Sunday 25 September 2011

SAPD-knoeisyfers lank reeds vermoed

Die voorbladberig, "Polisie se leuens oor vuurwapens" (DB,24.09), verwys. Vir geruime tyd bestaan daar vermoedens hieromtrent wat nou bevestig is. Wat ook al die beweegredes vir dié SAPD-korrupsie, bly dit 'n feit dat 'n gedeelte van ons nasionale bevolking as't ware deur die SAPD van wapens voorsien is, terwyl 'n ander gedeelte van die bevolking deur hulle ontwapen is. So dra die ANC by tot verdere rassespanning en -polarisasie. Dit grens aan verraad teen ons burgerlike samelewing. Só word verraderlike ANC-"versoening" dan ook ontmasker.

Hierdie is 'n aangeleentheid wat nie ligtelik opgeneem kan word nie, aangevul deur 'n klimaat deur Zuma en Malema geskep met hul "Bring my masjiengeweer"- en "Kill the Boer"-liedjies. Kan wittes hul vermoedens en agterdog verkwalik word in die lig van plaasmoorde sowel as stedelike roof en geweld waarvan die voorkomsfrekwensie daarvan doelbewus deur SAPD-statistiek na willekeur gemanipuleer word?

Wie, dink die ANC, flous hy? Beslis nie almal nie; dalk wel 'n meerderheid van goedgelowige wittes wat krampagtig bly vasklou aan ANC-"demokrasie". Juis in laasgenoemde lê die tragiek opgesluit vir die uiters onsekere voortbestaan van wit Suid-Afrikaners in hierdie land, te wete die algehele ontkenning van die groot gevaar waarmee hulle daagliks saamleef.

Wie ook al mag dink dat die SAPD-vuurwapenwurmblik nou heeltemal oopgemaak gaan word om te wys op hoeveel rooftogte reeds uitgevoer en moorde met potensieel SAPD-verdwene vuurwapens gepleeg is, leef in 'n gekkeparadys. Forensies is dit wel moontlik, maar die wil, in nasionale belang, ontbreek om dié wurms te vermorsel. Sodanige statistiek sal beslis weerhou word uit vrees vir nasionale paniek asook ons verdere verswakkende beeld in die buiteland.

Hierdie onthulling van korrupte SAPD-leuensyfers, vanaf Selebi na Cele deur alle range tot op SAPD-grondvlak, was te verwagte; uiteindelik word leuens deur waarheid agterhaal. Dié SAPD-knoeisyfers is lank reeds vermoed.                   (ngn)

No comments:

Post a Comment