Tuesday 20 September 2011

NG Kerk se KBA is mondstuk vir ateïs

Watter vertolking moet ons heg aan die NG Kerk se Kerkbode Aanlyn (KBA) wat publisiteit verleen aan 'n ateïs se anti-Christelike galbraking teen Christus en Sy kerk? Watter doel moet sodanige godloënende inset dien? Dra dit by tot NG Kerklidmate se geloofsversterking, of bevorder dit geloofsverdagmaking soos deur die liberale teoloë subtiel gepropageer?

Dié ateïs-skrywer is dr. Jurie van den Heever, Stellenbosse dosent, mede-aanbieder van die Sondagoggendse RSG-program, "Hoe verklaar u dit?", en wat ook graag sy evolusionistiese oortuigings met "Die Burger"-lesers deel.

Wat sê Van den Heever, onder meer, in sy "Quo Vadis: 'n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA", op KBA (11.08) soos gepubliseer deur Jean Oosthuizen, bestuurder van KBA? Hy beweer dat dit vandag "allerweë erken (word) dat die Bybel deur mense geskryf is (en) voorgehou (word) as 'n goddelikgeïnspireerde teks (wat) dit beslis nie is nie... Op grond van al hierdie (navorsings-) inligting sal die gereformeerde kerke uiteindelik oop kaarte moet speel en erken dat groot dele van die Bybel verkeerd vertolk is..." Vanuit watter "geestelike dampkring" kom dié (navorsings-) inligting?

Van den Heever sê lidmate is nie meer tevrede met die tradisionele dogma   -   deur mense geskryf   -   en wat as goddelike uitsprake "opgedis" word nie. Lidmate vra dan glo "ernstige vrae rondom die persoon van Jesus." Hy sê: "...ingeligte lidmate weet reeds dat Jesus nie die Seun van God was nie, nie uit 'n maagd gebore is nie, nie ter helle neergedaal het nie, nie uit die dood opgestaan het nie en beslis nie opgevaar het na die hemel nie. Hy sal gevolglik ook nie daarvandaan kan terugkeer nie." Hy verwys na "die mite wat rondom die persoon van Jesus in stand gehou word."

Hiermee verdra, akkommodeer en bevorder KBA godslasterlikhede. Oosthuizen moet sê hoe dit Gods Koninkryk bevorder. Hy is NG Kerklidmate 'n verduideliking verskuldig.

Let wel: Omdat daar enkele foute in dié skrywe voorkom, is dit reggestel met 'n skrywe op 23-09-2011.

No comments:

Post a Comment