Ek antwoord Pitout se " 'Cool' gee nié aanstoot in dié konteks" (DB,05.09) -repliek op my vroeëre skrywe. Dankie vir 'n begripsverklaring uit "sewe gesaghebbende woordeboeke". Ek het beslis begrip vir sy andersdenkendheid. In veel wat Pitout skryf, gee ek hom gelyk, maar nie in alle opsigte nie.
Kortliks die volgende: Ons móét daarmee rekening hou dat God 'n verhewe Wese, en nié ons menslike gelyke is nie. Om dus na Hom, begripsgewys (as "cool"), op dieselfde wyse te verwys as wat ons na 'n voorwerp, persoon of situasie met "cool" sal verwys, is vir my 'n aantasting van Sy Goddelike karakter - 'n "familiêr" grensuitwissende gelykstelling. 'n Verdere voorbeeld van dié gelykstelling: My kleinseun het ook leer sing: "Jesus is beter as Superman, Spiderman, Batman..." (By die kerk? skool?) Wéér deel God en mens dieselfde verhoog, terwyl Jesaja 40:18 sê: "Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?"Is ons nie juis, met begrippe soos "cool" en verwante liedjies, besig om subtiel-ongemerk ons eie menslik-afgodiese "woordebeeld" van Hom te maak nie?
Daar is beslis 'n grens tussen God en mens wat nié na willekeur oorskrei mag word nie. Ons leef juis in 'n tydsfase van grensuitwissing, ook tussen God en mens. (Dink aan ANC-uitsprake oor God.) Waar is die grensbepalers en -bewakers van ons dag? Spreuke 22:28 sê: "Moenie grense verlê wat lankal daar is nie..." , maar steur ons ons nog hoegenaamd aan die grensvoorskrifte van die Woord?
Pitout, vir my het transendentaal-vertikale Woordgesag die laaste sê oor "cool" betreffende God, Sy Raadsplan en ons geloofslewe; nie selfs die heel gesaghebbendste horisontale woordeboek nie.
No comments:
Post a Comment