Saturday 3 September 2011

Is die ANC se NDR 'n oorlogsverklaring?

Die berig, "Oupa (70) oudste Kanaal-swemmer" (DB,02.09), voer my gedagtes terug na vroeg-Julie toe ons met 'n P&O-veerboot van Dover na Calais oor die Engelse kanaal gevaar het. Tydens dié heenvaart vra ek myself af hoeveel duisende Britse, en Geallieerde, soldate tydens twee wêreldoorloë oor dié kanaal na hul dood op Europese slagvelde gevaar het.

Op die Vlaams-Belgiese slagvelde het militêre begraafplase, soos dié by Tyne Cot met sy 12 000 Geallieerde soldategrafte   -   baie slegs met die grafskrif: "Known Unto God"   -   die wrede werklikheid van oorlogvoering beklemtoon. Onbeskryflik wrede tonele het hul in die modderdeurdronge velde in die Passchendaele-omgewing van Vlaandere afgespeel. Gesneuwelde soldate is in bomgate toegegooi, net om weer 'n dag of wat later deur volgehoue bombardemente in flarde daaruit geskiet te word. Die oorlogsmuseum in Ieper (Ypres) beeld die wreedheid, lyding, tragiek en futiliteit van oorlogvoering treffend uit.

Ongeag die wreedheidsintensiteit van oorlog, bly die resultaat dieselfde: dood, intense hartseer en verwoestende verliese (korttermyn), maar ook bitterheid en wraakgedagtes lank na vredesluiting (langtermyn), 'n resep vir gespanne betrekkinge, toekomstige konflik en nie-versoening.

Op die terugvaart van Calais na Dover is my gedagtes by my eie land, Suid-Afrika. Afrikaners het in twee oorloë teen Groot Brittanje geveg, groot verliese en uiterste ellende beleef (korttermyn), en nog het dié wonde nie heeltemal genees nie (langtermyn). My gedagtes kring uit na die wreeds-denkbare plaasmoorde   -   ook in stedelike gebiede   -   wat plaasvind. Vir my dui dié moorde op lae-intensiteit oorlogvoering. 

"Normaalweg" is 'n oorlogsverklaring 'n parlementêre besluit namens 'n volk en openlik bekend. Daar heers egter 'n "onverklaarde oorlog" in Suid-Afrika en wat nie openlik aan die buitewêreld bekend is nie. En nou die vraag: Is die NDR-"manifes" (Nasionale Demokratiese Revolusie) nie die ANC se eensydige "oorlogsverklaring" teen alle anti-ANC burgerlikes nie? En al die mooi praatjies van versoening blote huigelary en leuentaal?

No comments:

Post a Comment