Thursday 4 September 2014

Skuif in grondwetbasis en skoolgodsdiens

Ek verwys na die berig "Heksejag op Christenskap" (DB,03.09). Wat daarin berig word, is die direkte gevolg van die vervanging van ons voor-1994 Christelik gebaseerde grondwet, met 'n humanisties-liberaal-sekulêre grondwet   -    in demokratiese gietvorm   -   opportunisties uitbuitend gemanipuleer deur die ateïsties-georiënteerde marxisties-sosialistiese ANC-regime. Dit is dus geen verrassing dat die Godheid deur dié ideologie die nasionale deur gewys word nie.

Christene bely God as die Skepper van hemel en aarde; tegelyk ook die soewereine eienaar, sonder enige voorbehoud, daarvan. Dit maak Hom eienaar selfs van die skool, met alle  -verwante sake, waarvan ons Sy bestuurders is met opdrag om Christenburgers vir 'n Christelike samelewing op te voed. Opvallend is juis dat, sensusgewys, S.A. 'n Christen-meerderheidsland is. Met die oorgang na die nuwe bedeling het dié meerderheid, deur apatiese swygsaamheid   -   tragies ironies   -    toegegee dat 'n bedeling op ons afgedwing word ten einde die nie-Christelike minderheid getallegewys ondemokraties te akkommodeer en selfs aan bewind te stel. Vandag pluk ons allerweë, nasionaalwyd, die vrugte daarvan.

Terug by die skool en godsdiens, sê 'n Potch-predikant oor RSG God se soewereine eienaarskap oor die skool moet ontken word deur Hom, kompartementaliserend, tot die ouerhuis te beperk. Wat 'n teleurstellende toegewing aan die nie-Christelik sekulêre magte, direk in stryd met die Bybelgeprojekteerde Goddelike gesagsbeeld. Intussen sing protestants-afvallige Christene steeds: "Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis..." Hoe het die geloofshelde van ons dag tog nie geval nie, want, in plaas van opstaan vir Christus, bly Christene kapitulerend rus op hul louere in 'n selfgeskepte,  -tevrede geloofsgemaksone, aanvaardende 'n skolebedeling sónder Christus.     (ngn)






1 comment:

  1. Dankie hiervoor Tommie. Soos jy het ek ook 'n lang onderwysagtergrond. ‘n Godsdiens-neutrale skool is ‘n oksimoroon... Die algemene fout wat mense maak, is om te dink dat die nuwe onderwystelsel “neutraal” is. Geen opvoeding van kinders , by die huis of skool of waar ook al, kan neutraal wees nie. Dit is altyd waarde-bepaald. Dit bepaal ook die KEUSE van handboeke ( wat weer te make het met die INHOUD van die handboeke...) - lees ouers nog wat in kinders se handboeke /werkboeke staan??

    Opvoeding is in wese nie bloot net die oordra van kennis of vaardigheidsontwikkeling nie, maar ook (en veral!) karaktervorming. Om ‘n karakter te vorm beteken om gesindhede, houdings en waardes aan te leer, om te kan onderskei tussen reg en verkeerd. As Bybelse waardes nie by skole geleer mag word nie, watter “mens” se waardes stel ateïste in die plek daarvan voor? Hitler? Stalin? Marx?

    ReplyDelete