Friday, 28 March 2008

Christenvroue, dink weer

Meer as 'n jaar gelede het Media in Afrika 'n sprong gemaak  "tot onder die Christenvrou se komberse", word berig in die artikel,  "Seks verkoop, selfs in die mark vir Afrikaanse Christelike tydskrifte" (DB,06.03.2008). So is die  "sekstydskrif vir die Christenvrou...Intiem...gebore" , voorafgegaan deur gesprekke met 'n Christen-seksuoloog én 'n predikant.

Die formaat hiervan is in 'n diskrete handsak-grootte en die  "seksposisies word deur sketse geïllustreer."  "Benewens... intekenare en rakverkope"  is daar nou 'n derde inkomstestroom: seksspeelgoed.

In Desember is  21 000  eksemplare verkoop. 'n Snelgroeiende mark word voorsien om dit weldra tot  50 000 op te stoot, en van vier uitgawes per jaar na ses in  2009. Selfs die internasionale mark word bestudeer.

Die wyse waarop Christene aan hierdie kant  "reis" , het implikasies vir hul bestemming aan die ander kant. Die Bybel as die geïnspireerde Woord van God laat sigself nie onbetuig aangaande dié  "reis"  nie. Dat die Skepper seksualiteit aan Sy skepsels gegee het om mekaar ten volle te geniet binne die grense van die huwelik as Goddelike instelling   -   in besonder met die doel om kinders te verwek   -   spreek veral uit Hooglied van Salomo.

Het die Skeppergees dan géén sê oor  "wat tussen die komberse gebeur"  met die seksuele gawe wat hy aan mense gegee het nie? Sê Hy dit nie duidelik deur Sy Gees in die Woord nie? Is laasgenoemde onvoldoende vir sommige Christenvroue dat hulle dit moet aanvul met seksspeelgoed,  -posisies en  -tydskrifte, gehul in diskreetheid? Wanneer word die grense van wellus oorskry?

Paulus sê in  1 Korintiërs 6:18-20: "Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie...iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam...besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle moet God...in julle liggaam verheerlik."

Kan dit wees dat sommige Christenvroue seksueel onbevredig gelaat word omdat die Gees tydens seks afwesig is weens Sy onwelkom-wees? Christenvroue het 'n keuse tussen 'n Geesbegeleide seksuele gedragskode en 'n wêreld-begeleide seksuele gedragskode. Verskil die seksuele gedrag van vroue-van-die-Lig dan nie van dié van vroue-van-die-nag nie?

Kan 'n sekstydskrif op die lewensoseaan vaar onder die vaandel van die Kruis, en, Christenvrou, voel jy tuis met jou diskrete sekstydskrif,  -speelgoed en  -posisies aan die voete van Jesus? Christenvroue, waak teen gekommersialiseerde eksploitasie wat nie bevredig nie, en: dink weer!

Wednesday, 19 March 2008

Geen 'rassisme'-tema

Piet Delport se brief,  "Rassisme steeds teenwoordig" (DB,14.03.2008), het betrekking. Hy sê : "Hieruit verstaan ek dat  'rassisme'  'n tema (is) wat 'n mens nie in Breitenbach se gereelde briewe kan miskyk nie." Impliseer dié bewering ook Die Burger   -   wat aan die Suid-Afrikaanse Perskode onderworpe is   -   wat my briewe publiseer?

Ek beskou Delport se opmerking as 'n ongetoetsde bewering en wil hom graag reghelp met sy  "drogredenasie". Met sy  "rassisme"-tema slaan Delport die bal beslis baie ver mis.

Dit is my mening dat die Afrikanervolk sigself vandag in talle samelewingsloopgrawe in sy stryd om voortbestaan bevind. Dié volk word vandag gereduseer tot 'n blote kultuurgroep tussen ander kultuurgroepe wat nié oor volkstatus beskik nie. Mede-Afrikaners werk self fluks hieraan mee.

Indien Delport nie hiermee saamstem nie, is dit sy reg, maar net so is dit ook my reg om, op grond van ontwikkelinge sedert  1994  , tot voormelde oortuiging te kom en daarvolgens te handel. My handelinge bestaan daarin dat ek gekies het vir my volk, 'n konsep wat vandag tot skeldwoord gemaak is. Gesamentlik beskik my volksgenote oor 'n volksidentiteit, en vir my is dit belangrik dat dié identiteit behoue sal bly.

Miskien moet Delport ook die  "rassisme"  in my brief,  "Meet die hede teen verlede" (DB,04.03.2008), duidelik uitwys waarin ek sê : "Hoewel nie algeheel geskei van die res van die Suid-Afrikaanse bevolking nie, wil hulle egter onderskeibaar bly en nié tot algehele integrasie gedwing word nie."

Golda Meir, voormalige premier van Israel, het gesê : "If I am not for myself, then, who will be? But, if I am only for myself, then, who am I? And, if not now, when?" Hiermee vereenselwig ek myself, en dit is ook my ingesteldheid teenoor my volk, insluitende diegene met wie ek Suid-Afrika deel.

Ek eggo Hendrik Bibault se  "Ik ben een Africaander", so ook Bart Nel se slotwoorde : "Ek is nog hy", in Van Melle se verhaal met dieselfde titel.

Die Afrikanervolk word vandag geskud en gesif, en só word ook die kaf van die koring geskei. Sou my briewe uitval as kaf, moet Delport dit as sodanig beskou en hanteer. Delport se belydenis dat ook hy tot rassisme geneig is   -   "rassisme is waarskynlik in ons elkeen"   -   getuig egter van hoop vir die toekoms.

Monday, 17 March 2008

Brieweblad is soos 'n ruitenet

Dirk Crous se brief,  "Skryf tog verstaanbaar" (DB,12.03.2008), herinner aan die gesegde : "As jy jouself uitgee vir 'n toffie, moet jy bereid wees om gelek te word."  In dié geval is ek die toffie   -   deur Crous "gelek"  en nie na smaak gevind nie. Smaak verskil, en wat nie lekker smaak nie, kan ons tog nie insluk nie.

Ek deel graag my analoë siening van Brieweblad met Crous. Vergelyk Brieweblad met 'n ruitenet bestaande uit vertikale en horisontale lyne wat 'n aantal blokruimtes oplewer. Plaas op die vertikale as  "die hoë standaard van taalgebruik en die korrektheid daarvan",  soos wat Crous dit stel   -   wat my betref ook inhoud en beredenering   -   gegradeerd vanaf onder na bo.

Plaas op die horisontale as die groot verskeidenheid van belangstellings en smake van sowel briefskrywers as  -lesers. Dié ruitinstrument leen sigself daartoe dat brieflesers hulself   -   asook briewe   -   volgens smaak iewers in 'n blokruimte langs die horisontale én vertikale as kan  "plot".  Nie alle briewe sal binne dié blok val waar 'n leser hom ge-"plot"  het nie. Hierdie briewe val dus buite die eie smaak of begripsvermoë.

Indien dié vergelykings tot dusver nie gevolg is nie, bly dit onverstaanbaar. Lesers se kennis en begripsvermoë is óók belangrike faktore wat 'n rol speel in dié Brieweblad-ruitenet.

Die openbare media in al sy vorme   -   ook in gedrukte vorm soos koerante   -   het 'n opvoedende funksie en opheffende rol in die samelewing te speel en behoort vir almal   -   vanaf hoogs-geleerdes tot net-net geletterdes   -   voorsiening te maak op dié ruitenet se vertikale as. Sou dit nodig wees, is daar woordeboeke en gespreksgenote wat geraadpleeg kan word.

'n Wenk is om dié briefskrywer(s) wat geïdentifiseer is as nié-passende in jou eie ge-"plotte"  blok, te ignoreer en so 'n brief nie te lees nie. Ná alles het elke mens immers ook 'n keuse. Vir kleinsieligheid kan daar egter nié ruimte wees nie ; dan mis ons die doel van die openbare debat, te wete (altans vir my) die uitruil van menings, standpunte en oortuigings waaromtrent ons met mekaar mag saamstem óf verskil, en terselfdertyd sodoende ook die eie siening verruim.

Dankie aan Crous dat hy sy verskil van my, humoristies hanteer   -   "vanoggend kon ek nie help om...'n lagbui te onderdruk nie"   -   deur my brief met 'n  "krismiskoek in 'n tuimeldroër"  te vergelyk. Dit roep 'n komiese beeld op, maar tegelyk ook 'n mooi voorbeeld van hoe suksesvol ons kan  "plot"  of nié  "plot" nie.

Saturday, 15 March 2008

Wyle ds. Buys nou 'n VGK-martelaar?

Ds. James Mackay se brief,  "Kerkeenheid oppervlakkig" (DB,10.03.2008), het betrekking. Hierin sê hy dat hy  "getraumatiseerd en verward gelaat is...(en) Dalk...ook kwaad"  is oor ds. James Buys se selfmoord. Verder sê Mackay dat van die  "baie beweringe...en dit wil ek glo, is dat sy onwrikbare strewe na (kerk) eenheid...een van die redes kon wees"  vir sy selfmoord. Hy sluit met die vraag : "Moes James (Buys) die prys vir die onvermoë tot kerkhervorming betaal?"

In die berig,  "Bekende kerkleier skiet hom in Kaapstad" (DB,03.03.2008), het prof. Russell Botman  "Buys se rol in die strewe na kerkeenheid besing"  en  "(ge)meen dit kon 'n rol in sy selfmoord gespeel het."  Die daaropvolgende dag berig  Die Burger  in  "James Buys"  (DB, 04.03.2008),   "Dat...die dralende eenwordingsproses...'n faktor (is) wat nie gering geskat kan word nie"  in Buys se selfmoord.

Ek is van oordeel dat enigeen sodanige mening privaat kan koester, maar om dit darem só blatant in die openbaar te stel   -   sonder énige stawende bewyse, en komende van 'n rektor van 'n universiteit (US) asook 'n predikant   -   laat 'n mens wonder.

Die suggestie dat diegene wat kerklike eenwording teenstaan óf selfs net vertraag, indirek vir Buys se selfmoord verantwoordelik gehou moet word, is verregaande. Bestaan die besef dan nie dat só 'n beskuldiging die bestaande afstand tussen die NG Kerk en die VGK tot 'n onoorbrugbaarheid kan vergroot nie? En verder, grens so 'n insinuasie   -   dat sommige wit NG Kerk-lidmate en  -predikante by implikasie aandadig aan Buys se selfmoord is   -   nie ook aan laster nie? En, sou kerkvereniging wél plaasvind en 'n NG Kerk-lidmaat óf  -predikant pleeg selfmoord, moet dit dan voor die VGK se deur gelê word?

Die inhoud van Buys se selfmoordbrief behoort sonder enige versuim openbaar gemaak te word ten einde die geïnsinueerde openbare aantygings óf te bevestig óf te weerlê. Die NG Kerk-leierskorps behoort hierdie aangeleentheid dringend te ondersoek en spoedig terugvoering aan lidmate te gee.

Ek het Buys nie geken nie, maar is dít die soort nalatenskap waarmee hy geassosieer sou wou word, naamlik om die oorsaak vir sy selfmoord aan die NG Kerk te wyt? En wat van die VGK-leierskorps self? Staan dié leiers só buite dié tragiese gebeurtenis dat hulle hul hande in onskuld kan was? Natuurlik bestaan die moontlikheid nou om van Buys 'n VGK-martelaar te maak om groter druk op kerkvereniging te plaas en dit te bespoedig.

Tuesday, 11 March 2008

Sê nou tog wat nie-rassigheid is

Henry Jeffreys se artikel, "Moenie 'n smeulende rassevlam suurstof gee" (DB,03.03.2008), het betrekking. Hierin beweer hy  "...die reënboognasie draai om versoening...die fondament...(vir) die ideaal van nie-rassigheid...(in) 'n samelewing waarin etnofascisme...geen plek het nie...(en) die taal van die vryheidstryd...'an injury to one is an injury to all', die slagspreuk bly en om "kartetse te vuur na 'hulle'...die amorfe wittes"  in belang van  "versoening en nie-rassigheid...ons historiese missie"  is.

As, waarskynlik, gestereotipeerde  "etnofascis"  en  "amorfe witte",  moet ek ruiterlik erken dat ek nie die vaagste benul het waarvan mense praat wanneer hulle van nie-rassigheid praat nie. Soms wonder ek of hulle sélf weet waarvan hulle praat.

Dit is egter so dat die betekenis van 'n woord of begrip deur die konteks waarbinne dit gebruik word, bepaal word. Die begrip demokrasie verkry telkens 'n partikuliere betekenis binne 'n liberale, sosialistiese, kommunistiese of Christelike konteks. Ek veronderstel dat dit ook die geval is met die begrip  "nie-rassigheid".

Ek kan egter alleen dié abstrakte konstruk begin verstaan indien die etimologie daarvan eers verduidelik is ; die besondere konteks waarbinne dit opereer, omlynd afgegrens is, met ander woorde wat dit alles in-  en wat dit alles uitsluit ; 'n duidelike omskrywing of definisie daarvan gegee is ; die kontekstuele spelreëls waarvolgens die kontekstueel-spesifieke nie-rassigheidspel gespeel word, bekend gemaak word ; die onderliggende aannames waarop nie-rassigheid berus, asook die mens-  en wêreldbeskouing waardeur nie-rassigheid onderlê word.

Sonder dat daar vooraf ooreengekom is met, en sonder die verskaffing en algemene bekendstelling van hierdie kontekstueel-spesifieke denkinstrumente aan gemeenskaplike taalgebruikers oor nie-rassigheid   -   wat benodig word vir 'n ondubbelsinnige en eenderse vertolking daarvan deur almal   -   gaan elkeen sy eie interpretasielaboratorium binne om dáár 'n eie nie-rassigheidsgogga te ontwerp ; met rampspoedige gevolge.

Vanweë die abstraktheid van dié begrip flous ons ons self deur te dink dat ons almal van presies dieselfde ding praat, terwyl dit beslis nié so is nie. Die ongekwalifiseerde, en dus onverantwoordelike, gebruik van die begrip  nie-rassigheid,  skep spanning wat rasse-sensitiwiteit net verder verhoog.

Diegene wat dié begrip onnadenkend gebruik, óf op grond van die valse aanname dat almal van ons presies wéét wat daarmee gesê word, staan skuldig aan juis dit wat Jeffreys bepleit : om, voorkomend, nie aan   " 'n smeulende rassevlam (verdere) suurstof (te) gee (nie)".

Hierdie artikel is dus 'n mooi voorbeeld van hoe om iemand ánders agter die deur te soek, maar om jouself (Jeffreys) daar te betrap. Jeffreys is dit derhalwe aan lesers verskuldig om die nie-rassigheidsbegrip sónder versuim, en spanning-ontlontend, te verduidelik sodat ons álmal sal weet presies wát hy daarmee bedoel.

Friday, 7 March 2008

Wanbalans in kerk se besware?

Dr. Braam Hanekom se brief, "Veel meer is aandadig" (DB,01.03.2008), verwys. Hy wys op   "die hartseer gebeure by die Vrystaatse Universiteit".  NG Kerk-lidmate vra hulself af óf die voortgesette plaasmoorde dan nie óók  "hartseer gebeure"  is nie en hoe die kerk dáárop reageer. Kom ons plaas daarom die UV-insident, plaasmoorde en die kerk se reaksie op beide, vlugtig teen die agtergrond van gebalanseerde openbare beswaarmaking.

Het die NG Kerk  "ook by monde van die moderamen van die Algemene Sinode 'n baie sterk bewoorde verklaring"   -   soos oor die UV-voorval   -   in die openbare pers oor plaasmoorde uitgereik? Hanekom vra :  "Hoe word 'n herhaling van soortgelyke insidente voorkom?"  Vra ons kerkleiers hulself dieselfde vraag af wanneer dit by plaasmoorde kom   -   traumatiese gebeure wat met lewensverlies, intense hartseer en dikwels die uiterste wreedheid gepaard gaan?

Hanekom sê  "dat enige handeling wat die menswaardigheid van medeburgers aantas, ten sterkste veroordeel moet word".  Nou vra lidmate of die kerk ook, konsekwent, sy veroordelende stem ná elke plaasmoord in die openbaar laat hoor?

Die kerk se diepe versugting, aldus Hanekom, is om 'n weg te vind  "waar al ons kinders nuut oor mekaar dink. Hiertoe wil die kerk hom graag verbind."  Wil Hanekom nie hierdie kerklike verbintenis tot 'n wegsoeke   -   is daar 'n ánder weg as die kruisweg   -   duideliker en in méér praktiese terme uitspel nie?

Volgens Hanekom wil die kerk  "sy diepe meegevoel uitspreek teenoor alle mense in Suid-Afrika wat op grond van hul velkleur vernedering en marginalisering ervaar."  Lofwaardig, ja, maar sluit dit ook slagoffers, van verskillende velkleure, van plaasmoorde in? Hanekom sê verder : "Ons (NG Kerk) sou graag wou hande vat om mee te werk aan 'n land waar hierdie situasie (UV-insident) omgekeer word."  Kan lidmate verwag dat hierdie omkeringsversugting  ook  verwys na 'n terugkeer na die onfeilbare Skrifwaarhede in sy totaliteit?

Die UV-insident, en die buitelandse reperkussies daarvan, kan nie gesanksioneer word nie ; net so óók nie die volgehoue plaasmoorde nie, met die vraag of die buiteland in dieselfde mate ook van plaasmoordinligting voorsien word.

Die vraag aan die NG Kerk is óf hy hom ook dringend en konsekwent in die openbaar uitspreek oor elke plaasmoordinsident, of nie. Sou die kerk inkonsekwent hierin wees, mag lidmate dit beslis nie ignoreer nie. Sommige ervaar rééds 'n wanbalans in kerklike openbare beswaarmaking teen onreg van watter aard ook al. Laat die kerk dus nie een ding doen, en die ander nalaat nie.

Tuesday, 4 March 2008

Meet die hede teen die verlede

Dawie se artikel,  "Kovsies wys die gevare van rassepolitiek" (DB,01.03.2008), verwys. Ek vind dit vreemd dat iemand die restant van wit Afrikanernasionalisme, met sy histories-bewese sterk vryheids-  en onafhanklikheidsdrang, kan verwar en gelykstel met rassepolitiek, en dan sommer ook die skuld vir die UV-gebeure daaraan toeskryf.

Dit verbaas my dat sommige joernaliste   -   hoewel gebind deur die Suid-Afrikaanse Persraad se kriteria van waarheid, akkuraatheid, regverdigheid en gebalanseerdheid   -   neig om hierdie kriteria nie altyd te erken en streng toe te pas nie. Dawie se artikel is 'n voorbeeld hiervan. Net omdat die VF+ nasionalisties ingestel is   -   soos die ANC ook   -   en Dawie daarvan verskil, vind hy en maak hy rassepolitiek tot slaanding.

Dawie verleen nie erkenning aan die volle historiese waarheid van die voksbewuste Afrikaner   -   en dié se volgehoue stryd om vryheid en onafhanklikheid   -   nie. Hy ignoreer Adam Tas en die vryburgers se vryheidstryd teen 'n korrupte goewerneur en amptenary ; die Republieke van Graaff-Reinet en Swellendam ; verset teen Britse oorheersing, en Slagtersnek ; die Groot Trek ; Vegkop en Bloedrivier ; die Republiek Natalia ; die Republieke van die ZAR en OVS ; die Eerste Vryheidsoorlog ; die Anglo-Boereoorlog ; die 1914-rebellie ; die Tweede Wêreldoorlog en die Ossewa-Brandwag ; die na-oorlogse bevryding van Afrika, en die ideologiese Koue Oorlog ; verraad deur voormalige Westerse bondgenote en sanksies in VN-vergadersale ; die swig voor internasionale druk  en onderhandelinge wat daarop uitloop dat die NP-onderhandelaars Cyril Ramaphosa dermate verstom dat hy sy verbasing daaroor moes uitspreek hóé maklik dié kamp voor ANC-druk en  -eise geswig het.

Tot sover die nie-ignoreerbare verlede-waarheid. Tans is wit Afrikaners, by wie die vryheids-  en onafhanklikheidsideaal steeds voortleef, aan die swart meerderheidswil uitgelewer. Laasgenoemde se leiers interpreteer en manipuleer die wêreld se sogenaamde model-grondwet na willekeur.

Dawie moenie rassepolitiek wil voorhou nie   -   dit is bloot net 'n rookskerm   -   maar ondersoek eerder die vertolking en toepassing van ons sogenaamde demokratiese Grondwet wat dikwels deur vryheidsbewuste wit Afrikaners as eensydig en anti-wit ervaar word.

Die nuwe bedeling het beslis nié vir alle wit Afrikaners   -   diegene met 'n historiese volksbewussyn   -   vryheid gebring soos wat laasgenoemde se historiese vryheidsdrang aantoon nie. Hoewel nie algeheel geskei van die res van die Suid-Afrikaanse bevolking nie, wil hulle egter graag onderskeibaar bly en nié tot algehele integrasie gedwing word nie.

Die ANC se fanatieke inmenging op alle lewensterreine van die burgery is niks anders nie as grondwetlik gesanksioneerde territoriale aggressie, en reaksie daarteen, is nié rassepolitiek nie.