Tuesday 23 August 2011

Wolf in skaapsklere

Die berig, " 'Kill the Boer' op Kovsies" (DB, 18.08), verwys. Dié ANC-gesanksioneerde haatgevulde rassistiese slagspreuk is oorbekend. Minder bekend, dalk, is die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) se volgehoue betrokkenheid by die ANC-revolusie. So word berig dat "Sasco, die Jong Kommuniste-liga en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in die Vrystaat honderde van hulle lede met busse na die kampus aangery het."

Die SARK in bondgenootskap met kommuniste? Ja, hulle streef dieselfde doel na. Ook die NG Kerk is 'n lid van die SARK en twee van sy lidmate in hoë posisies daarby betrokke: Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, is vise-president van die SARK en me. Rinel Hugo, moderatuurslid van die algemene sinode, 'n lid van die SARK nasionale uitvoerende raad.

Gegrond op inligting verskaf deur prof. J.S.Malan, skryf 'n Nederlander soos volg: "Een van de meest schokkende ontwikkelingen in de oecumene in Zuid-Afrika is de aanmoediging van voorouderaanbidding en andere heidense rituelen in de kerken door de Zuid-Afrikaanse Raad van Kerken." "Beeld" van 27.09.07 het berig dat ds. Andre Bartlett, NG-predikant en voorsitter van die Gautangse tak van die SARK, 'n groep ANC-lede na Suid-Tanzanië vergesel het om die geeste van gestorwe ANC-vryheidsvegters  vandaar "huis toe te bring".

Op sy beurt is die SARK lid van die internasionale "moederverleier" van kerke, die Wêreldraad van Kerke (WRK), waarvan prof. A.M. Murray vroeër reeds gesê het dat dit 'n "kommunistiese frontorganisasie" is. In 1977 sê ook wyle dr.Koot Vorster dat "geen woord van troos of steun gaan (vanaf die WRK) uit na die Christene wat onder die Rooi Draak uitgedelg word nie." Beide die SARK (nasionaal) en die WRK (internasionaal) werk saam om "in die naam van God ook alle verskeidenheid weg te vee".

Beide WRK en SARK is wolwe in skaapsklere.

No comments:

Post a Comment