'n Britse dagblad, die "Daily Mail" (29.07), berig dat talle kinders by skooltoetrede nie hul eie name ken nie, omdat ouers nie tuis met hulle praat nie. Dié kinders se kommunikasievaardighede is uiters swak en word aan ouers se nie-belangstelling om met hul kinders te speel, praat of storielees toegeskryf. Ook die TV en internet dra by tot dié agteruitgaande ouer-kind kommunikasie, rampspoedig vir suksesvolle onderrig-leer.
As kinders nie eers hul eie naam ken nie, hoe sal hulle die Naam ken van dié Een met wie hulle ouers nie meer kommunikeer nie en wat deur Sinterklaas verdring is? Hierdie vraag tref met ontsteltenis by die aanskoue van die mensemassa in hul duisendtalle op die strate, pleine en lang toue by besienswaardighede in stede soos London, Parys en Amsterdam. Dit herinner my aan die boektitel, "Der Untergang des Abendlandes" van Oswald Spengler, waaruit ons Duitse skoolhoof, Johann Ulrich Hahn, ons in die laat vyftigerjare van die vorige eeu grepe meegedeel het tydens ons Wiskundeperiodes.
Robert Pigott, 'n godsdiens verslaggewer, berig uit Amsterdam dat die Nederlanders Christenwees "herbedink" vir 'n twyfelende wêreld. Hy verwys na ds. Klaas Hendrikse wat deel is van die Protestantse Kerk van Nederland (PKN) wat sê: "Maak die meeste van die aardse lewe, want dit is die enigste lewe. Ek glo nie in 'n na-aardse lewe nie." Hy glo ook nie in God as 'n Bo-natuurlike Wese nie. Die Jesusverhaal is bloot 'n mite, en so ook Sy opstanding en hemelvaart. Een uit elke ses leraars van die PKN is òf agnosties òf ateïsties. God is net 'n "somethingism", en Nederland die laboratorium vir die "nuwe Christelikheid".
Maar wat van my eie land? Dan besef ek dat die toenemende korrupsie, verkragting, misdaad en moord simptome is van ons eie geestelike verduistering, agteruitgang en verval.
No comments:
Post a Comment