Friday 5 August 2011

Wat ons saai, sal ons oes

Anne Graham, dogter van die bekende evangelis, dr.Billy Graham, het ná die "Twin Tower"-terreuraanslag van 11 September 2001 'n joernalis se vraag waarom God dan kon toelaat dat so iets gebeur, soos volg beantwoord: Baie jare al sê ons vir God om uit ons skole, ons regering en ons persoonlike lewens pad te gee. Bybellees en gebede tot God is in skole verbied. Lyfstraf is afgeskaf omdat dr.Benjamin Spock so gesê het. Skole weier om wandragtiges te dissiplineer want dit beteken negatiewe publisiteit vir 'n skool. Aborsies op skoolmeisies, sonder ouers se medewete, word uitgevoer. Skole voorsien kondome aan skoolseuns ook sonder ouers se medewete.

Pornografiese tydskrifte verskyn onder die voorwendsel van bewondering vir die vroulike liggaam. Hierop volg ook kinderpornografie. Die vermaaklikheidsbedryf voorsien naakfilms asook musiek wat dwelms, verkragting, moord, selfmoord en satanisme propageer. Die koerante word geglo, maar nie die Bybel nie.

Skielik verstaan ons nie waarom kinders gewetenloos is, nie tussen reg en verkeerd kan onderskei en vreemdelinge, hul klasmaats en hulself vermoor nie.

Anne Graham sluit deur te sê: Wat ons saai, sal ons oes.

Voorgemelde is ook ons voorland indien persone soos George Claassen, Hans Pietersen en dr. Jurie van den Heever hul sin met die onderwys van ons kinders kan kry. Claassen lewer kommentaar, "Ligpunt in Afrikaners se dikwels donker denkwêreld" (DB,01.08), op Pietersen se boek, "Die vrese van ons vaders:Geloof, onderrig en die Afrikanerkind". Claassen laat sy ontsteltenis blyk dat Afrikanerkinders so onkundig is oor die "waarheid van wetenskaplike bevindings" (lees: dat hulle die evolusieleer verwerp). Voorwoordskrywer, Jurie van den Heever, sê: "...dat jy nie in 'n god hoef te glo nie."

Ons kinders op die altaar van hierdie denke offer en hulle oopoë hel toe stuur? Nog nooit!

Anne Graham is reg: Wat ons saai, sal ons oes.

No comments:

Post a Comment