Monday 17 March 2008

Brieweblad is soos 'n ruitenet

Dirk Crous se brief,  "Skryf tog verstaanbaar" (DB,12.03.2008), herinner aan die gesegde : "As jy jouself uitgee vir 'n toffie, moet jy bereid wees om gelek te word."  In dié geval is ek die toffie   -   deur Crous "gelek"  en nie na smaak gevind nie. Smaak verskil, en wat nie lekker smaak nie, kan ons tog nie insluk nie.

Ek deel graag my analoë siening van Brieweblad met Crous. Vergelyk Brieweblad met 'n ruitenet bestaande uit vertikale en horisontale lyne wat 'n aantal blokruimtes oplewer. Plaas op die vertikale as  "die hoë standaard van taalgebruik en die korrektheid daarvan",  soos wat Crous dit stel   -   wat my betref ook inhoud en beredenering   -   gegradeerd vanaf onder na bo.

Plaas op die horisontale as die groot verskeidenheid van belangstellings en smake van sowel briefskrywers as  -lesers. Dié ruitinstrument leen sigself daartoe dat brieflesers hulself   -   asook briewe   -   volgens smaak iewers in 'n blokruimte langs die horisontale én vertikale as kan  "plot".  Nie alle briewe sal binne dié blok val waar 'n leser hom ge-"plot"  het nie. Hierdie briewe val dus buite die eie smaak of begripsvermoë.

Indien dié vergelykings tot dusver nie gevolg is nie, bly dit onverstaanbaar. Lesers se kennis en begripsvermoë is óók belangrike faktore wat 'n rol speel in dié Brieweblad-ruitenet.

Die openbare media in al sy vorme   -   ook in gedrukte vorm soos koerante   -   het 'n opvoedende funksie en opheffende rol in die samelewing te speel en behoort vir almal   -   vanaf hoogs-geleerdes tot net-net geletterdes   -   voorsiening te maak op dié ruitenet se vertikale as. Sou dit nodig wees, is daar woordeboeke en gespreksgenote wat geraadpleeg kan word.

'n Wenk is om dié briefskrywer(s) wat geïdentifiseer is as nié-passende in jou eie ge-"plotte"  blok, te ignoreer en so 'n brief nie te lees nie. Ná alles het elke mens immers ook 'n keuse. Vir kleinsieligheid kan daar egter nié ruimte wees nie ; dan mis ons die doel van die openbare debat, te wete (altans vir my) die uitruil van menings, standpunte en oortuigings waaromtrent ons met mekaar mag saamstem óf verskil, en terselfdertyd sodoende ook die eie siening verruim.

Dankie aan Crous dat hy sy verskil van my, humoristies hanteer   -   "vanoggend kon ek nie help om...'n lagbui te onderdruk nie"   -   deur my brief met 'n  "krismiskoek in 'n tuimeldroër"  te vergelyk. Dit roep 'n komiese beeld op, maar tegelyk ook 'n mooi voorbeeld van hoe suksesvol ons kan  "plot"  of nié  "plot" nie.

No comments:

Post a Comment