Friday 3 October 2014

Waarheid op die Belhar-altaar geoffer

Bennie du Preez (DB,02.10) is korrek as hy sê Belhar word "al te suutjies" hanteer, die proses wat dit dryf, "word bevraagteken", en 'n "fyn spel (word) gespeel".

Die NGK-leierskap maak gebruik van alle moontlike middele en metodes om Belhar tot binne dié kerk te stoomroller. Elke geleentheid word op 'n uiters eensydige, feitlik subtiel indoktrinerende, wyse vir dié doel benut. Een van die mees geslaagde manipuleringsvorme tot dusver, is die volgehoue ont-  en miskennende weerhouding van inligting aangaande die "ander kant" van Belhar soos verwoord, en beskikbaar, in artikels en boeke deur gesaghebbende skrywers oor dié onderwerp. 

Van kerkleiersweë ontbreek dit lidmate aan gebalanseerde inligting omdat dié leiers dit doelbewus van hulle weerhou. Ten spyte van duisende lidmate wat reeds dié kerk verlaat het vanweë ontevredenheid daarmee, en nóg duisende lidmate wat dit waarskynlik ná aanvaarding van Belhar gaan verlaat, hou kerkleiers hardnekkig vol met 'n ingesteldheid van: As hulle dan wil gaan, laat hulle gaan!

Lees, bestudeer en oordeel self wat ingeligte en gesaghebbende kerkleiers, teoloë en voormalige moderators van die "ander kant" te sê het oor Belhar in, byvoorbeeld, die boek, "Belhar Geweeg", waaraan agtien skrywers meegewerk het in 'n poging om lidmate uit hul deur-kerkleiers-gehipnotiseerde toestand te laat wakkerskrik. Daarin kan die meelewende lidmaat lees hoe waarheid op die Belhar-altaar geoffer word.




1 comment:

  1. Jou woordkeuse van "stoomroller" is vol in die kol, Tommie. Ek reken honderduisende Rande ( indien nie miljoene nie) is spandeer vir die landswye propaganda-masjien. ELKE gemeente het 'n "toolkit" ( die Kerkbode se woord) ontvang, daar is by ELKE gemeente GRATIS spesiale Belhar-Kerkbodes afgelewer, bo en behalwe die feit dat spanne ( teen watter koste wonder mens) deur die moderamen afgevaardig is om landswyd na streeksinodes, ringe en gemeentes te gaan om "die boodskap" van Belhar te gaan verkondig. Hier is 'n baie goeie uiteensetting van Ds Jan Louw oor Belhar. Op dieselfde webwerf is 'n hele paar ander stukke oor Belhar ook te lees:

    http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/103-belharbelydenis/830-belhar-n-futiele-oefening.html

    ReplyDelete