Dit is met verbasing dat ek F.W.de Klerk (DB,03.10) se argaïese uitspraak lees dat SA eens " 'die baken van hoop' (was) vir 'n wêreld wat op soek is na geregtigheid, versoening en integriteit en 'n beginselvaste regering". Dié "eens" lê egter baie ver terug in die verskiet waarmee De Klerk verwys na die bloedlose op-'n-skinkbord-oorgawe van SA deur die NP aan die ANC. Dit is ook waar dié "baken van hoop" in 'n onderhandelde "papierdemokrasie" geëindig het.
Die korrupte ANC-beheerde SA sedert 1994 'n simbool van internasionale hoop? Nog nooit! Ja, net so ver as wat dit volledige magsoorgawe betref. Nie eers die Mandela-tydperk slaag in die toets vir 'n ANC-regering as een van geregtigheid, versoening, integriteit en beginselvastheid nie. Moenie vassteek net by die lees van "Long Walk to Freedom" nie, maar lees óók Mandela se volledige Robbeneiland-manuskrip (in 1977 daaruit gesmokkel) waarop dié boek kamoeflerend gebaseer is. Daarin kan gelees word wat Mandela se werklike rewolusionêre agenda vir SA was.
Van die Dalai Lama-sage in die besonder sê De Klerk: "...die land (SA) se buitelandse beleid behoort die waardes van die grondwet te weerspieël." Ons almal weet dat dié waardes géén plek het in die rewolusionêre ANC-denke nie, maar na willekeur met minagting bejëën word, soos in dié geval verruil word vir onderdanigheid aan die geesgenootlike Chinese.
Waarom beoordeel, konfronteer en spreek De Klerk nie die ANC ook aan oor sy binnelandse beleid - van die openlik onbeskaamde benadelende onderdrukking van minderheidsgroepe - volgens dieselfde waardes nie? De Klerk bly steeds die opportunistiese pragmatis.
En waarom het De Klerk ons nog nie vertel waarom hy daardie dag uitgestap het uit die parlement, en sommer uit die Regering van Nasionale Eenheid nie? Dit was die "tweede bloedlose oorgawe" en net so ingrypend as die eerste ...
ReplyDelete