Dr. Du Randt se brief, "Spits kragte toe op wáre uitdagings" (DB,30.04), wek die indruk dat hy oor "die winkel für die welt" van sowel die verlede as die toekoms van Afrikaners beskik. In sy grondwet-en-verklaring-van-menseregte kristalbal - "fondamentstene en waarborge vir sekerheid" - sien hy 'n rooskleurig gewaarborgde Afrikanertoekoms. Vind Du Randt werklik sy ideaal, soos tans, in grondwetlik en menseregtelik skendend dominante ANC-Afrikanasionalisme?
Met sy "Spits kragte toe...", ondersteun ek hom, maar ons interpretasies van "...op wáre uitdagings", verskil radikaal van mekaar. Volgens hom moet Afrikaners selfondersoek doen oor ons "heimwee na 'n etniese apartheidsverlede"; ons verafrikanisering van die Brits-ingevoerde apartheidstelsel; ons kerke en sakeondernemings se fundamentele misdade teen die mensdom; die "gevaarlike herlewing van Afrikanernasionalisme" (die "baba" - Afrikanernasionalisme - uitgooi met die "badwater" - apartheid. Du Randt toon 'n gebrek aan onderskeidingsvermoë. Foeitog.); ons kulturele afsonderlikheid, isolasie en meerderwaardigheid.
Voormelde is vir Du Randt die "ware uitdagings". Hy noem dit 'n "selfondersoek" wat in wese 'n skuldbelydenis moet word, gevolg deur transformasie tot 'n soort van hibriede Afrikanerskap - uiteindelik nóg vis nóg vlees - 'n selfmoordplegend eens trotse volk. Nee, die "wáre uitdaging" vir Afrikaners is om hulself te bly en hul eie sake te reël, nie deur ander regeer te word nie, maar ook nie ander se sake vir hulle te reël soos in die verlede nie. Ons wil steeds trots bly wie en wat ons is en nié verswelgend deur die massas in-"gestofsuig" word nie.
Interessant dat Du Randt sy betoog afsluit met 'n aanhaling vanuit van die heel vroegste nasionalistiese gedigte, "Die Afrikaanse Volkslied", terwyl hy dié nasionalisme juis verwerp. (ngn)
No comments:
Post a Comment