Ek verseg om die begrip "cool" deel van my woordeskat te maak. Indringer-vreemdeling in die Afrikaanse taalhuis, dui "cool" vir my op 'n denkluiheid om 'n gepaste plaasvervanger daarvoor te vind. Eke ding het 'n tyd en plek. Dit geld ook "cool", en die kontekstuele gebruik daarvan.
Dit wat ek van die onvanpaste gebruikmaking van "cool" in my negejarige graad-drie kleinseun se junior kategese werkboek - met die titel "Die Coolste Plan" - lees, vind ek ontstellend. In die opsomming aan ouers word gesê: "Jesus het God se "cool" plan aan sy (kleinletter) dissipels verduidelik" (p.8); "Die lewe is dalk "uncool" - die Plan nie" (p.9); "God se "cool" plan..." (p.10); "Hy het sy (kleinletter) "cool" plan in Abraham se lewe begin..." (p.33); "Josef...kon raaksien hoe sy lewe by God se "cool" plan inpas" (p.34); "God se tien goue reëls vir 'n "cool" lewe" (p.53); "Loof God, die "cool" Planmaker" (p.55).
Ek vind hierdie kategetiese ge-"cool" van God en Christus aanstootlik, beledigend vir die Godheid en verwerplik. Ondersteun predikante hierdie "cool" Godsbeskouing en die geloofstoerusting van ons Christenjeug, daarop gebaseer, in hierdie soort kerklike onderrigtaal, óf is hulle totaal onbetrokke daarby en daarom onbewus daarvan? Watter Christene aanbid 'n "cool" God met 'n "cool" plan vir 'n "cool" geloofslewe?
As Christengelowige grootouer vind ek dit skokkend, en maak ek ten sterkste beswaar teen dié tegelyk respeklose en Godonterende ge-"cool" van God en Christus, en die subtiel geloofsdestruktiewe invloed daarvan op ons Christenjeug. Vrae soos: vanwaar dié werkboek? wie het dit gekeur/voorgeskryf? is dit algemeen in kerkgebruik? moet beantwoord word.
Stem van harte saam met jou Tommie!
ReplyDelete