Twee vertrekpuntvrae in die onderwys was nog altyd : Aan wie behoort die kind in die onderwys, en kan ons maar maak met die kind soos ons wil? Hierop antwoord Christenouers : Kinders is geskenke van God ; toevertrou aan ouerlike alversorging. Derhalwe kan ons nié met ons kinders maak wat óns wil nie en verg hulle ons volgehoue en volledige betrokkenheid.
Vorige Christen-geslagte het besondere erns gemaak met die opvoeding en onderwys van hul kinders op grond van hul doopgelofte - afgelê in die kerk - 'n sakrament wat sy oorsprong vind in die Ou Testamentiese besnydenis as teken van God se verbond met Abraham ; bindend ook vir sy nakomelinge.
Volgens die Christelike opvoedingsbeskouing is die ouer die primêre opvoeder van sy kind in 'n informele, funksionele en intuïtiewe huisopset (voor-wetenskaplik) met die onderwyser/es as die plaasvervanger-ouer (in loco parentis) en sekondêre opvoeder in 'n formele, intensionele en professionele skoolopset (na-wetenskaplik).
Ten einde aan die skool se onderwys en onderrig van gedoopte Christen-verbondskinders 'n Christelike karakter, gees en rigting te verseker, word die Afrikaanse Ouervereniging vir Christelike Opvoeding en Onderwys (AOV) in 1982 te Bloemfontein gestig onder leiding van die "vader" daarvan - dr. Sarel Eloff, predikant in diens van die algemene sinode van die NG Kerk, met die opdrag, opvoeding en onderwys - met die oog op meer verantwoordelike ouerbetrokkenheid by die onderwys van Christenkinders.
Van al die streeksinodes van die NG Kerk het slegs die Wes-Kaapse streeksinode hom nie ten gunste van die AOV uitgespreek nie. Destydse Nasionale Party-leiers wat in dié vereniging (AOV) 'n "bedreiging" gesien het, het, volgens dr. Eloff, 'n standpunt gehuldig van : "Indien ons dit (die AOV) nie (polities) kan beheer nie, moet ons dit vernietig." Dit ís vernietig!
In sy brief , "Tóé al gepleit vir ouerbetrokkenheid" (DB,01.09.2008), moet H.E.Franszen dus gelyk gegee word as hy sê : "...ons is ons eie grootste vyand!"
No comments:
Post a Comment