Die Afrikanervolk en Afrikaans is onskeibaar verwant. Volk en taal het gedurende ineengestrengelde ontwikkelingsfases op Afrika-bodem gegroei totdat die volk wasdom bereik en uitdrukking daaraan gegee het in die Afrikaanse taal as amptelik erkende spreek- en skryftaal, kanseltaal, regstaal en wetenskapstaal. Geeneen van die inheemse tale kon hom dit nadoen nie.
Vele Afrikaanse taalprestasies se grondslag is deur lede van die Afrikanervolk gelê. Met dié aanspraak word taalbydraes van buite die Afrikaner-volkskonteks geensins ontken nie. Oor etlike geslagte het die bydraes van begaafde Afrikaner-volksgenote by wyse van dagboeke, preekbundels, geskiedskrywing, prosa, poësie en dergelike meer, Afrikaans - volgens spelwyse, skryfstyl en idioom van die tyd - vir die nageslag op skrif vasgelê en as kosbare erfenis nagelaat.
Taalbedreiging word nie emosieloos en passief benader nie. Ek wil beweer dat die vurigste ywer om die behoud van Afrikaans - en die strewe na die behoud van taalstandaarde - vanuit besorgde Afrikaner-volksgeledere kom. Synde 'n volkstaal, sal Afrikaans slegs sterf indien die Afrikanervolk sterf. Hiervan is ons taalvyand terdeë bewus, daarom 'n tweeledige aanslag op taal én volk!
Vernietiging van Afrikaans - waarin die Afrikanervolk se geestesgoedere opgesluit is - moet lei tot die vernietiging van dié volk. Mede-Afrikaanssprekendes doen tans 'n beroep op die Afrikanervolk om sy volkstaal en -karakter ondergeskik te stel aan die bedenklike transformasieproses, sodat dit kan inskakel by die grys, konformerende mensemassa.
Met die gesins- , skool- en kerklike lewe het die transformasieproses reeds ver gevorder, maar die laaste ontbrekende spyker in die volksdoodkis - getransformeerde Afrikaans - ontbreek nog.
Op die vooraand van die Anglo-Boere-oorlog sê president Kruger : "Dis nie die stemreg wat julle wil hê nie, maar my land." Vandag sê wit Afrikaners : "Dis nie net ons taal wat julle wil vernietig nie, maar ook ons volk."
Sterf taal, sterf volk.
No comments:
Post a Comment