Khaki se brief, "Geen traan oor Afrikaans uitsterf" (DB,19.08.2009), verwys.
Ek bejammer Khaki vanweë sy gebrek aan onderskeidingsvermoë. Dit is duidelik dat hy nié onderskei tussen taal en sprekers nie, en gooi dus die kind mét die badwater uit.
Afrikaans synde my moedertaal, koester ek egter respek vir álle tale, Engels inbegrepe. Vanweë historiese taalervaringe met die Engelse - met hul imperialistiese taalingesteldheid - is baie Afrikaanssprekendes om dié rede vervreem van Engelssprekendes, maar nie noodwendig van die Engelse taal nie.
Afrikaanssprekendes is gewillig om Engels te praat, lees en skryf ; bewys van 'n teenoorgestelde taalgesindheid as dié van die taalimperialiste. Ons glo in die spreekwoord : Soveel tale as jy kan, soveel male is jy man (mens).
Indien Khaki dié land se tragiese taalgeskiedenis ken, sal hy weet dat juis die Engelse taal sedert 1806 - tot selfs nog ná 1910 - by geleenthede op Afrikaanstaliges afgedwing is in howe, landsadministrasie, skole en selfs Afrikaanse kerke deur middel van wetgewing, met die doel van volslae verengelsing.
Tesame met ons mense wat op slagvelde en in konsentrasiekampe onder Engelse hand gesterf het, is ook taalstemme daarmee gestil. Geen wonder dat Engels die internasionale reputasie van 'n "killer language" verwerf het nie.
Namens dié Afrikaanssprekendes wat Khaki in die verlede benadeel het, bied ek - ter wille van die taal-eer van Afrikaans - my verskoning aan hom. Ek verseker hom egter dat sy ervaring nie 'n druppel aan die emmer is van ons ervaring van die Engelse kant af nie.
My moedertaal is my geboortereg. Vernietiging van enigeen se taal is niemand se reg nie.
No comments:
Post a Comment