Tuesday 14 October 2014

Verafrikaniseer óf word gepik

Dr. Louis van der Walt se brief, "Hoekom die ewige gepik op wit mense?" (DB,13.10), vertolk ek as 'n retoriese vraag wat nie noodwendig verwag om beantwoord te word nie. Tog dink ek dat hy hiermee die geleentheid wil skep vir selfstandige meningsvorming, en argumentasie wil stimuleer, oor 'n uiters aktuele aangeleentheid.

Wie ook al 'n antwoord wil waag, sal vind dat dit nie simplisties, maar wel kompleks en veelfasettig is. "Pik" kan in sovele kontekste, ook figuurlik gesproke, betekenisvol aangewend word. Kaïn sou kon beweer God pik op hom; Esau dat Rebekka op hom pik; Josef se broers dat Jakob op hulle pik; en so meer. "Die onderwysers pik op my", is menige skoolkind se verontskuldigende verweer.

Van der Walt se vraag verwys spesifiek na wit mense op wie, in 'n multikultuerele samelewing, gepik word. Laat ons erken dit is geen vreemde verskynsel nie. Die Franse Hugenote is gepik tot ver-Hollandsing. Sedert 1806 het die Engelse SA se inwoners gepik tot anglisering. Vandag word ons gepik tot verafrikanisering. Wie nie daartoe wil konformeer, word gepik.

Is wit mense, wat voor 1994 verkeerdelik gemeen het SA kan konformeer tot 'n westerse demokrasie, nie self te blameer dat op hulle gepik word nie? In 1980 reeds waarsku die Duitse kenner van die internasionale politiek, dr. Bruno Bandulet, in sy boek, "Fool's Gold for Africa" : "democracy is not on the African agenda...(they) are only similar to Western democracies in their outward form, not in the content of the political system."

Wou ons hulle dan nie verwesters nie; nou is rolle omgekeer? Dus: verafrikaniseer óf word gepik.








2 comments:

  1. Herinner die feit dat die verskillende volkere mekaar nie verstaan / verdra nie, nie sterk aan die beeld in Daniël 2 nie? Oor die voete en die tone lees ons die volgende ( v 43) : "Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het—hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie. "

    Een van die dinge wat Orwell in sy "Animal Farm" ook probeer aandui het is hoe dit gaan wanneer mense teen hulle aard optree...

    ReplyDelete
  2. 'n Kraakvars voorbeeld is Zuma se siening dat korrupsie net in die Westerse paradigma bestaan – dit is 'n "gepik" na die hele Westerse wêreld! :

    http://maroelamedia.co.za/blog/nuus-in-konteks/nuuskommentaar-die-korrupte-wereld-volgens-zuma/

    ReplyDelete