Wednesday 14 May 2014

Kwelvrae oor ANC-diversiteitshantering

Diegene wat toekoms-georiënteerd realisties saamdink oor vooruitsigte vir die nageslag, word deur kwelvrae gekonfronteer. Die ouer geslag moet nie verkwalik word as hulle vrae van 'n oorlewingsaard vra, soos: wat hou die toekoms vir ons kinders in teen 'n agtergrond van toenemende verarming, materieel én geestelik?

SA politici verwys graag na ons veelgeroemde diversiteit. Ons diverse minerale rykdom en plante-  of dierelewe is nié hul primêre fokus nie, maar wel ons divers-saamgestelde samelewing wat as besondere bate aangeprys word. Van enige poging tot 'n nasionale analise van dié bate-aanspraak, het ek nog nêrens enigiets toeligtend gelees nie. Dié uitspraak het die voorkoms van 'n voorlopig ongesubstansieerde aanname wat op verifiëring wag.

Een van vele kwelvrae is: hoe "bestuur" die ANC ons bate van mensediversiteit in terme van die grondwet tot die bevrediging en billike teregkoming van alle landsburgers? Tereg mág ons vra of hierdie konstitusioneel-erkende diversiteit tans tot volle reg kom.

Multikulturele SA suggereer 'n diversiteit van onderskeibare kultuurgroeperinge wat, op grond van groepsgetalsterkte, ingrypend van mekaar verskil. Die getalleverhouding tussen hierdie diverse groeperinge vind uitdrukking in die vorm van minderheids-  én meerderheidsgroepe, 'n kernkenmerk van ons SA samelewing. Hierin lê die potensiaal vir groepsdominansie opgesluit.

Van die legio kwelvrae oor die voortbestaan van minderheidsgroepe in 'n diverse SA konteks, is óf die ANC   -   wat ons almal binne sy Afrika-ideologiese bestel wil borsrok   -   gewillig is om, ter wille van 'n vreedsame, stabiele en voorspoedige samelewing, 'n balans tussen minderheids-  en meerderheidsbelange na te streef. Selfs al waarborg die grondwet minderheidsregte, bly die toekomstige hantering daarvan 'n kwelvraag.




1 comment:

  1. Eintlik het die VSA met sy federale stelsel, ook 'n tipe "apartheid" geskep. Mens hoef maar net na die verskille regulasies en verordeninge van elke staat te kyk, om te sien hoe verskillend elkeen is. En dit is mense met 'n gemeenskaplike taal en geskiedenis. Dan verwag HULLE die inwoners van ons land moet abrakadabra! met die swaai van 'n towerstokkie, met mense wat baie verder van ons verskil in vrede en harmonie saamleef.

    ReplyDelete