Iemand wil weet óf ek kennis dra wat predikante tydens "retreats" doen, en verwys my daarvoor na dr."Kaaiman" Schutte en prof. Yolanda Dreyer, UP-teoloog, se artikel: "Monastic retreat and pastoral care in the Dutch Reformed tradition". Hulle beweer dat daar 'n toenemende belangstelling in mistieke spiritualiteit en "retreats" onder predikante van die Nederduits-Gereformeerde tradisie voorkom, en ondersoek die relevansie van die monasties-mistiese tradisies vir "retreats" vir die Gereformeerd-kerklike tradisies wat as van 'n afskeidend, rasionele en dogmatiese spiritualiteit beskou word.
Dié "monastic retreat" word aanbeveel as model vir die Gereformeerde tradisie. Dit is baseer op 'n sosiaal-konstruktiwisties holistiese model waarvolgens gereformeerdes, as spiritualiteitsgetransformeerdes, by die ekumenies-katolieke eenkerk-wêreldbeweging kan inskakel.
"Retreat"-gangers word aangemoedig om hul "stories", saambindend en van terapeutiese waarde, met mekaar te deel wat die tradisionele geloof in 'n ander rigting kan stuur (as wat die Bybel leer?) Só kan 'n nuwe teologies-paradigmatiese geloofsraamwerk ontstaan (wat vanaf kansels gepropageer kan word?) Tydens "meditasie" (?) ervaar deelnemers veranderinge in asemhaling, hartritme, metabolisme, breingolfaktiwiteit, bloeddruk en bewussynslewe.
Genoeg om te weet dat die kenmerke van hierdie "retreat"-praktyk sterk herinner aan die "New Age"-spiritualiteit van ons dag wat kerke, ook die NG Kerk - volgens Schutte en Dreyer se bewering - toenemend binnedring. Tereg mag gevra word: Adem dit die Gees van God se Woord, of van 'n ander gees? Is predikante dit nie aan lidmate verskuldig om te sê wat hulle by hierdie "retreats" doen nie? (ngn)