Wednesday, 18 July 2018

Christene moet onderskei tussen waardes



Sonder om enigsins afbreek te doen aan Mandela se versoeningsrol, sy heldestatus en mense se reg om hom te vereer, kan ek egter nie meedoen aan die huidige Mandela-euforie en  -histerie wat Suid-Afrika tans oorspoel en plek-plek grens aan verafgoding nie.

In "Mag ons álmal inhoud gee aan Madiba-waardes" (18.07) word gesê: "...dié koerant (is) diep dankbaar vir die invloed wat Madiba...op ons samelewing uitoefen...Mandela laat ons met 'n morele kompas...oor wat...die regte ding is om te doen". Hoe lyk dié "morele kompas" waarvolgens hy aborsies gewettig het en duisende babas sedertdien voorgeboortelik geaborteer is? Was dit die "regte ding" om te doen? Wat sê dit van sy waardes en die bron van sy waardes?

As Christengelowige het ek geen behoefte aan Mandela se sekulêr-humanisties gesentreerde waardestelsel en  -hiërargie in soverre dit nie ooreenstem met Christus se waardes soos in Sy Woord daargestel nie. Die Mandelawaardes weerspieël die veranderde geloofsparadigma van die nuwe Suid-Afrika. Die bron van ons waardes is juis die diepste oortuiginge van dit waarin ons glo.

Christengelowiges moet duidelik onderskei tussen die Christelike geloofswaardes en die "nuwe" geloofswaardes, en eersgenoemde aanwend as kriteria vir die beoordeling van laasgenoemde waardes, waaronder dié van Mandela.








Sunday, 24 June 2018

Gelofteverbreking lei tot strafgerig




Die eens trots volwassewordende Afrikanergemeenskap bevind hom op 'n pad van vernietiging. Redes daarvoor is van 'n eksterne sowel as interne aard. Betreffende laasgenoemde rede, werp Flip Swanepoel, vanuit 'n historiese perspektief, in 'n interessante artikel meer lig daarop.

Swanepoel beweer dat die Trekkers, en veral hul nasate, nie die Gelofte van 16 Desember 1838 getrou nagekom het nie. Die gevolg was die verlies van ZAR-onafhanklikheid in 1877 toe Shepstone dié republiek onder Britse vlag geannekseer het.

In Desember 1880 is die Bloedrivier-gelofte hernu, asook 'n nuwe een by Paardekraal deur klipstapeling met God gesluit. Die oorwinning oor die Britte by Majuba in 1881 en daaropvolgende herstel van onafhanklikheid, word vertolk as die resultaat van dié hernude geloftesluiting.Wéér is dié geloftes verwaarloos wat kulmineer het in die verwoestende Tweede Vryheidsoorlog   -  gelofteverbreking wat sou lei tot strafgerig.

Ook vandag word, lank reeds nie meer, dié geloftes eerbiedig nie. Hedendaagse Afrikaners móét toegee dat hulle hulself ook op 'n pad van selfvernietiging geplaas het, en nie net ander daarvoor moet blameer nie. Waarskynlik is Afrikaners die mense wat die meeste Bybels besit, maar dit nog die minste lees, en daarom nie weet wat in Deuteronomium 23:21-23 geskryf staan nie: "As jy aan die Here jou God 'n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie..."

Gesien vanuit 'n historiese perspektief, moet Afrikaners vandag, primêr, selfblaam aanvaar vir die situasie waarin hulle hulself bevind.






Sunday, 10 June 2018

Dit móét ANC in sy geskiedskrywing vertel



In die lig van die ANC se voorgenome herskrywing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, is dit noodsaaklik dat ook vertel sal word hóé die ANC aan bewind gekom het. As leerders oor dekades op skool kon leer van die 19de eeuse tragiese selfmoord van die Xhosas, behoort hulle ook te leer van die ewe tragiese wyse van prysgawe van die eeue-oue Afrikanerideaal van volksvryheid en  -onafhanklikheid waarvoor voorafgegane geslagte talle lewens tydens twee vryheidsoorloë   -   asook talle jong lewens tydens die Angolese grensoorlog   - soos dit nou blyk, tevergeefs opgeoffer het.

Wat die ANC nooit deur middel van sy militêre vleuel kon bereik nie, het hy egter tydens die Kodesa-onderhandelinge, figuurlik gesproke, op 'n skinkbord van die laaste NP-regering ontvang. Dat dit so is, blyk by monde van die getuienisse van persone soos Roelf Meyer (hoof NP-onderhandelaar), genl. George Meiring (SAW) en Johann Rupert (sakeman).

Die Burger (06.06) rapporteer dat Meyer sê: "Nee, ons het nie 'n plan gehad nie...(en) het vir 2 1/2 jaar voortgeploeter..." Meiring sê: "FW de Klerk was nie op hoogte van wat by Kodesa aangegaan het nie. Hy het elke tweede week daar aangekom...(terwyl) Nelson Mandela en Cyril Ramaphosa gereeld ingekom en gekoukus het oor wat nodig is...die NP-regering net voor 1994 (was) die swakste wat ons ooit gehad het." Rupert sê: "Die NP was goedgelowig en naïef in die onderhandelinge...(en het) talle flaters begaan...(sodat) Cyril hom doodgelag het daaroor."

Die oorwinnaar (her-)skryf die geskiedenis. Hierdie vrotsige NP-staatsmanskap van geen plan, 'n geploetery, goedgelowige naïewiteit en talle flaters, móét deur die nuwe geskiedskrywing vertel word sodat die waarheid van 'n ANC-oorwinning by Kodesa, wat op NP-kapitulasie berus, daaruit sal blyk.





Sunday, 3 June 2018

Nasionale huisvensters word toegebou



Tydens 'n kuier by ons jongste seun in Engeland, besoek ons ook Bath bekend vir sy antiek Romeinse openbare baddens. Wagtende by 'n verkeerslig, vra hy of ons weet waar die uitdrukking "daylight robbery" vandaan kom. Nee, ons weet nie.

Hy vestig ons aandag op die hoë geboue weerskante van die straat met duidelik sigbaar toegeboude openinge waar aanvanklik vensters was. Dié toebouery was 'n reaksie op die Engelse koning, Willem 111, wat, vanweë geldnood, in 1690 'n  vensterbelasting op alle geboue   -   uitgesonderd kothuise   -   ingestel het. Dit sou letterlik lei tot die diefstal van mense se lig en lug.

Ken Suid-Afrika dan nie ook sedert 1994 sy eie hand-oor-hand toegeneemde "daylight robbery" nie? "Koning" ANC, sowel as sy trogvretende amptenary, het 'n onversadigbare aptyt vir geld. Die jongste voorbeeld van so 'n selfhelp geldskema is die ongekende toename in transitorooftogte waarby selfs ook polisiebeamptes betrokke is. Tans word misdrywe teen tien generaals ondersoek.

Ten spyte van die toenemende verlies aan vertroue in gulsige "koning" ANC en sy regering, stem die massas op stemdag voorspelbaar maar weer vir hul "koning" en sy geldhonger, en sy gebrek aan optrede teen diefstal, algemene kriminaliteit en korrupsie, waardeur die ondergeskiktes verder verarm. Die lig en lug, boustene vir 'n hoopvolle toekoms, word van hulle gesteel.

Deur gewetenlose geldvraatsug, maar ook deur vandalistiese vernielsug, word ons nasionale huis gedwing om van sy vensters toe te bou tot nadeel van alle Suid-Afrikaners   -   veral die armstes van die armes wat reeds alle hoop op die vooruitsig van 'n beter lewe verloor het.    (ngn)








Monday, 14 May 2018

'n Vraag voortvloeiende uit die retoriese vraag




Ons ken die antwoord op Danie Botha (14.05) se retoriese vraag oor wie "our people" vir pres. Ramaphosa is maar al te goed ten spyte van sy geswore onderneming as staatshoof om "the Republic and all of its people" se dienende staatshoof te wees.

Waaruit blyk ons antwoord beter as uit wyle dr. Mario Oriani-Ambrosini   -   gewese IVP-parlementslid en raadgewer van dr. Gatsha Buthelezi   -   se memoirs: "The Prince and I : A South African Institutional Odyssey" waarin hy verwys na 'n opmerking deur Cyril Ramaphosa (voor sy ampsaanvaarding as staatspresident) by geleentheid teenoor hom gemaak, naamlik: "Ramaphosa told me of the ANC's 25-year strategy to deal with the whites : it would be like boiling a frog alive... not noticing the slow temperature increase...the black majority would pass laws transferring wealth, land, and economic power from white to black slowly...until the whites lost all they had gained in South Africa...without taking too much from them at any given time to cause them to rebel or fight."

Beteken dit nie ampsverraad   -  in terme van die grondwet   -   sou hy dié opmerking tot praktyk maak nie, 'n vraag voortvloeiende uit Danie Botha se retoriese vraag? 




Sunday, 29 April 2018

Hoe vier ons vryheid by gebrek daaraan?




Nie almal deel in die entoesiasme van Vryheidsdagvieringe nie. Bedoel as nasionaal inklusiewe viering, wys die praktyk eerder op 'n eksklusiewe vieringswyse as 'n hoofsaaklik ANC-viering met       -toesprake. Ek het begrip daarvoor indien toegegee word dat voor 1994 Republiekdag en Geloftedag in hoofsaak Afrikaner-gedenkdae met  -toesprake was waaromtrent ook nie almal  gelukkig was nie.

My gebrek aan deelname aan dié dag sentreer nie primêr rondom die ANC se kaping   -   om verstaanbare redes   -   van dié dag nie, maar weens die ANC se vernietiging van die vryhede wat die grondwet ook aan minderheidsgroepe toeken.

Die grondwet maak beginselgewys die samelewingspeelveld gelyk vir almal wat regte en vryhede betref. Sedert 1994 stel die ANC egter progressief vryheidsbeperkende maatreëls in op die grondwetlik toegekende vryhede van minderheidsgroepe. So vind ANC-diefstal en  -plundering van minderhede se taal-, onderwys-, sport-  en ekonomiese vryheid, asook van besit-  en eiendomsvryheid, plaas. Is dit iets om op Vryheidsdag met entoesiasme te vier?

Afrikaners  se historiese goed-en-bloed opofferende bydraes tot SA se bevrydingstryd teen Britse kolonialisme en imperialisme geniet géén erkenning van ANC-kant nie. Waarom sal ek dus veinsend valslik voorgee dat ek in ANC-vryheidsvieringe deel terwyl ek sienderoë van my grondwetlik toegestane regte en vryhede ontneem word?

Ons talentvolle jongmense, wit én bruin, verlaat SA in hul duisendtalle weens dié vryheidsverlies waaraan hulle onderwerp word. Die ongrondwetlike berowing van ons vryhede lei tot die vraag: hoe vier ons vryheid by gebrek daaraan?




Sunday, 22 April 2018

Oosthuizen wil sy eie kerkreëls formuleer






In Murray la Vita se Oop Kaarte, Bloedspoor van die Kerk (20.04), openbaar Jean Oosthuizen homself soos 'n eiewys seuntjie wat weier om saam met sy maats te speel volgens die reëls van hul kinderspel; hy wil speel volgens sy eie reëls. Dit maak hom kwaad.

In sy aanklag teen die NG Kerk ken hy aan homself 'n slagoffersrol toe. Ter aanvang moet ons egter onthou wát die kerk is, te wete die Liggaam van Christus waarvan Hy die hoof en eienaar is. Hieraan gee hy geen erkenning nie en wek die indruk van die kerk as menslike instelling.

Indien die NG Kerk 'n valse kerk geword het volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis, art.29, en Oosthuizen, soos Martin Luther, hom protesterend beywer vir die hervorming daarvan, ondersteun ek hom. Maar nee, inteendeel, hy is ten gunste van die transformasie van dié kerk volgens 'n kerkbeskouing wat teen Bybelse waarhede en voorskrifte   -   as die spelreëls vir die kerkspel   -   indruis.

Wat die Godheid as hoof van die kerk betref, het God vir hom bloot 'n metafoor van die onbekende geword; nie belangrik genoeg om hom daarmee te bemoei nie. Hy vind wonderlike mense onder ateïste. Besinning oor die nadoodse is irrelevant. As webmeester van Kletskerk op die internet het Oosthuizen, reeds in 2011, toegelaat dat dit as mondstuk vir erge godslastering deur ateïste sou dien.

Wanneer Oosthuizen sê: "God is nie meer vir my daai teïstiese god wat die kerk se belydenisskrifte vir ons vertel Hy is nie", is dit duidelik dat Oosthuizen hom op 'n volgens-eie-oordeel selfgemaakte kerkweg bevind. Kommerwekkend, egter, is sy aanspraak op die steun wat hy van " 'n hele klomp dominees" geniet, iemand wat sy eie reëls vir kerkwees wil formuleer.                     (ngn)






Tuesday, 17 April 2018

Skrywer dra nie by tot probleemoplossing nie



Ek verwys na PvD se brief (16.04). Ek kan my nie 'n vroeëre soortgelyk rasongevoelige skrywe teen wittes herinner nie. Geregtig op sy mening, verskil ek egter radikaal daaromtrent.

Soos die filantroop-sendeling, dr. John Philip   -   sterk beïnvloed deur die bon savage-filosofie tydens die Franse Rewolusie   -   die Kaapse oosgrensboere voortdurend blameer het vir alles wat op dié grens verkeerd geloop het, so beskuldig PvD die wittes vir dit wat vandag in S.A verkeerd is. 

PvD gebruik honde as metafoor waarvolgens hy dan wittes met 'n maltese poedel, en swartes met 'n rottweiler vergelyk. Sy keuse van moeilik vergelykbare hondtipes in hul grootte en kragstatuur, is veelseggend. Hy swyg egter oor die ideologies veranderde eienaar van dié honde en hoe elkeen vandag daardeur geraak word.

Hy beskryf die poedel as bevoorreg, lekkerleefstyl, weelderig, selfsugtig, neuroties, aggressief en terughunkerend na "goeie ou dae", kortom: arrogant, onsimpatiek en meerderwaardig teenoor die rottweiler. Die rottweiler trotseer die koue, aangewys op selfoorlewing, liefdeloos behandel, ly honger, kry die oorskiet, wil graag met die poedel deel, is vergewensgesind met 'n ubuntu-mentaliteit, dog sy geduld kan opraak, kortom: die goeie, mededeelsame een wat verwaarloos en teen wie gediskrimineer word. Versigtig net as dié rottweilerborrel bars!

Uit die voorafgaande vergelyking blyk PvD se ooglopende antiwit sentiment. Sy veroordelende beskuldiging van Solidariteit en Afriforum   -   wat vir wit benadeeldes en verontregtes, deur die nuwe ideologiese eienaar, in die bres tree   -   dat hulle " 'n groter gevaar vir wit Suid-Afrikaners is as Malema en grondonteiening sonder vergoeding", bevestig dié negatiewe sentiment.

PvD se skaamtelose aanval op wittes dra net by tot verdere bitterheid, rassepolarisasie en 
-vervreemding, en lewer geen bydrae tot die oplossing daarvan nie.












Sunday, 8 April 2018

Erken heldestatus binne kultuurkonteks





Die nadoodse heldeverering van Winnie Madikizela-Mandela roep onwillekeurig die spreekwoord: die een se held is die ander se skurk, na vore. Hoewel moeilik, glo ek Afrikaners moet die moreel hoë grond behou deur nie mee te doen aan dermryging oor haar as omstrede openbare figuur nie.

Elke kultuurgroep beskik oor die eie helde. Respekteer dié feit en gun elkeen sy held, ongeag die aanvaarbaarheid al dan nie van sodanige held vir ander. Ons kan nie maklik die heldestatus van ander se helde, soos Winnie, binne hul eie kultuurkonteks vernietig nie. Aanvalle op ander se helde verkwis psigiese energie wat eerder die eie helde toekom.

Afrikaners beskik oor 'n veelheid van helde binne 'n konteksteverskeidenheid soos die staatkunde, krygskunde, geneeskunde, taal-  en letterkunde, en nog vele meer. Ons ken die verguising van ons eie helde. Kritiek teen Winnie se omstrede lewe ontneem nie haar heldestatus vir haar bewonderaars nie. Dit geld ook Afrikaners se nadoodse bewondering vir wyle Hansie Cronje.

Die illusie van permanensie gaan mettertyd ook haar heldestatus, soos dié van Madiba, erodeer. Gun haar ondersteuners daarom die routydperk van hul "Mother of the nation" waarvan Afrikaners nie deel is nie. Heldeverering is 'n belangrike voederelement van ons psigiese energiereservoir, 'n energiekomponent wat vandag die Afrikanerpsige ontbreek.

Seker een van die grootste uitdagings binne alle SA-samelewingsfere van vandag, is die kweking van respek vir alle mense, hul lewens en eiendom, in 'n histories diepverdeelde heterogene bevolking   -   haat-  en wraakgedrewenes uitgesluit. 

Respek begin met selfrespek wat ook respek vir die eie helde insluit, maar toelaat dat diegene van wie ons verskil, ook hul helde mag respekteer binne 'n samelewing van respekwaardige burgers. Riglyne hiertoe is die wete dat ons maar almal breekbare erdekruike is, en dat, slegs deur ander te vergewe, ons self vergewe word.




Tuesday, 20 March 2018

Offers van ons Willie Steyns ongedaan gemaak?



In sy Oop Kaarte (09.03) sê Murray La Vita vir lesers waaraan Petrovna Metelerkamp haar Russiese naam te danke het, te wete vanaf haar oupa, Willie Steyn, 'n Afrikaner-volksheld vanuit die tyd van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902).

In sy boek, "Die Vyf Swemmers", vertel prof.C.J.Barnard die nagevorsde ware verhaal van Boerekryger Willie Steyn en sy makkers, gevang op die Vrystaatse slagveld en na die Groenpuntse krygsgevangenekamp vervoer. Na verskeie ontsnappingspogings word hulle per skip na Ceylon verban. Onderweg daarheen ontsnap hy en vier makkers in die hawe van Colombo, opgepik op 'n goedgesinde Russiese skip, en beland so in Rusland waar hy verskeie heldeontvangstes beleef.

Vasberade om na die Vrystaatse slagveld teen die Britte terug te keer, reis Willie Steyn vanaf Colombo na die Krim, Swart See, Oossee, St Petersburg, Hamburg, Lüderitzbucht en die Hantam terug na sy kommando, en neem dié onverskrokke Boerevolksheld weer die wapen na vele ontberinge teen die vyand op. Wat 'n voorbeeld van lojale patriotisme en heldemoed waarop die nageslag trots kan wees.

Ken ons as Afrikanernageslag die verledehelde, en eer ons nog hul nagedagtenis? Oënskynlik nie. In 1972 reeds het die historikus, M.A.S.Grundlingh, beweer: "...die huidige geslag jongmense is die enigste in die geskiedenis van die mensdom vir wie die lotgevalle van sy voorgeslagte grotendeels onbenullig skyn te wees."

Dit blyk dat, in kort tydsbestek, ANC-transformasie inisiatiewe suksesvol daarin geslaag het om ons Afrikaner-volkstatus   -   met ons medewerkende volksdefaitisme   -    te verlaag het na dié van 'n etniese minderheidsgroep. Maak ons tans die Willie Steyns se offers van goed en bloed ongedaan vir die nageslag deur afstanddoening van ons volkskulturele erfenis?








Monday, 12 March 2018

Gronddispuut 'n fase in die SA-rewolusie



Is die hoogs emosionele gronddispuut tot alle partye se bevrediging oplosbaar sonder inagneming van die algemeen historiese ontwikkelingskonteks van grondbesit ten einde daaruit te leer? In die totale afwesigheid van rasionaliteit beslis nie.

Europeërs van oorsprong is wel bekend met dié historiese ontwikkeling in Europese konteks met sy vroeëre feodale besittersklas-landheerstelsel enersyds, en nie-besittersklas belastingpligtige grondbewerkers andersyds. Hierdie samelewingsongelykheid sou tot opstand, die Franse Rewolusie in 1789, en die einde van die Franse monargie beteken.

Ook in Rusland sou 'n ongelyke klassestelsel in 1917 tot die kommunistiese Rooi Rewolusie lei waartydens die tsaar gedood, die werkersklas beheer oorgeneem, en grond uiteindelik genasionaliseer is   -   EFF-beleid   -   waardeur hongersnood en sterftes skerp toegeneem het. Vir hul bydrae tot die rewolusie het kleinboere grond ontvang, dog daarna uitgewis, en alle grond in kollektiefbewerkte staatsbeheerde plase omskep.

Demokratiese en ekonomiese ontwikkeling het mettertyd die regte van Europese indiwidue verbeter, ook wat grondbesit en eiendomsreg betref. Oor grond is steeds oorloë gevoer, 'n belangrike oorsaak van WO2. Na WO1 het die Vredesverdrag van Versailles, as strafmaatreël, die Duitsers van grond ontneem.

Vanweë 'n, historiesgewys, nog onlangse nomadiese bestaan, gemeenskaplik-kommunale grondbesit binne 'n outoritêre stamhoofstelsel (soos koning Goodwill Zwelithini vandag), het Afrika nog nie sy kinderskoene ontwikkelings-  en ervaringsgewyse ontgroei tot op dieselfde grondbesitvlak as Europa nie.

In die oorgangsfase van rewolusionêre grondeienaarsverwisseling maak rewolusionêres ook aanspraak op die onvoorwaardelike opeising van die beste van twee wêrelde   -   Afrika (kultureel) en Europa (materieel).

Met die ANC se lank reeds aangekondigde nasionale demokratiese rewolusie word die nasionale emosievlak doeldienlik deur die gronddispuut verhoog, aangestook deur die rasgedrewe en  
-raspolariserende uitsprake van Julius Malema   -   na wie se terugkeer tot die verswakte ANC  pres. Ramaphosa hard vry   -   onderwyl 'n passief duimerollende MRK goedkeurend toekyk totdat die SA demokratiese grondwet uiteindelik vernietig is en die ekstremistiese rewolusionêres hul diktatoriale eenpartystaat kan vestig.                     (ngn)










Sunday, 18 February 2018

Minister vra Afrika-filosofie vir onderwys




Die begrip filosofie, afgelei van die Griekse philia (liefde) en sophia (wysheid), beteken 'n liefde vir wysheid.  Jakobus (3:13-18) waarsku om, binne 'n veelheid van filosofieë, te onderskei tussen hemelse en aardse wysheid. Multikulturele Suid-Afrika bevat 'n verskeidenheid van mededingende filosofieë beskikkende oor konflikpotensiaal.

Elke filosofie probeer om die drie mees sentrale lewensvrae, te wete: wat is werklik aangaande mens en wêreld, wat is waar(heid) betreffende kennis, en wat is goed, verwysende na die lewenswaardevolle, te beantwoord. Antwoorde op dié vrae onderlê die ganse denkraamwerk oor 'n samelewingsnetwerk waaronder die staat, politiek, ekonomie, maatskappy en ook die onderwys, en dien tegelyk as impetus van samelewingsdinamiek.

In "Ons kan Afrikaans nie net weggooi" (29.01), maak onderwysminister Angie Motshekga die "regte geluide" wat Afrikaanssprekendes graag wil hoor, maar voeg daaraan toe dat " 'n Afrika-filosofie meer in die klaskamer toegepas moet word ...(en) Suid-Afrikaners moet verstaan (en leer) ...wat dit beteken om 'n Afrikaan te wees."

Ekself onderskei tussen die filosofie wat ons parlementêr grondwetlike demokrasie onderlê en die filosofie van Luthuli Huis. Wat my betref, is eersgenoemde filosofie stelselmatig deur die ANC gekaap en met laasgenoemde vervang. Dieselfde filosofietransformasie moet ook nou plaasvind,  volgens die minister se openbare bepleiting, ten gunste van die Afrika-filosofie in die onderwys.

Die transformasie van onderwysfilosofie moet sorg vir die kulminering in die totale verafrikanisering van die RSA-burgery. Sal dit beteken dat ook my eie Afrikaner-identiteit filosofies-transformerend gestroop en met 'n Afrikaan-identiteit vervang moet word?

As Christengelowige stem die minister se beroep op die Afrika-filosofie vir die onderwys my diep onrustig. Die maklike misbruik van onderwys, soos vir die doel van indoktrinasie, is juis die achilleshiel daarvan. Ons kan met reg van die minister verwag om die kontoere van haar visionêr geïdealiseerde implementering van die Afrika-filosofie in die onderwys vir die kennisname van alle onderwysbelanghebbendes sonder versuim uit te spel.










Sunday, 28 January 2018

Krisisgedrewe rewolusie transformeer SA



Die ANC-geskepte krisis by die Hoërskool Overvaal (HO) herinner sterk aan die Soweto-skolekrisis van 1976. Die Burger-voorbladopskrif: "One bullet, een Boerekind" (26.01), roep onwillekeurig die naam ook van wyle Hector Peterson na vore. (Weerspieël dié slagspreuk wraakspraak?)

ANC-strategie aangewend tydens die 1976-skolekrisis, asook nou die HO-krisis, toon merkbare ooreenkomste. In beide gevalle is onderwys, skoolkinders en die Afrikaanse taal bedrieglik gemanipuleer, dienstig aan die verwesenliking van die primêre ANC-doelstelling: totale beheer oor die SA burgerlike samelewing op alle lewensterreine.

Met Panyazi Lesufi se weiering om die regterlike uitspraak in die HO-regsgeding   -   in die lig van ouers, kinders en skole se grondwetlike regte   -   te aanvaar, steek hy doelbewus die lont van 'n potensieeel doeldienlik riskante kruitvat aan die brand.

Lesufi  se aanhitsende reaksie op die hofuitspraak strek egter veel verder. Hy toon daarmee sy minagting vir die nasionale ideaal van rasseversoening deur sy geïmpliseerde goedkeuring en aanmoediging van betogende protesaksie tot die polarisering van twee taalleerdergroepe. Hy saboteur die strewe na gesonde rasseverhoudings deur van die jaarliks gevierde Versoeningsdag op 16 Desember 'n klug te maak.

Met die HO-krisis vertoon die ANC nogeens sy ware rewolusionêre gesig, verskuild agter die masker van demokrasie, as 'n ideologie met geen respek vir, en erg aan, die grondwetlike regte van ander nie.

Oorkoepelend tot die rewolusiegedrewe ANC-agenda, staan sy openbaarverklaarde Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) sentraal as krisisskeppend ideologiese transformasievoertuig. Deur die skepping van rassespanning, die resultaat van krisskepping, bevorder eensydige ANC-"oplossings" sy rewolusionêre transformasieplan waarvolgens die regte van veral minderheidsgroepe minagtend vertrap word.

Reaksie teen dié ANC-tirannieke strategie bly nie uit nie, veral onder Afrikaanssprekendes, en dit word dan ook, onder meer, duidelik weerspieël in diasporiese emigrasiestatistiek, 'n uitvloeiende talenteverlies ter vertraging van die dringend noodsaaklike ekonomiese heropbou van SA.








Monday, 1 January 2018

Beskerm kind teen ongewensde simbole




Die Kerstyd maak ons besonder bewus van die bestaan van simbole. Die samelewing is 'n met simbole gevulde omgewing waaraan kinders, bewustelik of onbewustelik, blootgestel word. Dit is die taak van volwassenes, soos ouers, om kinders te help met simbool-identifisering,  -onderskeiding,     -betekeniswaarde en die doel en funksie daarvan.

'n Kritieke vraag aan veral Christenouers is of hul kinders  -  veral binne die simbole-kontekste van Kersfees en TV-kinderprogramme  -  die noodsaaklike leiding ontvang om ook tussen gewensde en ongewensde simbole te kan onderskei. Self is veral die kleiner fantaserende kind nie tot onderskeiding in staat nie, waardeur die kwesbaarheid van so 'n kind verhoog word.

Binne die konteks van Kerssimbole soos dié van Kersvader, -boom, takbokke met slee en kersgeskenke, het veral die jong kind beslis hulp nodig om tussen gemelde sekulêre simbole en Bybelfundeerde simbole soos dié van die baba in die krip, Bethlehemster en wyse manne te kan onderskei. Ons móét ons kinders/kleinkinders met hierdie noodsaaklike simbole-onderskeiding, en hul onderskeie betekeniswaarde, bystaan.

Binne die konteks van sommige TV-kinderprogramme vind ek dit skrikwekkend tot watter mate ons kinders blootgestel word aan die kwistige gebruik van simbole wat ek sonder enige twyfel as van 'n okkulties-diaboliese aard tipeer. Of ouers altyd hiervan bewus is, is 'n vraag van lewensbelang.

Diegene van ons wat ons kinders/kleinkinders liefhet en kosbaar, dog kwesbaar, ag, behoort 'n gevoeliger ingesteldheid aan die dag te lê vir die simbole waaraan kinders blootgestel word, en hulle veral te help met die gewensdheid of ongewensdheid van sodanige simbole. Sodoende kan ons help om potensieel permanente skadeberokkening aan die kind te beperk.