Wednesday 22 October 2014

ANC moet menslike behoeftes prioritiseer

'n Foto kan soms sodanige trefkrag hê dat dit meer as 'n duisend woorde sê, en veel meer vertel as wat selfs die knapste joernalis kan rapporteer. Sekerlik een van die heel treffendste foto's wat voor 1994 deur die anti-apartheidaktiviste propagandagewys vir hul rewolusionêre stryd ingespan is, is die foto van die sterwende Hector Pieterson wat  -   getref deur 'n dwaalkoeël   -   op 16 Junie 1976 in Soweto deur 'n medeleerling gedra word. Hierdie foto, internasionaal versprei, het aan beide slagoffer en sy draer onmiddellik onsterflike heldestatus besorg wat stuwende buitelandse simpatie aan die ANC-rewolusie verleen het.

Vandag is die SA-skoen aan die ander voet en is daar, ongetwyfeld, dié situasies   -   waarvoor alleen die ANC verantwoordelik gehou kan word   -   wat óók op foto's vasgelê kan word vir die doel van anti-ANC-propaganda. Sulke foto's, soos van die gebreklydende verarmde massas   -   swart, bruin én wit   -   van SA, in skrille kontras met die weelde van ons korrupte nommer een wat by Nkandla woon, behoort in parlementêre sale, kantore en wandelgange, asook in staatsgeboue, aangebring te word. Maar sal ook dìt enigsins help tot die aanspreek van die gewetenloses wat veronderstel is om ons nasionale gewete te verteenwoordig?

Die voorbladfoto (DB,21.10) met die byskrif: "Hier was eens 'n skool", dien vir my as voorbeeld van 'n foto wat sterk simboliese seggingskrag van verval onder die ANC verteenwoordig, en, verder: "Net pilare...is wat oor is van 'n skool van R40 miljoen...(deur) vandale...steen vir steen weggedra, het Pulumane (ANC) gesê". Vandale, of na-verkiesings bedroë woningloses? Is onderwyssukses moontlik sonder behoorlike huisvesting? Vir dié vandale is onderwys sekondêr tot hul primêre woningnood. Die ANC moet ernstig besin oor die prioritisering van menslike behoeftes.





1 comment:

  1. Goeie plasing, dankie Tommie. Hoe kan ons iets anders verwag, met leiers wat geen morele kompas het nie?

    Jy word soos jou god of afgod of dit wat jy aanbid – dit is 'n Bybelse beginsel:

    "Hulle afgode is silwer en goud, ‘n werk van mensehande. Hulle het ‘n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; ore het hulle, maar hoor nie; hulle het ‘n neus, maar ruik nie; hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie. DIE WAT HULLE MAAK, SAL NET SOOS HULLE WORD—ELKEEN WAT OP HULLE VERTROU. Psa 115:- 8:

    Ons weet dat geld die meeste van hulle se afgod is, en geld is YSKOUD en KLIPHARD!

    ReplyDelete