Om nie op Kupido se "Swartes kreun nog elke dag onder juk" (DB,17.08) te antwoord nie, is om sy skewe mening te sanksioneer. Kupido gebruik Kadalie se artikel (DB,16.08) om daarmee aan sy wrewel, vooroordeel en ongegronde kritiek teen wittes uiting te gee, hulle wat nog grootliks daarvoor sorg dat Suid-Afrika nie in hongersnood gedompel word nie terwyl dié voedselproduseerders stelselmatig uitgemoor word.
Kadalie sê: "Die aandrang op welvaartsbelasting vir wittes is ten eerste rassisties en ten tweede onverantwoordelik..." Sou ék 'n verband lê tussen Kupido se standpunt en rassisme, sal ek sekerlik van rassisme beskuldig word (omdat ek wit is), maar nou het Kadalie dit gesê. Dit gaan ten diepste hier oor welvaart en die verwerwing (rykdom) of die nie-verwerwing (armoede) daarvan.
Die verskil tussen ryk en arm volkere is nie hoe oud 'n volk is nie. Indië en Egipte is elk meer as 2000 jaar oud en bly steeds relatief arm. Daarteenoor is lande soos Kanada, Australië en Nieu-Zeeland veel jonger lande wat ontwikkeld en welvarend is. Rykdom berus ook nie net op natuurlike hulpbronne nie. Japan is 'n land met 80% bergagtige gebied wat grondstowwe invoer en verwerk wat van hom die tweede grootste ekonomie ter wêreld maak. Wat maak dus die verskil?
Die antwoord lê in die ingesteldhede van 'n volk wat oor eeue heen deur opvoeding en kultuur vasgelê is tot volksgewoontes. Welvarende volke word gekenmerk deur werksetiek, integriteit, verantwoordelikheid, respek vir wette en regulasies, liefde vir werk, spaarsamigheid en belegging, die wil tot produktiwiteit en stiptelikheid. Arm volkere is arm omdat hierdie beginsels nie deel van hulle bestaan vorm nie.
Kupido, pas hierdie welvaartsbeginsels toe op die rasseverskeidenheid in ons land, en kyk of jy nie lig begin sien nie. Kadalie beskik oor sodanige insigte waarvan Kupido nog nie eers kon droom nie.
No comments:
Post a Comment