Thursday 25 August 2011

"Afrikanisering" van predikante-opleiding?

Vanuit die media (Radio Pretoria,12.08) word berig van 'n teoloog wat die standpunt huldig dat die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria moet "afrikaniseer". As 'n universiteitsfakulteit aan 'n staatsuniversiteit is dit seker te verwagte dat hierdie fakulteit in dieselfde rigting as die heersende regeringsideologie sal beweeg en nie langer, soos vanaf 1917 reeds, alleen diens aan Afrikanerkerke mag lewer nie.

Wat word bedoel met die "afrikanisering" van 'n teologiese fakulteit? Hoe sal dit binne so 'n "afrikaniseringspot" lyk? Dié deksel word reeds effens deur relevante uitsprake gelig. Ek noem enkeles.

In sy boek, "Dominee, Are You Listening to the Drums?", sê A.S.van Niekerk: "...the theologies...of Africa should also be allowed to play a role in shaping a truly South African theology...(which) aims at Black liberation, rejects Western standards and (works) for  'a totally new social order' ...(because) the desperate suffering of Blacks are to be blamed not only on the Whites but also on  ' the White man's God '."

Dr.Wiets Beukes, afgetrede Volkekundedosent aan die UP, sê dat, vir swart mense, godsdiens en politiek mekaar aanvul; afwykende Bybelvertolkings kom voor; die Westerse kerkliturgie moet by swart behoeftes aanpas, en daar is 'n onwilligheid om Christelike waardes te aanvaar.

Vroeër reeds is berig (DB,19.03.09) dat kerkleiers wat hulle te Mafikeng om Zuma geskaar het, belowe het "...om die ANC se boodskap met dieselfde ywer te versprei as waarmee hulle God se Woord verkondig."

In die tydskrif, "Juig!"(22.07.10), word berig dat Tutu "...nou al male sonder tal Bybelse konsepte soos geestelike weergeboorte, redding deur Jesus Christus alleen, sondebelydenis en straf as absolute twak afgemaak (het)".

'n Ononderhandelbare nee! vir die "afrikanisering" van teologiese opleiding. Geen wonder dat stemme reeds opgaan dat Afrikanerkerke uiteindelik 'n eie seminarie vir predikante-opleiding sal moet oprig.

No comments:

Post a Comment