My brief, "Godslastering op Kletskerk bevorder" (DB,26.09), het dusver reaksie van "Gelowige", Kappie, Jaco (DB,27.09) en Adonis (DB,28.09) ontlok. "Gelowige" beskuldig my dat ek "veroordelend teenoor ander se menings staan" en my behoort te skaam vir my "geestelike onverdraagsaamheid (want) elkeen het sy reg op 'n opinie..." Indien "Gelowige" met "ander se menings" en "elkeen het sy reg op 'n opinie" bedoel dat sulke "menings" en "opinies" ook toelaat dat godslasterlike dinge van Christus gesê word, dan word die protestant in my wakker en verdedig ek die Seun van God. As dit vir "Gelowige" "geestelike onverdraagsaamheid" is, laat dit dan vir hom/haar so wees.
As my protestants-Christelike beswaarmaking oor die godslasterlike aantasting van die heiligheid en eer van Jesus Christus vir Adonis 'n "obskure agenda" en "eierdans" van my kant is, dan sê dít vir my baie van Adonis self. Jaco van "Israel Visie" se opmerking, "Tog so voorspelbaar", is nie so duidelik nie, tensy hy daarmee bedoel dat die bespottende en godslasterlike dinge wat van Christus gesê sal word, reeds in die Bybel voorspel word.
Kappie sê dit "sou dalk regverdig en billik wees (om te) verduidelik wie Kletskerk is en waarvoor (dit) staan." Kappie, in my brief het dit nie oor Kletskerk gegaan nie, maar wel oor Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die NG Kerk se Kerkbode-tydskrif, wat publisiteit verleen aan godslasterlikhede. Hoewel belangrik, is Kletskerk en ateïs Van den Heever hierin sekondêr. Hoofsaak is Oosthuizen, Kerkbode en NG Kerk, en dan veral laasgenoemde se standpunt - indien hy een het - oor sy Kerkbode-nuusredakteur se betrokkenheid by godslastering. Kletskerk is bloot die mondstuk vir Van den Heever se godslastering deur Oosthuizen geakkommodeer.
Oosthuizen én die NG Kerk behoort te verduidelik hoe hulle eersgenoemde se gelyktydige betrokkenheid by Kerkbode én Kletskerk-godslastering verantwoord. Jakobus (2:11) sê fonteine lewer nie terselfdertyd vars- én brakwater nie.