Tuesday 13 September 2011

Moenie dat begrippe jou mislei nie

Noag het die Ark gebou in opdrag van God. Almal wat oor dié konstruksiewerk vrae gevra het, wou hulself disnis lag vir Noag se antwoorde. Waarom? Sy antwoorde was totaal absurd en prakties onmoontlik. Vir hulle het Noag "onsin uitgedink". Die Titanic vertrek op haar nooiensvaart oorsee; na bewering onsinkbaar. Diegene wat dié aanspraak bevraagteken het, is waarskynlik òòk van "onsinnige denke" beskuldig. Waarom? Dit was tog onmoontlik dat dié skip kon sink!

Met hierdie voorbeelde probeer ek aantoon hoedat die, menslik beoordeelde, onmoontlike wel dramaties omgekeer is tot gerealiseerde werklikheid. Beide voorbeelde toon ooreenkomste, hoewel nie identies nie. In die Ark se geval was die vraestellers tegelyk selfversekerde spotters. In die Titanicgeval word die vraestellers egter bespotlik gemaak.

In my brief, "ANC-manifes dalk oorlogsverklaring" (DB,08.09), vra ek: "Is die NDR-'manifes' (Nasionale Demokratiese Revolusie) nie die ANC se eensydige 'oorlogsverklaring' teen alle anti-ANC burgerlikes nie?" Hierop antwoord Alwyn du Plessis: "Die antwoord is 'n ongekwalifiseerde néé. Ek kan nie glo dat sulke onsin uitgedink word nie" (DB,09.09) - 'n bespotlikmakende antwoord op die "Titanic"-vraag.

Enkele opmerkings: 1.Ek het nie beweer die NDR is 'n oorlogsverklaring nie, maar wel, in die lig van die talle plaasmoorde, dié vraag gestel. 2. Du Plessis het òf nie die NDR-dokument gelees nie, òf hy onderskryf dit "ongekwalifiseerd", 'n dokument wat, "pilversuikerd", onteenseglik daarop dui dat Suid-Afrika fasegewys tot 'n tipies kenmerkende sosialistiese Afrikastaat omskep gaan word. 3. Sosialisties-kommunistiese revolusies verloop nie bloedloos nie; NDR-geskepte verwagtinge is klimaatbereidend daartoe. 4. Onthou Du Plessis nog die voormalige kommunistiese Oos-Duitsland, bekend as die Duitse Demokratiese Republiek (DDR), en hoedanig sy burgers behandel is agter die Berlynse Muur en Ystergordyn? Diegene wat aan dié "demokrasie" wou ontsnap, is summier geskiet.

Die NDR is 'n Nasionaal Sosialistiese Revolusie (NSR), verskuild agter "demokrasie". Moenie dat begrippe jou mislei nie.

No comments:

Post a Comment