Monday 12 May 2014

Spekulatief, ja, maar totaal onmoontlik?

Die EFF, "kraamsel" van die ANC, het 'n sosialisties-kommunisties getransformeerde SA, volgens die Mugabe-styl, ten doel. Die ekonomiese fase van die ANC-rewolusie   -   nasionalisering van grond, myne en finansiële instellings   -   word ondermyn deur die huidige selfverrykend korrupte ANC-leierskap, terwyl die ontnugterde massas ongeduldig wag op die beloofde land. 'n Plan moes bedink word om dié rewolusie op koers te hou. Die ANC durf nie sy "hoë-grond" rewolusionêre beeld verloor nie, ontroue leiers moet uitgewerk word, en die ekonomiese rewolusie onomkeerbaar voortgesit word. Die plan?  -  Malema en sy EFF.

Ongeag media-nuusdekking, vermoed ek dat agter die skerms 'n samewerkingsooreenkoms tussen die ANC en EFF bestaan om die vertraagde rewolusie te bespoedig. Na die suksesvolle deurvoering van dié ANC/EFF-plan, kan die EFF-"sytak" goedskiks weer solidêr ineenvloei met die herstelde ANC-"hoofstroom".

Ek wil werklik vertrou dat die toekoms   -   dit wat ek tans as die oëverblindende rolspel van twee uitmuntende akteursgroepe beskou   -   my as verkeerd sal bewys. ANC-"moeder" sal, parlementêrgewys, waarskynlik vinnig haar EFF-"kind" leer hoe om ons demokratiese grondwet saboterend te ondermyn vir gemeenskaplike ideologiese gewin.

Sou die DA, kapitalistiese vyand van die sosialisties-kommunistiese rewolusie, realisties op EFF parlementêre steun kon reken? Indien wel, mag dit aanvanklik gaan om die huidige leierskap te ontsetel, maar beslis nié om pro-DA-redes nie. Met tydsverloop sien ek die rewolusionêre pendulum swaai na groter samewerking tussen ANC en EFF om 'n toenemend groter sosialisties-kommunistiese wurggreep op ons demokratiese bestel toe te pas.

Spekulatief, ja beslis, maar totaal onmoontlik?            (ngn)




1 comment:

  1. Baie slim geredeneer Tommie! Dit kan baie moontlik so wees, want WAAR anders sal hulle die geld kry, met JM wat nie eers genoeg geld het om al sy skuld te betaal nie, wat nog van die derduisende rooi hempies en berette? Kom ons hou dinge dop ...

    Aan die ander kant, sal JZ baie laag daal as hy in die bed klim met iemand wat sy optrede met gebruikte kondome en toiletpapier vergelyk !

    ReplyDelete