusie op koers te hou. Die ANC durf nie sy "hoë-grond" rewolusionêre beeld verloor nie, ontroue leiers moet uitgewerk word, en die ekonomiese rewolusie onomkeerbaar voortgesit word. Die plan?  -  Malema en sy EFF.

Ongeag media-nuusdekking, vermoed ek dat agter die skerms 'n samewerkingsooreenkoms tussen die ANC en EFF bestaan om die vertraagde rewolusie te bespoedig. Na die suksesvolle deurvoering van dié ANC/EFF-plan, kan die EFF-"sytak" goedskiks weer solidêr ineenvloei met die herstelde ANC-"hoofstroom".

Ek wil werklik vertrou dat die toekoms   -   dit wat ek tans as die oëverblindende rolspel van twee uitmuntende akteursgroepe beskou   -   my as verkeerd sal bewys. ANC-"moeder" sal, parlementêrgewys, waarskynlik vinnig haar EFF-"kind" leer hoe om ons demokratiese grondwet saboterend te ondermyn vir gemeenskaplike ideologiese gewin.

Sou die DA, kapitalistiese vyand van die sosialisties-kommunistiese rewolusie, realisties op EFF parlementêre steun kon reken? Indien wel, mag dit aanvanklik gaan om die huidige leierskap te ontsetel, maar beslis nié om pro-DA-redes nie. Met tydsverloop sien ek die rewolusionêre pendulum swaai na groter samewerking tussen ANC en EFF om 'n toenemend groter sosialisties-kommunistiese wurggreep op ons demokratiese bestel toe te pas.

Spekulatief, ja beslis, maar totaal onmoontlik?            (ngn)




Monday, 5 May 2014

Ons almal begaan soms oordeelsfoute

Na 'n halfuur se wag in die kliëntetou van 'n plaaslike handelsbank, staan ek heel voor. Vanuit die niet posisioneer 'n nie-toustaner hom meteens agter 'n kliënt wat nog bedien word. Ek vra (in Engels) vanwaar hy kom; geen antwoord. Ek herhaal my vraag; geen antwoord, waarop ek sê: "Sir, you are jumping the line." Is ek die bankbestuurder, wil hy by my weet. Onnadenkend eggo ek dieselfde vraag waarop hy antwoord dat hy wel die bankbestuurder is (onwaar). Ek herhaal my: "Sir, you are jumping the line", waarop hy reageer met "apartheid!, apartheid!, apartheid!"

Buite gekom, wag dié "line jumper" my in en begroet my dadelik met sy apartheidsrefrein. Kan ons dan nie op 'n vriendelike wyse praat oor dié voorval nie? Sy apartheidsobsessie maak hom ontoeganklik vir redevoering. Ek keer my rug op hom en loop.

Baie duidelik is hierdie voorval 'n "slegte storie", maar, soos ons weet, het ons die keuse of ons deel van die probleem of deel van die oplossing wil wees. Ek gaan weer die bank binne en kom, deur die veiligheidswag, by die bestuurderes uit. Ek vertel van die voorval, nie om te kla nie, maar op soek na 'n oplossingsmeganisme vir die toekoms. Beide verseker my dat hulle heelwat probleme ervaar met soortgelyke kliënte. In geval van 'n toekomstige probleem   -   soos die gemelde voorval   -   moet die aandag van 'n bank- of vloerbeampte getrek en enige ongerymdheid onder dié se aandag gebring word vir verdere hantering.

Hierdie "slegte storie" weerlê Petrus se stelling: "Miskien moet dr. Breitenbach uit sy gemaksone, waar hy 'n goeie storie elke dag van sy lewe beleef, beweeg..." (DB,29.04).  Petrus, jou gewaardeerde verskoning (DB,03.05) word sonder kwade gevoelens aanvaar. Dankie. Ons almal begaan soms oordeelsfoute.     (ngn)




Thursday, 1 May 2014

Nee vir Du Randt se Afrikanerselfmoord

Dr. Du Randt se brief, "Spits kragte toe op wáre uitdagings" (DB,30.04), wek die indruk dat hy oor "die winkel für die welt" van sowel die verlede as die toekoms van Afrikaners beskik. In sy grondwet-en-verklaring-van-menseregte kristalbal   -  "fondamentstene en waarborge vir sekerheid"   -    sien hy 'n rooskleurig gewaarborgde Afrikanertoekoms. Vind Du Randt werklik sy ideaal, soos tans, in grondwetlik en menseregtelik skendend dominante ANC-Afrikanasionalisme?

Met sy "Spits kragte toe...", ondersteun ek hom, maar ons interpretasies van  "...op wáre uitdagings", verskil radikaal van mekaar. Volgens hom moet Afrikaners selfondersoek doen oor ons "heimwee na 'n etniese apartheidsverlede"; ons verafrikanisering van die Brits-ingevoerde apartheidstelsel; ons kerke en sakeondernemings se fundamentele misdade teen die mensdom; die "gevaarlike herlewing van Afrikanernasionalisme" (die "baba"   -   Afrikanernasionalisme   -   uitgooi met die "badwater"   -   apartheid. Du Randt toon 'n gebrek aan onderskeidingsvermoë. Foeitog.); ons kulturele afsonderlikheid, isolasie en meerderwaardigheid.

Voormelde is vir Du Randt die "ware uitdagings". Hy noem dit 'n "selfondersoek" wat in wese 'n skuldbelydenis moet word, gevolg deur transformasie tot 'n soort van hibriede Afrikanerskap   -   uiteindelik nóg vis nóg vlees   -   'n selfmoordplegend eens trotse volk. Nee, die "wáre uitdaging" vir Afrikaners is om hulself te bly en hul eie sake te reël, nie deur ander regeer te word nie, maar ook nie ander se sake vir hulle te reël soos in die verlede nie. Ons wil steeds trots bly wie en wat ons is en nié verswelgend deur die massas in-"gestofsuig" word nie.

Interessant dat Du Randt sy betoog afsluit met 'n aanhaling vanuit van die heel vroegste nasionalistiese gedigte, "Die Afrikaanse Volkslied", terwyl hy dié nasionalisme juis verwerp.               (ngn)