Friday 23 September 2011

NGK-nuusredakteur moet verduidelik

Hierdie skrywe is 'n regstelling van 'n vorige skrywe, "NG Kerk se KBA is mondstuk vir ateïs", waarin gesê is dat Jurie van den Heever se "Quo Vadis: 'n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA" op die NG Kerk se Kerkbode Aanlyn (KBA) gepubliseer is. Dit is nie korrek nie. Dit is nie daarin gepubliseer nie, maar wel in "Kletskerk" waarvan Jean Oosthuizen   -   tegelyk die NG Kerk se Kerkbode-nuusredakteur   -   die webmeester is. Hiermee dus verskoning aan enigeen wat, vanweë 'n misverstand, moontlik deur dié skrywe benadeel mag voel.

 
Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die NGK-mondstuk, "Kerkbode", akkommodeer die ateïs, dr. Jurie van den Heever, op die webblad, "Kletskerk", om gal te braak teen Christus en Sy kerk. Wat beoog Oosthuizen hiermee   -  geloofsversterking van NGK-lidmate, of geloofsverdagmaking in aansluiting by die huidige liberale teoloë?

Wie is Van den Heever? Hy is 'n Stellenbosse dosent, mede-aanbieder van die Sondagoggendse RSG-program, "Hoe verklaar u dit?", en wat graag sy evolusionistiese oortuigings van tyd tot tyd met "Die Burger"-lesers deel.

Wat sê Van den Heever, onder meer, in sy "Quo Vadis: 'n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA", op "Kletskerk" (11.08) van Jean Oosthuizen? Hy beweer dat dit vandag "allerweë erken (word) dat die Bybel deur mense geskryf is (en) voorgehou (word) as 'n goddelikgeïnspireerde teks (wat) dit beslis nie is nie... Op grond van al hierdie (navorsings-) inligting sal die gereformeerde kerke uiteindelik oop kaarte moet speel en erken dat groot dele van die Bybel verkeerd vertolk is..." Deur watter "geestelike dampkring" is dié navorsing geïnspireer?

Van den Heever sê lidmate is nie meer tevrede met die tradisionele dogma  -  deur mense geskryf  -  en wat as goddelike uitsprake "opgedis" word nie. Lidmate vra dan glo "ernstige vrae rondom die persoon van Jesus". Hy sê: "...ingeligte lidmate weet reeds dat Jesus nie die Seun van God was nie, nie uit 'n maagd gebore is nie, nie ter helle neergedaal het nie, nie uit die dood opgestaan het nie en beslis nie opgevaar het na die hemel nie. Hy sal gevolglik ook nie daarvandaan kan terugkeer nie." Hy verwys na "...die mite wat rondom die persoon van Jesus in stand gehou word."

Hiermee verdra, akkommodeer en bevorder Oosthuizen godslasterlikhede. Hoe bevorder dit Gods Koninkryk? Hy is NGK-lidmate 'n verduideliking verskuldig.

No comments:

Post a Comment